Alle mak diere het ’n wilde herkoms. Selfs beeste stam af van wilde bevolkings in Europa of Indië. Maar ’n paar duisend jaar gelede was die lewe nie so maklik soos vandag nie. Diere moes ’n doel gehad het en hulle kos verdien. Tussen 3 000 en 6 000 jaar gelede het die antieke Egiptenare begin om wilde katte mak te maak, waarskynlik om knaagdiergetalle in toom te hou.

Dit is ook moontlik dat die katte self nader aan menslike vestings getrek het en dat dié wat meer verdraagsaam teenoor mense was, het al nader aan hulle begin bly en uiteindelik mak geword. Wat ook al die rede is, dit was die voorvaders van vandag se huiskatte. 

Tussen 3 000 en 6 000 jaar gelede het die antieke Egiptenare begin om wilde katte mak te maak,...

Oor die jare heen het mense die “vreemde” katjie in ’n werpsel gekies, dikwels met een mensagtige of oulike eienskap. Dié soort uitsoek het gesorg vir ’n groot verskeidenheid in die kleurvariëteite van huiskatte wat ’n mens vandag kry. 

Hoewel vaalboskatte steeds relatief algemeen is dwarsdeur Suider-Afrika, word hulle bewaring bedreig deur die teenwoordigheid van mak katte. Omdat die spesies so na aan mekaar verwant is, benadeel kruisteling die genetiese integriteit van die wilde bevolking. Wees op die uitkyk vir die volgende kenmerkende eienskappe in ’n suiwer vaalboskat, wat afwesig is by hibriede katte: langer bene en ’n oranje kleur agter die ore. 

Net soos jou kietsie by die huis, slaap hulle die dag om en is hulle meestal aktief in die nag. ’n Vaalboskat in Kenia is per radio dopgehou en het ’n gebied van 160 ha as tuiste gebruik. 

Soos ’n mens kan verwag, vreet hulle meestal knaagdiere, maar wanneer dié voedselbron skaars is, pas hulle maklik aan en jag ook voëls, reptiele en selfs ongewerweldes.