Dis ook een van die moeilikste vrae om te beantwoord. Vra my oor die taksonomie van Acrocephalus-sangers of die ververing van Calidris-strandlopers en ek val met liefde weg met 'n uur lange lesing.

Maar my gunstelingvoël? Dis moeilik. Dis amper soos om iemand te vra watter kleur Smartie hy verkies.

Dalk is ’n meer fundamentele vraag hoekom ons in die eerste plek lief is vir voëls? Op dié vraag kan ek wel ’n paar antwoorde voorstel.

Voëls is altyd in die ronde, ’n deel van ons lewe – of ons hulle oplet of nie. Van die meeue wat langs ’n visserman rondhang in die hoop op ’n stukkie aas, tot die op en wakker spreeu wat onder jou restauranttafel rondspring. Daar is sowat 10 000 voëlspesies wêreldwyd: Dis genoeg verskeidenheid om jou ’n leeftyd se uitdagings en reisgeleenthede te bied, maar nie só baie dat jy oorweldig hoef te voel nie.

Die meeste soogdiere (buiten mense en ons aapnefies) woon in ’n wêreld waar hulle reusintuig koning kraai, terwyl voëls hoofsaaklik met sig en klank kommunikeer. Nes ons. Dis hoekom baie voëls besonder kleurryk is en sulke mooi roepgeluide het.

Op die oppervlak lyk voëls saggeaard, vrolik en is ’n simbool van vrede. Maar bekyk hulle van nader en jy sien ’n verbetenheid in hulle oë wat hulle dinosourusstamboom verklap.

Op die oppervlak lyk voëls saggeaard, vrolik en is ’n simbool van vrede. Maar bekyk hulle van nader en jy sien ’n verbetenheid in hulle oë wat hulle dinosourusstamboom verklap.

Maar terug by Smarties. Hoe besluit ’n mens watter kleur is jou gunsteling? Groot, indrukwekkende, ikoniese spesies is vanselfsprekende mededingers, soos ons nasionale voël, die statige bloukraanvoël, of dalk die visarend (die nasionale voël van Namibië en Zimbabwe, terloops).

Of dalk verkies jy iets wat só helder is dat dit lyk asof ’n Disney-kunstenaar se sketsblad lewe gekry het: ’n Afrikaanse wielewaal, of ’n bosloerie, rooiborslaksman of jangroentjie?

Dalk hou jy van iets vreemds of interessants, soos die grootheuningwyser of die slangtrappende sekretarisvoël?

Ek vermoed “ernstige” voëlkykers sal ’n een-keer-in-’n-leeftyd-spesie kies, daai een wat almal wil “afmerk”, soos ’n Angolapitta wat met dagbreek in die woude van Mosambiek pryk, ’n visuil wat in die stilte van ’n Okavangonag roep, of ’n malmok wat majestueus oor die deinings van die Suidsee swiep.

Dalk verkies jy iets wat só helder is dat dit lyk asof ’n Disney-kunstenaar se sketsblad lewe gekry het: ’n Afrikaanse wielewaal, of ’n bosloerie, rooiborslaksman of jangroentjie?

Nie een van die bogenoemde voëls is my gunsteling nie. Ek glo gehegtheid is ’n gevolg van bekendheid – ’n spesie wat altyd daar is om ’n moeilike dag beter of ’n goeie dag puik te maak.

My lewenslange vriendskap met my gunstelingvoël het een somersoggend in ’n buurt van Pretoria begin. Anders as wat ’n mens dalk sou verwag van ’n professionele voëlkyker, is ek beslis nie ’n oggendmens nie. As deel van my uitgebreide opstaanritueel het ek dié dag ’n koppie koffie gemaak, die skuifdeur oopgemaak en weer in die bed geklim. Terwyl ek weer ingesluimer het, het ’n grootstreepswael by die kamer ingevlieg, dalk op soek na ’n moontlike bouperseel vir sy moddernes. Dit het nie gelyk asof hy bewus is van my teenwoordigheid nie (of dalk het hy my vertrou) en hy het ’n paar sirkels in die kamer gevlieg, vrolik bo my bed geroep en toe weer uitgevlieg.

Fotograaf: Tertius Gous

Tot vandag toe voel dit asof ek met ’n ou vriend herenig is as ek die tjirrip van die eerste aankomende grootstreepswael hoor.

Hoe sal jy weet watter voël jou gunsteling is? Jy sal weet as jy hom sien..