Kaapse Natuurbewaring moet elke maand ’n moeisame taak aanpak op Dyer-eiland, naby Gansbaai. Personeellede moet pligsgetrou die seevoëls se broeipare tel om só die wisseling in bedreigde voëlspesies se bevolking vas te stel. Gewoonlik word die voëls met behulp van verkykers en notaboekies getel, maar personeel mag nie die broeipare versteur nie. 

Dié tydrowende taak kan egter binnekort verander. Die Leiden Conservation-stigting het onlangs die fondse beskikbaar gemaak sodat Kaapse Natuurbewaring die voëls met hommeltuigtegnologie (drones) kan tel. 

Kyk, só lyk een van die hommeltuie:

Deon Geldenhuys, hoof van bewaring vir die Dyers-eiland natuurreservaat, sê:

“Hommeltuig-tegnologie bied ’n vinniger en minder steurende manier om die voëls te tel. Dit gee ook die geleentheid om dele van die eiland te sien wat moeilik is om te bereik. Dit gee ook ’n meer akkurate telling. Daar is steeds baie om te leer, maar ek dink hierdie is ’n uiterse belangrike projek vir Kaapse Natuurbewaring, om so opnames te neem van die bedreigde voëlspesies. As ons gelukkig is met die resultate op Dyer-eiland, sal ons dit uitbrei tot ander gebiede wat deur Kaapse Natuurbewaring bestuur word, waar voëltellings net so noodsaaklik is.”

"Die hommeltuie gebruik elektriese krag wat nie veel geraas maak nie," voeg Geldenhuys by. "Maar as die voëls versteur word, sal ons dit monitor tydens die opname. "

Hommeltuig-tegnologie bied ’n vinniger en minder steurende manier om die voëls te tel.

Die tellings gee ’n manier om die bewaringstatus van voëlspesies vas te stel. Die brilpikkewyn (Spheniscus demersus) se bevolking is tans besig om skerp af te neem, en bewaringsgesindes moet vinnig oplossings hiervoor probeer kry.

Dyer-eiland is die mees suidelike van die 14 eilande langs die Suid-Afrikaanse kus. ’n Skamele 15,67 hektaar in grootte, is dit nietemin ’n Important Bird Area (IBA) in Suid-Afrika. Vyftien seevoëlspesies maak hier hulle tuiste, asook een robspesie en een kusvoëlspesie.