My ma kon lekker kwaai wees. Maar die versnipperde kussing en die sneeuvere oor die werf het sy daardie dag misgekyk, al was dit ouma Hart se kussing, sélf gestop met haar eie ganse se vere. Ma was nie kwaad nie, want dit was Kersfees.

In ons huis was daar met Kersfees nooit geld vir duur geskenke nie, maar daar was altyd ’n hoop klein presentjies wat als van haarknippies, windbukspatrone, potlode, plastiekhorlosies en handgemaakte items kon wees. Die boom was ook nooit soos die dorpsmense s’n gekoop nie. Dit was ’n afgesaagde dennetak wat in ’n oliedrom vol klippe gedruk is. Die drom is met kreukelpapier toegedraai om die “Castrol” en duike te bedek.

Dae voor die tyd is dit versier: geverfde toiletpapierrolletjies, papierkettings en -krulle, en sterre wat uit kitskoffieblikke se foeliedeksels gesny is. Teen Kersdag was die tak al goed verlep, maar niemand het omgegee nie.

Ons – vyf susters en ’n laatlambroer – het onsself oortref met die Oukers-aandkonsert. ’n Week lank is daar agter geslote deure in die sitkamer geoefen, onder die wakende oog van my tweede oudste sussie, Alta. Sy was mal oor organiseer (sy het jare later Tolwe se trompoppies in die hittige Bosveld afgerig) en het die vier van ons altyd eers in ’n ry laat staan, van kort na lank, presies soos die koorjuffrou by die skool gemaak het.

Ons – vyf susters en ’n laatlambroer – het onsself oortref met die Oukers-aandkonsert.

Die skuiwery en opstellery van die koor op verskillende hoogtes en plekke het langer gevat as die oefening self. “Stille nag,” “Betlehemster,” “Herders op die ope velde” en die kriptoneel is ingeoefen. Vandag nog sukkel ek om betyds te stop met “…Betlehemste-her, lieflike ste-he-her…” (Alta het vir ons gedirigeer in heeltemal te veel trappe van ste-he-her).

Dan is daar kostuums gemaak. Een jaar was ek en Annelie die engele. Ons het die oudste twee se wit rokke uit ’n vorige skoolkonsert gedra en Alta het vir ons dik wit vlerke van ou lakens en “opstopsels” (kussingstoffering) gemaak. Met daardie vet, pap vlerke het ons soos die engel Gabriël self gevoel.

My oudste sussie, Elsje, het uit die Bybel gelees en dan moes ons twee engele gelyk inval met: “In die nag het daar ’n engel aan Maria verskyn…”

Met die Kersfees van die vere het ons op ’n plot buite Meyerton gebly. Rondom die huis was ’n enorme grasperk – om dit te sny was ’n volle Saterdagoggend se werk. Ons was toe al ’n bietjie ouer en goed gekonfyt in konsert hou.

Ons het die dekor en kostuums self gemaak. Kersvader se baard was van daar-die polistireenkrulle wat in verpakking gebruik word – ’n revolusionêre stap vorentoe van die wattebaard.

Maar dié jaar was ons vasbeslote om alle grense te verskuif. Toe Kersvader daardie warm somersaand in my pa se paisleyjapon aan die venster klop, het ek en my oudste sussie op met die trappe na die solder gehardloop, ’n skêr gegryp, ouma Hart se verekussing oopgesny en bo deur die dakvenster laat “sneeu”.

Alles het perfek gewerk en Kersvader het tussen die wit vlokkies deur die venster geklim – ’n “White Christmas” in die hartjie van die Hoëveld! Die volgende oggend was die grasperk ’n prentjie uit Switserland. En ons het geleer hoeveel donsvere daar werklik in ’n kussing pas... (ons moes als weer optel!)

‘Alles het perfek gewerk en Kersvader het tussen die wit vlokkies deur die venster geklim – ’n “White Christmas” in die hartjie van die Hoëveld!’

Met die ete het my pa vir ons sjerrie in piepklein glasies gegooi. My boetie het koeldrank gekry en net ná die tafelgebed lig die knapie daar uit sy kinderstoeltjie sy koeldrankglasie en skree “Vi Kêswees…vi Kêswees!” Ons klink vandag nog só glase as ons bymekaar is.

Toe ons groter was, moes hierdie tradisies eenvoudig voortleef. Ons werkers Johannes en Christina se kinders is by die konsert betrek. Alina was Maria, en Pakiso ’n effe aandagafleibare Josef. Jesus, ’n pop toegedraai in ’n wit babadoek, het eers in Maria se arms en later in ’n appelboks gelê en slaap.

Johannes en Christina se jongste dogtertjie se naam was Makrismis (hoeka op Kersdag gebore) en omdat sy nog te klein vir ’n herder of ’n wyse man was, het sy die rol van die ster gekry. Ons het haar opge-dress, silwerkleurige tossels om die kop gedraai en met oopgesperde armpies en beentjies, agter die krip bo-op ’n klomp kratte laat staan en glimlag. Makrismis het geskitter!

’n Kortkop agter die konsert was die Kersete. Toe my oupa Hart nog gelewe het, het die hele familie eenkeer op hulle plot op Daleside, noord van Meyerton, saamgetrek. Die werf en huis was vol ooms en tannies en niggies en nefies. Oom Oliver se woonwa is langs die plaashuis getrek. Hy het gewoonlik die leiding geneem en ’n volledige uitleg van die familiestamboom was deel van die program.

Ons kinders se fokus was egter op ’n heel ander plek – die nagereg! Ons kon nie ons oë van daardie manjifieke 5c-poeding af hou nie. My jongste sussie kon dit later net nie meer hou nie en voor ete het ’n poedingstreep op die wang haar weggegee: Sy’ t ’n tonneltjie in die poeding gegrawe tot by ’n vyfsentstuk...

Kersvader het elke jaar ander skoene gedra. Toe ons klein was, was dit altyd bruin Grasshoppers en later Tiger-draftekkies wat onder die rooi gewaad uitgeloer het. So net ná permanente tandekrytyd wou jy liewer die skoene miskyk – ons het begin besef dis dalk eerder Pa wat in die pak skuil, en dat Kersvader nie regtig van die Noordpool af gevlieg het nie.

Later jare toe ek al getroud was en ons vir ’n tyd in Namibië gebly het, het die somershitte die “vet oom” na sy Rocky-plakkies gedwing. Nie dat hy ooit van sy warm jas ontslae geraak het nie. Met Pa later “afgetree” en met my man aan diens, het ons seuntjie een jaar kliphard opgemerk dat Kersvader Pappa se tennistekkies gesteel het...

Die kinders het daardie jaar ure lank gewonder en gestry of Kersvader oor die see of oor Swakop se duine gaan kom. Aan die een kant was die dor woestyn waar geen takbok sou oorleef nie en aan die ander kant die koue see vol haaie en skeepswrakke (om een of ander rede was ’n vlieënde slee nie ’n opsie nie).

Pa het altyd die swetende Kersvader jammer gekry en hom laat verdaag sodra die geskenke uitgedeel is. Dan het my man skielik, sonder om te kreun of te steun, regop gekom en met ’n koue Tafel Lager en ’n leë geskenksak straataf verdwyn.

Die kinders het daardie jaar ure lank gewonder en gestry of Kersvader oor die see of oor Swakop se duine gaan kom.

Daar was nog ’n Kersfees wat ek uit my kinderdae onthou. Ons het een jaar in die destydse Suidwes gaan vakansie hou, op Torrabaai. Ek kan nie eens onthou of daar geskenke of ’n Kersvader was nie (hy sou in elk geval nie Torrabaai daar teen die Skedelkus kon opspoor nie).

Maar ek onthou hoe ons laatmiddag op Oukersdag badwater in dromme op die vuur warm gemaak het en silwerskoon geskrop saam met die ander kinders in die kamp Kersliedere loop en sing het. Op in Koeistraat en af in Bulstraat, flitse in die hand en die los sand onder ons voete.

Die grootmense het uit hulle tente gekom en geluister. Ons het vleis gebraai (“Mens kan ook net so lank vis eet,” het oom Jan gesê) en toe het ons almal in die Burgers se army-tent geëet en gekuier. Die mans het getye en aas gepraat en begin wonder na watter gat hulle ná Kersdag sal uitry: Hoëwalle, Boetebaai, Uniabmond of dalk Paaltjie 2?

Ons kinders het tot laat tussen die tente gespeel en kattekwaad aangevang. Ons het ’n aartappel in ant Josie se uitlaatpyp gedruk, ’n tentpen of twee uitgetrek en koekies gesteel. Maar niemand het met ons geraas nie. Want dit was Kersfees.