Die Amerikaanse rolprentmaker Woody Allen het op ’n keer gesê daar ís erger dinge as die dood... jy kan byvoorbeeld ’n aand deurbring met iemand wat versekering smous. Op sy beurt het die humoris Kin Hubbard gesê pret is soos versekering: Hoe ouer jy raak, hoe duurder word dit. 

Ons kan maar onder mekaar erken nie een van ons hou regtig daarvan om elke maand ’n versekeringspremie te betaal nie. Baie van ons voel dis té duur vir iets wat moontlik kan fout gaan. Maar praat met iemand wat al skade gehad het en daardie een sal vinnig vir jou vertel hoe dankbaar hulle is vir versekering.
Óf gesels met iemand wat nié versekering het nie en dan teëspoed kry – en jy besef vinnig dit is deur en deur die geld en die moeite werd.

Maar hoe maak jy met die versekering van jou woonwa, boswa of ryhuis? Nie alle soort versekering is immers dieselfde nie, en wat presies is ter sprake as jy jou huis-op-wiele wil verseker? Ons gesels met Ian Lesar van CaraSure, wat ons eie Sleepseker- produk onderskryf, en met Eric Scriven, ’n verskeringsmakelaar by CertiSure in Kroonstad.

Die spesialis

Een van die eerste dinge wat mense gewoonlik oor woonwaversekering wil weet, is wat presies dit behels, sê Ian. “Dis makliker om dit in ’n neutedop te verduidelik en die verskil van dinge soos motor-, huisinhoud en geboueversekering uit te wys.

“Ons bied versekering vir ontspanningsvoertuie soos woonwaens, boswoonwaens, boswaens en ryhuise op ’n losstaande beginsel. Dinge soos motor-, huisinhoud- of geboueversekering is met ander woorde nie ter sprake nie. Die rede hiervoor is omdat woonwaens of ander ontspanningsvoertuie oor die algemeen lae risiko is.

“Ons bied volledige en omvattende versekering vir jou woonwa en dit sluit ongelukke, diefstal, kapings, kwaadwillige saakbeskadiging en selfs reën- en haelskade in. In al ons polisse sluit ons inhoud ter waarde van R30 000 in. Dit is vir jou standaard kamptoerusting en -bykomstighede soos beddegoed, kombuisware, klere, elektriese toestelle, sowel as tente soos koepeltente, gewone tente en sonafdakke. Ons biedook opsionele addisionele inhoudsversekering vir R45 000 of R60 000.”

Ian sê die dekking vir padwaens, boswaens of ryhuise is soortgelyk. “Die dekking is grootliks dieselfde, maar jy kan jou polis aanpas om dinge soos jou jerrykanne en draagbare yskaste ook te dek.”

Daardie ietsie ekstra 

Spesialiswoonwaversekering sluit ook bykomende dienste soos padhulp in, byvoorbeeld wanneer jou sleepvoertuig en sleepding in padnoodgevalle weggesleep moet word. Dan is daar dinge soos hulp met pap bande, sleutels wat in die ontspanningsvoertuig toegesluit word, as jy sonder brandstof gaan staan, ongelukke en dié klas van dinge wat deel is van jou polis.

Ian sê ’n ander belangrike deel van die polis is die hulp met die terugbring van rygoed uit buurlande soos Namibië, Botswana, Zimbabwe, Mosambiek, Lesotho, Swaziland, Malawi en Zambië.

Jy word ook bygestaan in geval van ’n mediese ontruiming met algemene raad en ’n bystandlyn plus mediese nooddienste wat beskikbaar is.

Ander opsies

Iemand met ’n spesialisdiens soos CaraSure is nie jou enigste keuse wanneer jy jou wa wil laat verseker nie. Eric sê hoewel die groot versekeraars soos Hollard, Santam en Mutual & Federal nie versekering spesifiek vir woonwaens verkoop nie, verseker hulle jou ontspanningsvoertuig wel saam met jou huisinhoud en ander voertuie.

“Al moet ek nou self so sê, dit is relatiewe goedkoop versekering. Ons het min eise op woonwaens en gewoonlik ’n standaardbybetaling van R1 000 of so. Die premies is baie laag, veral as jy dit by jou bestaande polis voeg,” sê hy. “Jy verseker jou wa basies net soos jou kar. Jy het ook die keuse of jy hom net vir derdepartyskade wil verseker. Dit is nou as jou wa byvoorbeeld in die ry afhaak en skade aan eiendom of ’n ander voertuig veroorsaak. Jy kan hom ook omvattend verseker vir brand- en haelskade en ’n allerisiko-tipe dekking.”

Eric waarsku egter dat meganiese skade nie by jou dekking ingesluit word nie. “Dié klas van ding is altyd uitgesluit. Jy gaan sukkel om versekering te kry vir wear and tear, soos die Engelsman sê.”

Wat sê die boek?

Soos met enige versekering van voertuie moet jy seker maak jou eie papierwerk en jou wa se dokumente is korrek en op datum.

“Dit is ontsettend belangrik,” sê Ian. “As jy nie die regte rybewys – byvoorbeeld ’n kode EB – vir jou woonwa het nie, is ons nie in staat om jou te verseker nie. En die bank of finansiële instelling gaan ook nie vir jou finansiering gee nie.”

Eric beaam dit en waarsku ook mense moet seker maak hulle wa se lisensieskyf het nie verval nie. “Jy gaan moeilikheid hê as daar iets skort met jou rybewys of jou wa se lisensieskyf. As jy in ’n ongeluk betrokke is en jou of jou wa se lisensie het verval, gaan die versekering nié uitbetaal nie.”

Wat betref BVM en dragewig en voertuie se sleepvermoë, sê Ian die versekeraar het nie veel beheer hieroor nie.

“Trouens, dis ’n moeilike kwessie omdat ons byvoorbeeld nie vra watter sleepvoertuig jy gebruik nie. Ons het egter in die laaste 15 jaar nog nie enige probleme in dié verband gehad nie. Dit bly egter ’n feit dat die versekeraar nie gaan uitbetaal as die versekerde nie aan al die reëls van die padordonnansie voldoen nie. Dit is iets wat slepers altyd in gedagte moet hou.”

Jy gaan moeilikheid hê as daar iets skort met jou rybewys of jou wa se lisensieskyf. As jy in ’n ongeluk is en jou of jou wa se lisensie het verval, gaan die versekering nié uitbetaal nie.

Wat van my yskas?

Ian het slegte nuus as jy dink jy kan vir jou ’n nuwe yskas eis as hy die dag die gees gee. “Die kort en eenvoudige antwoord is nee. Hoekom nie? Die versekeraar vrywaar die versekerde net van sekere risiko’s soos stormskade, ongelukke, diefstal en kwaadwillige saakbeskadiging.

“Ons kry hierdie vraag gereeld en antwoord dit gewoonlik met ’n vraag van ons eie: As die kliënt ’n stukkende yskas in die huis het, gaan sy of haar versekeraar daarvoor betaal?”

Elektriese foute, gebrekkige onderhoud en meganiese foute word nie gedek nie.

“Die ander groot vraag is houtvrot. Dit is iets wat ons met roes op ’n kar vergelyk – dit word nie gedek nie.”

Eric sê dít waarmee jou wa uitkom wanneer jy hom koop – die yskas, mikrogolfoond, tent – vorm outomaties deel van jou wa. “Maar ons is dan weer terug by wear and tear. As hy breek omdat hy oud is, kan ons niks vir jou doen nie. Maar dis ’n ander saak as die yskas gesteel word of die weerlig slaan hom uit.” 

Ian en Eric wys albei op die noodsaaklikheid om alle nuwe toevoegings tot jou wa – soos ’n lugversorger of TV-stel – apart by jou versekering te spesifiseer.



Ek doen dit sommer self

As jy sommer self jou wa se LED-ligte ingesit en jou elektrisiteitstelsel oorgedoen het, sê Ian hulle vra nie te veel vrae nie. “Sulke goed is weer eens buite ons beheer. Maar as daar brandskade is en dit is weens nalatige elektrisiteitsinstallasie, gaan daar waarskynlik vrae wees.”

Die groot probleem is mense wat hulle selfgeboude waens wil verseker. “Ons staan nie dekking toe in sulke gevalle nie,” sê Ian.

“Dit is omdat die herstelnetwerk in Suid-Afrika en ons buurlande nie in staat sal wees om dit te akkommodeer nie.”

Opgedollie

En wat van jou 4x4 wat jy opgedollie het met ’n bosbreker, kappie, wenas en snorkel? “Jy moet daardie dinge byvoeg op jou motor se polis soos jy dit doen, en dit moet as ekstras gespesifiseer word,” sê Eric. “Ons as versekeraar kyk na jou kar se verkoopwaarde. As hy gesteel word en jy het nie al die ekstras gespesifiseer nie, gaan jy groot skade ly en ’n klomp geld onnodig verloor.”

Weg Ry & Sleep sê As jy beplan om in die buiteland te reis met jou wa, moet jy ook met jou versekeraar gesels en seker maak oor die gebiedsgrense van jou polis. Dit sluit in die tydsduur van jou reis en die aantal lande wat jy beplan om te besoek.


As jy versekering vir jou woonwa wil uitneem by Carasure, bel 0860 107 772.