L’AGULHAS-WOONWAPARK

Heel suid

Die L’Agulhas-woonwapark is die suidelikste kampplek op ons vasteland. Dis ’n reghoekige blok gras so te sê teen die dorpie se hoofstraat. In die lengte af is dit so groot soos ’n halwe rugbyveld, maar met ’n effense helling aan die see se kant. En net soos op ’n rugbyveld het jy g’n koelte nie. Jy kamp hier tussen die inwoners se huise, in ’n onomheinde kampplek met net ’n kniehoogte paaltjiesheining en ’n ry huise tussen jou en die see.

In die kampblok staan twee rye wit paaltjies omtrent 18 m uitmekaar. Jou staanplek se kraan staan teen die een paaltjie, en die kragboks met sy vier blou woonwasokke teen die paaltjie aan die oorkant. Jou staanpleknommer is op die kragboks aangebring en die vullisdrom staan langs dit.

Die staanplekke is nie duidelik afgebaken nie, maar as jy na die donkerder lyne op die gras kyk, kry jy ’n idee van waar jou staanplek is.

Die kampplek het enkele ligte wat soos hoë straatlampe lyk. Hulle gee genoeg lig sonder om jou te verblind of te pla. Die vuurtoring se wit ligstraal swiep ook saans kort-kort oor die kampplek.

Aan die regterkant van die kampplek, tussen die chalets, is twee badkamergeboue met enkele storte en toilette, maar die eintlike badkamer is ’n vierkantige gebou. Regs van die gebou is die buitewasbak vir visskoonmaak, en langs dit diep betontrôe vir jou wasgoed.

In die middel van die gebou, tussen die mans- en vrouebadkamer, is die opwasplek vir jou kampskottelgoed. Die see is skaars 100 m van die kampplek af. Jy stap net regs by die hek uit, af in Skoolstraat.

Hier by die strand is twee getypoele met ’n lieflike grasperk waar jy jou handdoek kan oopgooi. As jy nie omgee om ’n entjie te ry nie, neem die grondpaadjie verby die vuurtoring. Die Punt is 2,8 km van die kampplek af waar jy kan verwag om witbiskop, geelstert, galjoen en koperhaai digby die kant raak te loop.

Kortliks | L’Agulhas- woonwapark

Vis: Onder meer witbiskop, geelstert, galjoen en koperhaai.

Kampplek: 40 gelyk staanplekke op welige groen gras sonder koelte.

Ablusiegeriewe: Oud maar skoon.

Prys: R225-R300 per staanplek vir tot 6 mense. Die pryse word in Julie verhoog.

Aankoms- en vertrektyd: 13:00 en 11:00.

Kontak: 028 435 6015;  capeagulhas.org/resortslagulhas@capeagulhas.gov.za

Naaste dorp: Op Agulhas.

Hoe lyk die pad? Teer tot hier.

GPS: S34.826146 E20.012741

Ry & Sleep Onthou jou hengelpermit. Die naaste poskantoor is op Struisbaai as joune verval het.

INGELEGDE VIS

Vis vir die derde dag

Byna enige vis smaak lekker as dit gepekel is. En dit hou ook vir minstens ’n week in die yskas.

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • 1 eetlepel Kaaps-Maleise kerriepoeier
  • 1 kg visfilette (ons het dorado gebruik, maar geelstert of stokvis werk ook goed)
  • 4 eetlepels olyfolie

VIR DIE PEKEL

  • 2 eetlepels olyfolie
  • 4 groot uie, in ringe gesny
  • 4 knoffelhuisies, gekap
  • 2 eetlepels matige kerriepoeier
  • 1 eetlepel komynsaad
  • 1 eetlepel borrie
  • ’n knippie rissiepoeier
  • ½ teelepel koljandersaad, gekneus
  • 1 stuk gemmerwortel van 2 cm, gerasper
  • 2 kaneelstokkies
  • 4 lourierblare
  • 1 koppie bruinsuiker
  • 3 eetlepels marmelade
  • 3 koppies rooiwynasyn
  • 1 koppie water
  • 2-3 suurlemoene
  • 2 eetlepels ingemaakte suurlemoenskil, gekap (opsioneel)

Só maak jy

1. Sprinkel die kerriepoeier oor die vis en braai dit in sarsies in ’n groot pan met olie tot net-net gaar. Skep die vis uit en pak dit in ’n plat bak wat in die yskas gehou kan word. (Trek sommer die vel af vóór die kinders gril.)

2. Maak die pekel Verhit die olie in ’n pan en smoor die ui, knoffel en speserye tot sag en geurig. Voeg die suiker, marmelade, asyn en water by en laat dit vir 20 minute prut.

3. Geur die pekel met sout en peper en roer die suurlemoenskil plus die sap van een suurlemoen ook daardeur, gevolg deur die ingemaakte suurlemoen. Proe en voeg nog suurlemoensap by indien jy dit verkies.

4. Giet die sous oor die vis. Die vis kan dadelik warm voorgesit word, maar dit kom eintlik tot sy reg op die derde dag in die yskas.

Ry & SleepDie meeste supermarkte verkoop ’n droëspeserymengsel vir pekelvis wat in die plek van die kruie in die pekelresep gebruik kan word – sit net kerrie by.

Agt-in-een lyn

Vislyn is nie sommer net vislyn nie. Die meeste van ons ken daardie dun deurskynende vislyn, maar jy kry ook ’n gevlegte lyn. Vergeleke met die konvensionele lyn wat uit nylonmateriale bestaan, is vleglyn met verskeie veselagtige drade gevleg om die lyn te vorm.

Vleglyn het ’n paar unieke eienskappe wat heelwat hengelaars verkies bo die gewone lyn. Dit rek byvoorbeeld nie. Sodra die vis aan jou lyn raak, weet jy dit dadelik. Dit maak dus ook sin dat vleglyn sorg vir ’n beter haak wanneer jy vasmaak.

Verder dryf vleglyn, wat dit ideaal maak om aas bo-op of naby die wateroppervlak in te katrol. Vir al die voordele moet ’n mens ook uithaal en wys. Vleglyn is per meter duurder as gewone lyn.

Dis ook meer sigbaar vir die vis, en omdat dit nie so elasties is as die ander lyn nie, kan die hoek makliker uit ’n sagtebekvis – soos karp – skeur. As jy jou slag met vleglyn wil probeer, kan jy Allux Titanium-vleglyn op die proef stel wat deur Adrenalin ingevoer word.

Die vleglyn het nie minder nie as agt gevlegte vesels. Dit is beskikbaar in ’n 100 m-, 275 m- en 600 m-spoel met ’n breekkrag van 10-106 lb.

Prys: Vanaf R150 vir 100 m (vanaf R650 vir 600 m).

Kontak: Adrenalin Importers & Distributors; 021 982 1510; catches@4adrenalin.co.zaadrenalinfishing.co.za