Die Tonga het in sy visier die mark vir slepers met ’n ligtevoertuigrybewys (kode B), want sy BVM is op 750 kg vasgestel en leeg weeg hy net 380 kg. Eintlik is die Tonga ’n dubbelbed-op-wiele wat op paartjies gemik is. Hy word van veselglas gebou – ’n verskeidenheid soortgelyke woonwaens is op die mark, maar die Tonga kom met drie nuwighede.

Eerstens is die hele stert ’n deur wat na bo oopswaai sodat jy kan inklim, maar aan die teenoorgestelde kant is ’n laai wat uit die binnekant oor die A-raam trek. Dis ’n toe kas met twee rakkies en ’n deurtjie elk aan die kante. Die deurtjies slaan plat sodat ’n mens by die rakke kan uitkom, maar dit vorm ook ’n blad waarop ’n gasstoof byvoorbeeld kan staan. Die binneste deel van die rak (dus aan die binnekant die wa) het ook twee oop rakke wat as pakplek by die koppenent van die bed dien.

Tweedens span die Tonga se tent oor die hele wa en ’n mens kan JP van Zyl – wat die Tonga saam met sy pa, Etienne, ontwerp het – ekstra punte hiervoor gee. Die tent vou oop uit ’n rak bo die linkerkant van die wa en span diékant soos die vlerk-afdakke wat ’n mens deesdae sien. Maar JP-hulle gebruik geboë aluminiumpale op die rand van die dak om die kante van die tent oor die wa te span. Dit lyk soos ’n valskerm, maar die ontwerp is sodanig dat die wind hom nie sommer sal skep nie.

Laastens kan jy die boonste deel van die Tonga afhaal as jy byvoorbeeld die onderkant as ’n sleepwa wil gebruik.

Die Tonga is op paartjies gemik.
Slaapplek vir twee.

Die syfers: 4,13 (l) x 1,94 (b) x 2,03 m (h); tarragewig 380 kg; dravermoë 370 kg; BVM 750 kg; 1,5 t-as.

Prys: Vanaf R105 000.

Kontak: 021 945 2142 of 074 893 0748; admin@biprojects.netbiprojects.net


Lees al die nuusbrokkies wat in ons April-uitgawe verskyn hier.