Ek het die masjien dus aan die lewe geskop, die fiets in rat gesit en effe wankel-rig deur die heuphoogte gras begin ry, en uitgeswenk vir houtstompe, modderige slaggate en elke nou en dan ’n buffel.

Binne sekondes het ’n bondeltjie vere uit die gras opgespring, ’n paar meter gefladder en dan sonder seremonie teruggeval grond toe na waar die skuiling was. “Kwarteltjie!” het ek bo-oor die gebrul van die enjin geskree.

En dit, dames en here, is hoe ’n mens gewoonlik hierdie klein grondvoëltjies sien: Vir ’n paar sekondes, wanneer hulle onverwags hulle verskyning maak en dan weer verdwyn.

As jy gelukkig is, sien jy dalk een wat versigtig al met ’n tweespoorpad langs stap, soms met kuikens (elk so groot soos ’n R5-stuk) agterna.

Baie min voëlkykers kon al dié geheimsinnige voëltjies vir lang tye op ’n slag sien, al kan hulle plaaslik volop wees. Trouens, ek en Justin het daardie oggend altesame 53 gesien. Kwarteltjies het ’n ongelooflike vrugbaarheidstempo: Die hele broeisiklus duur slegs sowat 50 dae. Mannetjies in aanhouding het al sewe keer per jaar voortgeplant.

En dit, dames en here, is hoe ’n mens gewoonlik hierdie klein grondvoëltjies sien: Vir ’n paar sekondes, wanneer hulle onverwags hulle verskyning maak en dan weer verdwyn.

Kwarteltjies is baie beweeglik en nomadies, en hulle reageer vinnig op veranderende habitattoestande. Een verslag sê 21 is binne twee uur rondom middernag gevang by ’n migrasiebottelnek in Mpumalanga (’n poort waardeur voëls moet gaan om bo-oor die berg te kom). Die meeste beweging gebeur snags en die kwarteltjies word dikwels deur ligte aangetrek.

Van die 17 bekende spesies wêreldwyd kom net 3 in Afrika voor. Die bosveldkwarteltjies is wydverspreid in grasveldstreke, terwyl die bedreigde swartrug-kwarteltjie en die Kaapse kwarteltjie – wat onlangs van die ander spesie geskei is – onderskeidelik tot klam grasveld en fynbos beperk is.

Laasgenoemde is nog so min bestudeer omdat sy roepstem tot ’n paar jaar gelede nog onbekend was, ondanks die feit dat hulle basies binne die stadsgrense van Kaapstad broei.

Daar is lank gedink dat kwarteltjies verwant is aan kraanvoëls, maar ons weet nou dié voëltjies is eintlik waadvoëls – ja, regtig! Kwarteltjies is beslis nie kwartels nie; die spesies verskil in baie opsigte, al is die Afrikaanse name so eenders. Die kwarteltjie het byvoorbeeld nie ’n agtertoon nie.

Daar is lank gedink dat kwarteltjies verwant is aan kraanvoëls, maar ons weet nou dié voëltjies is eintlik waadvoëls – ja, regtig!

Die kwarteltjie se Engelse naam is “buttonquail” en verwys dalk na die voël se grootte in vergelyking met ’n ware kwartel, en die oorspronklike uitdrukking was dalk “cute as a button quail.”

In die tyd van Christus het skoliere oor ’n klein voëltjie geskryf wat die geluid van ’n bul namaak. Daai skolier het in der waarheid na die bosveldkwarteltjie (Turnix sylvaticus) verwys (in Engels ook bekend as die “kurrichane button-quail”, “common buttonquail” of “Andalusian hemipode”).

Die dawerende geluid word gemaak deur die groter wyfie van dié poliandriese spesie (waar ’n wyfie met meer as een mannetjie paar). Sy blaas ’n spesiale sak op in haar slukderm, trek in die proses haar hele lyf skeef en trek die mannetjie se aandag met ’n diep roep.

Probeer “hoeeeeem” sê sonder om jou lippe oop te maak. Die geluid het amper dieselfde uitwerking as wanneer ’n buikspreker praat – dis moeilik om te bepaal waar dit vandaan kom.

Ek het dit onlangs eerstehands aanvaar toe ek die roepgeluid probeer opneem in ’n reservaat wat aan die Krugerwildtuin grens. Ek kon die gras voor my voete effens sien roer, maar die een wat die geluid gemaak het, het onsigbaar gebly!

Skielik het ’n kakofonie van bloedstollende gille my mikrofoon-vlak die hoogte laat inskiet. Ek het na links gedraai en gesien hoe ’n luiperd ’n vlakvark vermoor.

Nodeloos om te sê het ek nooit daai kwarteltjie gesien nie.