Nissan Suid-Afrika het 12 voertuie aan die Universiteit van die Witwatersrand verskaf sodat gesondheidswerkers die gemeenskappe van Soshanguve, Ga-Rankuwa, Winterveldt, Hammanskraal en ’n klompie ander gemeenskappe noord van Gauteng kan besoek om te toets vir die virus.

Op sy beurt het Ford Suid-Afrika ’n geldelike bydrae gemaak aan die Gift of the Givers-stigting én 57 000 plastiek- gesigskerms in sy Silverton-aanleg vervaardig wat alles aan noodsaaklike diensleweraars geskenk word. Ford en sy subkontrakteurs hoop om ’n halfmiljoen gesigskerms te verskaf in ’n poging om die verspreiding van die virus te vertraag totdat ’n doeltreffende entstof gevind word.

Saam met Peugeot-Citroën Suid-Afrika het Ford ook verskeie voertuie beskikbaar gestel sodat gesondheidswerkers by gemeenskappe kan uitkom en Covid-19-toetse doen.

Hyundai Suid-Afrika het agt voertuie - waaronder H100-vragmotors en H-1-bussies - aan Gift of the Givers en die FoodForward-stigting geskenk sodat kospakkies by hulphoewende gemeenskappe afgelewer kan word.

BMW Suid-Afrika het 40 000 maskers aan die departement van gesondheid geskenk en sy BMW On Call-noodpadbystanddiens beskikbaar gestel aan polisielede, mediese personeel en noodsaaklike diensteverskaffers. Volgens BMW is dié diens sedert die begin van die inperkingstyd al meer as 900 keer gebruik.

Junie 2020
Foto: Verskaf
Junie 2020
Foto: Verskaf
Junie 2020
Foto: Verskaf
Junie 2020
Foto: Verskaf
Junie 2020
Foto: Verskaf

Isuzu Suid-Afrika se bydrae om ’n humanitêre krisis op eie voorstoep af te weer was om die Livingstone-hospitaal en ander provinsiale hospitale in Port Elizabeth binne agt dae op te knap sodat ’n verdere 135 beddens beskikbaar kan wees vir pasiënte wat aan die virus blootgestel is. Isuzu en ander lede van die Nelson Mandelabaaise Sakekamer het vir die arbeid en mediese toerusting betaal.

Isuzu het verder sy vloot mediavoertuie in Gauteng onttrek en aan Gift of the Givers beskikbaar gestel. Deel van dié vloot is bakkies en vragmotors wat gebruik is om mediese toerusting, water en kospakkies af te lewer. Hulle het ook 15 D-max-bakkies wat vir promosie- en bemarkingsdoeleindes gebruik word, aan die Universiteit van Pretoria se departement van gesondheidswetenskappe geleen om logistieke ondersteuning aan mediese dienste te lewer.

Volkswagen Suid-Afrika het te midde van die pandemie in sy Uitenhage-aanleg die aandag verskuif na die vervaardiging van asemhalingstoestelle. Teen druktyd moes dit nog deur die Suid-Afrikaanse Regulasie-owerheid vir Mediese Produkte (Sahpra) goedgekeur word.

Volkswagen het ook in samewerking met die Groter Uitenhage-naaldwerkkoöperasie (Gusco) derduisende gesigsmaskers in die Nelson Mandelabaai-distrik versprei én150 beddens aan die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit geskenk. Dié munisipaliteit het onlangs aangekondig hy gaan die Nelson Mandelabaai-stadion gebruik om lae-akute pasiënte af te sonder en die verspreiding van die coronavirus te vertraag.

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Junie 2020
Foto: Verskaf

Jaguar Land Rover Suid-Afrika en die Minnie Dlamini-stigting het met die Rooi Kruis van Suid-Afrika en ander nieregeringsorganisasies saamgespan om kospakkies by skole, weeshuise en aftreeoorde in Knysna, Soweto, Daveyton, Germiston, Brakpan en Benoni af te lewer. Jaguar Land Rover het ook 11 voertuie aan die Rooi Kruis beskikbaar gestel in ’n poging om die verspreiding van die coronavirus te vertraag.

Toyota Suid-Afrika het 40 minibustaxi’s beskikbaar gestel vir die verspreiding van handreiniger, en 900 gesigskerms geskenk aan die Prince Mshiyeni-hospitaal in Umlazi, Durban. ’n Verdere 2 300 gesigskerms is aan Toyota se Prospection-aanleg (ook in Durban) en Toyota-motorhandelaars landwyd gestuur.

Volvo het sy mediavoertuie aan die nieregeringsorganisasie Save Our Schools oorhandig. Dié organisasie beywer hom om water en handreiniger aan 110 000 mense van Wallacedene, Bloekombos en Scottsdene en die Wes-Kaap te verskaf. Daarby het Volvo 100 l seep geskenk terwyl Save Our Schools veertien 5 000 l-watertenks laat aflewer het. Inwoners uit dié gemeenskappe gaan help om kinders én hulle ouers se hande buite skole en kerke te was.

Mitsubishi, Volkswagen, Isuzu, Hyundai én Kia Suid-Afrika het hulle waarborg en diensplan met een maand verleng en Ford syne met twee maande – sodat klante nie negatief geraak sal word deur die inperking nie.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook


Lees al die nuusbrokkies wat in ons Junie-uitgawe verskyn hier.