Kul jou hier, kul jou daar… watter een is giftig?

Net spioene mag mense opsetlik bedrieg. Die res van die mensdom beskou sulke gedrag as oneties en bloot slegte maniere. Wel, hierdie kullery is nie net tot mense beperk nie – ’n wye verskeidenheid diere, van soogdiere tot ongewerweldes, gebruik dit ook. Die skoenlapper waaroor ontelbare gedigte, liedjies en feëverhale al geskryf is, is een van die mees bedrieglike skepsels. Maar anders as mense wat kul vir eie gewin, doen skoenlappers dit om te oorleef.

Skoenlappers begin hulle lewe as ruspes wat plante vreet. Party van hierdie plante is giftig. Die ruspe is wel immuun teen die gifstowwe, maar hulle raak dan self giftig – as ruspes en as volwasse skoenlappers. Die uiteinde is dat hulle sleg smaak en soms dodelik is vir roofdiere. En hulle is glad nie skaam oor dié eienskap nie. Hulle het meestal helder kleure, dikwels in ’n kombinasie van swart, wit en rooi. Hulle vlieg ook stadig en doelgerig om nóg meer opvallend te wees – dié makkers wíl raakgesien word.

Melkbosskoenlappers is bekend hiervoor. ’n Jong en onervare voël sal byvoorbeeld probeer om so ’n skoenlapper te vang, maar besef baie gou dit is nie bedoel om gevreet te word nie. So word een skoenlapper opgeoffer om die les te leer, maar vir die res van die voël se lewe sal hy enigiets wat soos dié skoenlapper lyk, vermy.

Ander slim skoenlappers het hieruit geleer en boots dieselfde gedrag na, al is hulle nie giftig of onsmaaklik nie. Dit word Batesnabootsing genoem (na die Britse natuurkundige wat dit eerste beskryf het). Hulle boots die kleur- en vlugpatrone van giftige spesies na om roofdiere te fnuik.

Op die foto is drie giftige spesies aan die linkerkant, van bo na onder: die melkbosskoenlapper, die monnik, en die ouheks. Die nabootsers is aan die regterkant. Die boonste skoenlapper se noemnaam is heel gepas die na-aper en die onderste twee is twee soorte bontvalsrooitjies.