Nie net is hy die grootste landsoogdier ter wêreld nie (’n volwasse bul weeg maklik 5 000 kg!), maar hulle probeer ook glad nie om hulleself soos sommige ander diere te versteek nie. Verder word baie lodges en wildreservaatkampe naby water gebou, wat die inwonende olifante lok en dit maklik maak om hulle dop te hou.

Maar net omdat dit maklik is, beteken dit nie dis vervelig nie! ’n Mens kan ure lank kyk hoe ’n trop water drink – hoe hulle daai slurpe gebruik om te drink, hoe die kalfies om hulle ma se bene bly – en die sosiale interaksie tussen die olifante dophou.

Olifante leef in familiegroepe wat bestaan uit koeie en hulle kalfies. Die oudste koei is die matriarg en lei die groep. Van dié familiegroepe smelt dan saam om groter troppe te vorm.

Bulle verlaat die trop wanneer hulle sowat 13 jaar oud is en sluit aan by die meer volwasse bulle se troppe. Interessant genoeg is dit baie belangrik vir die jong bulle om in dié tyd by volwasse bulle te bly. Jong bulle wat in dié tyd verplaas word, ontwikkel gedragsprobleme (soos aggressie teenoor ander diere en voertuie) en gedra hulle eers wanneer volwasse bulle weer in die omgewing is. Ja, die oumanne moet die jonges maniere leer!

Olifante het ’n groot impak op die habitat waarin hulle bly – nog iets wat ’n mens kan sien as jy hulle ’n ruk lank dophou. Nie net eet hulle baie nie (’n volwasse olifant eet tot 300 kg plante per dag!), maar hulle tafelmaniere is ook verwoestend: Hulle druk onder meer bome plat, breek takke en eet die bas van bome af. Só kan hulle boomryke habitat mettertyd omskep in struikveld of selfs grasveld, wat natuurlik ’n invloed op ander spesies het. Daarom is dit belangrik dat groot troppe uitgedun word en troppe nie tot klein gebiede beperk word nie.

Aan die ander kant speel olifante weer ’n belangrike rol in die vervoer en ontkieming van sade soos dié van die maroela- en kremetartboom. Trouens, daar is sowat 40 boomspesies in die woude van Wes-Afrika wat afhanklik is van olifante vir hulle verspreiding en ontkieming. Dink net watter uitwerking sal die afwesigheid van olifante in dié ekostelsel hê!

Ek woon in die Laeveld, en hier is ’n paar afgesonderde kremetartbome. Ek wonder altyd of een of ander olifant, wat al lankal nie meer hier is nie, dalk jare gelede by dié kol verby geloop het om die saad “af te lewer”.