Foto's en video: Annelise Erasmus

Dis Desember 2016, en ons is op pad na Verneukpan. Kniehoogte Karoobossies strek van horison tot horison. Hoe nader ons egter aan ons bestemming kom, hoe meer sien jy grond en hoe minder sien jy plante. Dis droog.

Links van my, ver op die vlakte, sien ek ’n dwarrelwind. En dan nog een. Ek word stadigaan bewus van iets wat in die atmosfeer verander. Die horison aan my kant is baie blouer as die een ander kant. Daar is ’n donderstorm aan die broei, en ek neem ’n paar foto’s met my Nikon D7000 en Nikon 18-140 mm-lens. Dis nie aldag dat dit in die Karoo reën nie, wat nog te sê Verneukpan!

Ek het nog nooit so baie dwarrelwinde gesien nie. Ons hou later op met tel. Dis asof hulle probeer weghardloop van die storm af, want weerlig soek die hoogste punt en op hierdie vlaktes, waar ons die enkele bome al lankal agtergelos het, is dwarrelwinde die hoogste punt.

Dis laatmiddag wanneer ons op Verneukpan aankom. Ons en die storm kom gelyk by die laaste hek aan. Al wat dwarrelwind is, word deur die windstorm verswelg. Buite die laaste hek is die grond wit.

Ons staan op die kurkdroë pan en kyk hoe die eerste druppels val. Ek wil voel hoe die pan voel wanneer die druppels daarop val. Ek gaan lê op die grond en groot, koel druppels val op my droë vel. Onder my word Verneukpan se vel al gladder.

Dit begin harder reën. Soos ’n verhooggordyn skuif die reën oor die pan en meteens is ons in ’n sprokie van klank en kleur, reuk en sensasie. Die kinders dans in die reën, op net die ritme van die storm.

Die storm trek oor ons, maar op Verneukpan kan ons hom nog lank volg. Links van die kampplek sak die son oranje, pers, pienk, rooi. Regs is die blou storm besig om verby te trek. Geel strale kleur die lug voor ons in – oral is reënboë.

Agter ons sluip die nag in ’n stukkie oop lug nader – ’n paar sterre is reeds sigbaar... Ons is op die mooiste oomblik op die mooiste plek.

Annelise Erasmus sê:

“Ek is lief vir die natuur, want ek is lief vir skoonheid. Ek is ewig op soek na die volgende lieflikheid wat my asem gaan wegslaan: die Namib se duine, die sterre bo Spitzkoppe, die Weskus se verlatenheid.

“Verneukpan is so totaal vreemd teenoor die wêreld waarin ek elke dag lewe (ek woon in Pretoria) dat dit vir my eksoties is. By ’n plek soos Verneukpan is dit asof alles wat nie regtig so belangrik is nie, weggestroop word sodat net die belangrikste dele van myself oorbly. Sulke plekke bring my weer in balans.”


Wat het jy al met jou eie oë gesien?
Stuur jou vertelling en reeks foto’s van iets ongewoons wat jy in die natuur gesien het na toast@weg.co.za