Jy hoef net rooibokke dop te hou om te weet watter tyd van die jaar dit is. In Februarie verlaat die volwasse rooibokrammetjies (4 jaar en ouer) hulle vrylopertroppe en vorm tydelike weigebiede teen die einde van April. Hulle merk die gebiede met mishope, kry afskeidings op hulle voorkop en ’n mens hoor hulle brul- en hoesgeluide deur die nag. (Ek moet gereeld gaste oortuig dat die “brul” van ’n bokkie kom en nie een of ander kwaai roofdier nie.)

Troppe ooie is nie territoriaal nie en beweeg vrylik tussen die ramme se gebiede. As ’n trop ooie aankom, doen die rammetjies hulle bes om die skoner geslag daar te hou en te paar. Dis uitputtende werk en die dominante rammetjie verloor gewoonlik redelik gou sy posisie. Dit kan dan gebeur dat ander rammetjies die gebied se leier uitwerk; hy moet dan noodgedwonge aansluit by die ander troppe vryloperrammetjies wat nie aanteel nie. Ná die bronstydperk verlaag die drang na territorialiteit en sluit die rammetjies weer by die vrylopers aan – hier is meer oë en ore, wat groter beskerming bied as ’n enkelinglewe.

Van November af lam die ooie ná ’n sewe maande lange draagtyd. Daar’s ’n wanpersepsie dat ooie fetusse kan dra tot wanneer die toestande gepas is. Dis onwaar: Geen dier het beheer oor die groeitempo van ’n ongebore fetus nie. Die lammetjies word binne weke van mekaar gebore en die bos kry dus behoorlik lewe in November en Desember. Dit skep natuurlik ’n feesmaal vir roofdiere, maar omdat daar in dié tyd so baie prooi beskikbaar is (en die mark dus as ’t ware oorversadig is!) bereik baie van die jong bokke tog halfvolwassenheid en kan dan roofdiere beter ontwyk.

Die lammetjies word binne weke van mekaar gebore en die bos kry dus behoorlik lewe in November en Desember

Alles van jakkalse tot leeus vreet rooibokke en daarom het die bokkies ’n paar flink planne in plek om te oorleef. Die trop het eerstens ’n kollektiewe opsporingsdiens: As ’n bok ’n roofdier raaksien, sal hy die res van die trop waarsku. Die trop spat ook uit mekaar as iets hulle die skrik op die lyf jaag en verwar die roofdier. Mense glo die klier agterop die bokke se agterbeen (gemerk met ’n swart kolletjie op hulle “enkel”) skei ’n reuk af, wat die trop help om mekaar weer te vind ná ’n aanval.