Ek het gewoonlik my verkyker en gewone klere skool toe gevat sodat my ma my daar kon aflaai so gou as moontlik nadat die skoolklok gelui het. Só kon ek elke voëlkyksekonde benut voordat die son sak. Dié magiese plek huisves nou die Pretoria-Oos-hospitaal.

Hoe ook al, tussen al die magdom voëls wat ek dag ná dag gesien het, was dit ’n LBJ (“little brown job” oftewel klein vaal voëltjie) wat my hart gesteel het: die spotlewerik. Dié onopvallende, wisselvallige spesie word maklik misgekyk. Hulle is endemies aan die Hoëveld se grasveld en het ’n wonderlike talent: Hulle kan die roep van so te sê enige ander voël foutloos naboots.

Ek het baie ure plat op my rug deurgebring, notaboek in die hand, en geluister na die vrolike geroep van ’n spotlewerikmannetjie wat teen die wolke bo my fladder. My doel was om al die flenters geleende voëlgesang te identifiseer wat hy sou saammeng om sy eie, unieke melodie te skep.

My bevindinge was interessant: In die klein proefbevolking wat ek dopgehou het, het ek opgeteken dat die mannetjies minstens 71  ander spesies namaak. Een mannetjie se repertoire kon die geluide van tot 50 ander spesies insluit!

Een mannetjie se repertoire kon die geluide van tot 50 ander spesies insluit!

Ek het gou opgelet dat daar ’n patroon in hulle nabootsing is: Liedjies is in ’n duidelike volgorde nageboots en die voël sou dieselfde volgorde weer en weer herhaal.

Jare later het ek ’n spotlewerik naby Philippolis in die Vrystaat dopgehou wat 54 minute lank sonder ophou gefladder en gesing het! (Dit was ’n naboots-roepsiklus van nege minute wat ses keer herhaal is.)

Wat selfs nóg meer verstommend is, is dat dit lyk asof die spesies wat nageboots word, in een of ander familie-orde gegroepeer is: Die lewerik sal eers ’n klomp saadvreters naboots, dan lugspesies soos windswaels en swaeltjies, dan watervoëls, grondvoëls, ensovoorts.

Maak ander spesies ook voëlgeluide na? Beslis! Die verskynsel is al aangemeld onder 66 spesies uit Suider-Afrika, uit 17 verskillende families. Hiervan is die janfrederike, lewerike en sangers die bekendste.

Minder bekende nabootsers sluit in: suikerbekkies, kanaries, glasogies, nikators en laksmanne. Spreeus is ook goed om geluide en selfs menslike spraak na te maak – ek het êrens ’n video van ’n spreeu in ’n hok wat ’n kamera se sluiter namaak en dan histeries begin lag.

Hoekom boots voëls ander spesies na? In die meeste gevalle is die doel nie om die luisteraar te bedrieg nie. Om geluide van die omgewing te inkorporeer is die maklikste manier vir ’n voël om sy eie roepsang meer verskeidenheid te gee.

Dis ’n basiese stukkie hoërskoolwysheid: As jy ’n meisie wil beïndruk, is dit baie makliker om ’n mix tape te maak as om jou eie liefdeslied te skryf. Laat Aerosmith, Mariah, Jewel en Bieber die werk namens jou doen.

Dis ’n basiese stukkie hoërskoolwysheid: As jy ’n meisie wil beïndruk, is dit baie makliker om ’n mix tape te maak as om jou eie liefdeslied te skryf.

Daar is gevalle waar die nabootsing ’n meer direkte, funkionele rol speel. Mikstertbyvangers sal byvoorbeeld die geluid van ’n roofdier of ’n prooi se waarskuroep na-aap wat óf tot mobbing lei (waar ’n klomp diere saamstaan om ’n roofdier af te weer) óf ander diere deurmekaar maak.

In die Kalahari sit dié voëls in ’n boom naby ’n meerkatkolonie en maak dan die geluid van die meerkatte na. Dit veroorsaak dat die meerkatte skuiling soek. Dít gee die byvanger kans om in te swiep en die meerkatte se prooi te steel.