ANGE LANG van Durban skryf: Ons was by die Angela’s Safari Camp in die Klaserie- privaatnatuurreservaat langs die Krugerwildtuin. Ons gids het langs ’n rotsagtige dagsoom stilgehou en gevra of ons die uil kan sien. Ná vyf minute van verwoed rondsoek, moes hy dit vir ons uitwys. (Leidraad: kyk links onder...)

En sowaar, daar sit ’n gevlekte ooruil op haar nes tussen die takke. Dis nou “uilstekende” gekamoeflering, as jy my vra. 

Dit het my herinner aan ’n ander keer in die Timbavati-wildreservaat. Ons het na ’n hiëna gekyk toe iemand anders iets sien beweeg in die boom langs ons. Dis toe dat ons die witwanguil op haar nes, ’n orgideeplant, gewaar. Sy was ook mooi gekamoefleer. Die natuur is darem maar wonderlik. 

ONS SOEK JOU KIEKIES

Het jy soortgelyke foto's? Stuur dit na Esma.Marnewick@weg.co.za en ons publiseer dit dalk aanlyn of in die tydskrif!

* Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #149 (Maart 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.