Op 11 Januarie 1998 het ek my eerste wespedief gewaar in ’n bloekomboom in die Rietvlei-natuurreservaat in Pretoria.

Roofvoëls is moeilik om te identifiseer, en wespediewe is geen uitsondering nie. Die jonges lyk anders, en volwassenes wissel van amper heeltemal donkerbruin tot spierwit, met bande oor die bors. Hulle kop is klein, byna duifagtig. Die jonges het donker oë terwyl die volwassenes tot in jou siel in staar met daai groot geel oë.

Hoe dit ook al sy, dié waarneming was so spesiaal dat ek ’n lang vorm moes invul vir BirdLife se rariteitskomitee. In daai stadium sou ek nooit kon raai dat my vriendin Caroline Howes 20 jaar later daai einste vorm uit hulle argiewe sou opdiep as deel van haar PhD-navorsing oor dié roofvoëls nie.

Caroline se data wys dat rekords van wespediewe toegeneem het van slegs twee tot drie voëls per somer, tot meer as 300 elke seisoen. Deesdae word hulle selfs gereeld in voorstedelike tuine gewaar. Maar moenie te opgewonde raak nie. Wespediefgetalle is wel aan die afneem in hulle broeiplekke in die woude van Eurasië. Hoekom sien ons meer in Suid-Afrika? Is dit bloot meer voëlkykers? Nee. Dit blyk dat habitatverwoesting in Oos-Afrika dié roofvoëls al hoe verder suid dryf.

Dis vér se vlieg van Skandinawië en Siberië tot in Suid-Afrika en hulle moet dit twéé keer per jaar aflê! Die roete is gevaarlik en tussen 50% en 70% van die jong voëls vrek op pad.

Een strategie is om so min as moontlik oor die see te vlieg; dus is daar vir ’n week of twee ’n digte konsentrasie (amper soos ’n verkeersknoop) van díe voëls op spesifieke plekke op die planeet.

Een so plek is die Straat van Gibraltar, ’n smal strokie oseaan van 14 km tussen Spanje en Marokko.

So ook die Golf van Eilat in Israel, waar meer as 200 000 wespediewe al in ’n dag getel is. Ongelukkig maak sulke tradisionele roetes die voëls ’n maklike teiken vir jagters (die skiet van trekvoëls is ’n gewilde sport in sommige Mediterreense lande).

Ten spyte van die Engelse naam, European honey buzzard, is die wespedief nie ’n jakkalsvoël (buzzard) nie. Die wetenskaplike naam, Pernis apivorus, wat “byvretende roofvoël” beteken, is ook nie heeltemal in die kol nie.

Die Afrikaanse naam is die wenner (soos wat dikwels die geval is). Hierdie ouens se dieet bestaan grotendeels uit perdebye (ook genoem wespes) en hulle larwes. Hulle sal lang tye ongesiens sit en insekte dophou. Op dié manier spoor hulle wespeneste op.

Hulle stap ook op die grond rond; trouens, hulle spesialiseer daarin om ondergrondse insekneste met hulle stomp kloue uit te grawe.

’n Perdebydieet klink na ’n gevaarlike speletjie. Ek het altyd gewonder hoekom wespediewe nie pimpel en pers gesteek word nie, totdat ek een keer ’n wespedief moes opstop vir ’n museum. Die skubbe op hulle pote en kloue is besonder hard. Hulle neusgate is klein splete, en die vere op hulle gesig is buitengewoon klein en diggepak – asof hulle gepantser is. Hierdie veertjies is op mikroskopiese vlak aangepas en navorsers het selfs ’n soort poeier op hulle ontdek, wat moontlik ’n afwerende chemiese stof kan wees.

Al dié interessante feite is maar net die oortjies van die seekoei as dit kom by dié voël. Ek het in ’n stadium ’n oorsese DVD in die hande gekry oor wespediewe se ongewone broeigedrag. Die mannetjies doen byvoorbeeld vreeslik oordadige vertoonvlugte bo die blaredak om die wyfies te beïndruk.

Die DVD is gegaps voordat ek dit kon kyk, sáám met die DVD-speler en my televisie.

Ek hoop van harte dié dief leer nie nuwe truuks by die wespedief nie!