Dalk moet ons vra: Hoe meet ’n mens intelligensie? ’n Hofsanger wat elke jaar dwars oor die planeet vlieg om weer by dieselfde bossie in onderskeidelik Siberië en Suid-Afrika uit te kom of die besluit wat ’n valk in ’n oogwink neem wanneer hy teen 350 km/h vlieg... Sulke talente moet sekerlik tel.

Maar selfs met menslike intelligensietoetse is daar een groep voëls wat slimmer is as al die ander: die Corvidae-spesies, soos kraaie en rawe.

Kraaie maak ingewikkelde gereedskap uit blare en stokkies. Hulle het gereedskapstukke om verskillende stukkies prooi uit allerlei wegsteekplekke te haal: hakies, hefboomstokkies en selfs saagtandstafies.

Wetenskaplikes kom nou ook agter gereedskapgebruik is nie hierdie intelligente voël se enigste talent nie. Kraaie kan beplan, ontleed, onthou, ruilhandel dryf, naboots en leer. Trouens, kraaie vaar beter as vyfjariges in sommige toetse vir logika en oorsaak-en-gevolg-redenasie!

Het jy al gehoor van die malvalekkertoets? Dit toets die begrip van uitgestelde bevrediging: Kry een malvalekker nou of twee later… In die voëlweergawe van hierdie toets vaar die kraaie beter as kinders.

Neurobioloë glo die grootste vonk vir intellektuele ontwikkeling kom nie van die drang om te oorleef of die soeke na kos nie. Nee, hulle dink dit hang af van sosiale interaksie. Dit begin vroeg. Jong kraaie is spelerig. Jy sal kinderspeletjies by kraaie herken: volg-die-leier, koning-van-die-kasteel en warmpatat.

Namate kraaie ouer word, word hulle verhoudings ook meer volwasse.

Namate kraaie ouer word, word hulle verhoudings ook meer volwasse. Buiten die band tussen ’n mannetjie en ’n wyfie doen hulle moeite om verhoudings in breër kringe te vorm, te beëindig en selfs te manipuleer: verhoudings met hulle uitgebreide familie, vriende, kennisse en vyande. Hulle bou verskeie alliansies en verskuif hulle lojaliteit soos nodig.

Nog ’n belangrike maatstaf van intelligensie is hoe bewus die voëls van hulleself is, en hulle vermoë om uit ’n ander se perspektief oor iets te dink.

Een van kraaie se toertjies is om kos te bêre. As die kraai dan egter ’n ander een – wat volgens hom onbetroubaar is – in die omtrek sien, sal hy die happies uithaal en op ’n ander plek wegsteek. Hierdie agterdog tree egter eers in nadat hy sélf by ’n maat kos gesteel het!

As een van hulle vrek, hou die oorlewende kraaie ’n geleentheid, wat net as ’n roudiens beskou kan word. Hulle talm ’n rukkie in stilte langs die oorledene, en lê selfs ’n stukkie gras langs die karkas neer.

Foto: Phil Penlington

G’n wonder kraaie pas so goed aan by ons veranderende wêreld nie.

Stadsjapiekraaie laat val doelbewus neute in die pad sodat motorbande dit kan kraak, en wag dan vir die groen verkeerslig voordat hulle die buit gaan haal.

’n Meisie in Seattle, Amerika, het ’n versameling “geskenke” soos knope, plastiek, juwele en muntstukke wat die buurt se kraaie vir haar gebring het om dankie te sê dat sy vir hulle kos gee. Elke keer as ’n kraai een van die geskenke vir haar los, wag hy totdat sy dit kry, klaarblyklik om haar blye reaksie te geniet.

Daar het jy dit. Daai grondboontjiegroot brein wat terloops ’n veel groter digtheid van neurons het as soogdierbreine – wérk. En deksels goed ook.