Die bekendste onder dié afwesige ouers is die koekoek, heuningwyser en blouvinkie. Heuningwysers lê hulle eiers in houtkapperneste, terwyl blouvinkies en paradysvinkies op ander vinkspesies staatmaak om vir hulle kinders kos aan te dra. Die indringerkuikens weet selfs hoe om soos hulle “boeties en sussies” te roep vir kos. Dié gedrag word broeiparasitisme genoem.

Die stiefouers word só geflous dat hulle dikwels hulle eie kinders afskeep ten koste van die parasietkinders. Die voordele vir broeiparasietspesies is voor die hand liggend: Hulle hoef nie nes te bou of eiers uit te broei nie, en hulle hoef nie ekstra kos te soek nie.

Die indringerkuikens weet selfs hoe om soos hulle “boeties en sussies” te roep vir kos

Ek het ’n paar jaar gelede ’n voorval in die suidooste van Botswana gesien waar ’n langstertspreeu ’n gevlekte koekoekkuiken voer (sien foto). Die kuiken het aanhoudend gebedel vir kos, en die stiefouers moes heeldag werk om voor te bly. Hulle sê daar is niks so sterk soos ouerliefde nie, maar ek glo dié ouers was verlig toe hulle ongenooide kind die huis verlaat.