Dié erdvark het voor ’n veldkamera baljaar en bollemakiesie geslaan toe reën op 23 Januarie op die Koppieskraal-wildsplaas naby die Anysberg-natuurreservaat uitsak. Die plaas se eienaar, Roelf Louw, het die video met ons gedeel.

"Ons sien gereeld erdvarke op ons kameras maar af en toe gebeur iets interessanters,” sê Roelf.

“Dit het dié aand begin reën en dit lyk asof die erdvark baie bly is daaroor en ’n bietjie baljaar. Ons sien sulke baldadigheid ook by ander diere soos gemsbokke en springbokke wanneer dit reën."

Die plaas kry gelukkig heelwat reën, sê Adriaan, Roelf se seun. “Die reënval op Koppieskraal is redelik konstant regdeur die jaar, omdat die grond op die skeiding tussen winter- en somerreënval lê.”

Daar is ’n wye verskeidenheid diere op die plaas, insluitend elande, gemsbokke, grysribbokke, koedoes, luiperds en rooikatte. Die Louw-familie se Bushnell-veldkameras vang gereeld video’s vas.  

“Ons het altyd so vier tot ses kameras en neem al meer as 10 jaar aktiwiteit op die plaas af. Dit kos maar ’n bietjie werk om die beeldmateriaal gereeld af te laai en daardeur te gaan, maar die video’s bring vir ons baie genot,” sê Adriaan. 

“Ons het al deur die jare baie sports gehad met die video’s: Ons sien bobbejane wat baljaar in die krippe en groot koedoes en elande, asook skaarser diere soos bruinhiënas, oewerkonyne (daar is al redelik navorsing op Koppieskraal gedoen oor dié bedreigde spesie), en ook ’n luiperdmannetjie en sy paar wyfies.”

Hulle sien die afgelope paar jaar meer gereeld luiperds, vertel Adriaan: “’n Mens kan duidelik volg hoe die mannetjie by die twee of drie wyfies op die uithoeke van die plaas gaan kuier. Dis maar elke keer vir ons opwindend om die luiperds te sien, want hulle is ’n teken van ’n gesonde, natuurlike habitat.” 

Tog dink Adriaan nie die gedrag op die video’s is uniek nie: “Ek dink wat ons as uniek beskou is meestal net natuurlike dieregedrag – die kameras en hoe afgeleë die plaas is, maak dit maar net moontlik om die gedrag vas te vang.”

Kyk hier na nog van die Louws se veldkameravideo’s: