Nuwe kampplekke in die Oos-Vrystaat en Limpopo

Haak af by De Ark

Die ooste van die Vrystaat is een van ons land se mooiste dele, maar ongelukkig is hier nie veel kampplekke nie. Nou het die De Ark-berglodge net buite Clarens, wat 25 jaar al besigheid doen, sy verblyfkeuses uitgebrei en woonwastaanplekke ingerig.

De Ark lê pens en pootjies op die Rooiberg met die Caledonrivier ’n kilometer weg en Lesotho met sy Maluti’s op die agtergrond. Miguel Lage, die eienaar, sê hulle het die grond destyds gekoop as wegkomplek vir die familie, maar dit het ontwikkel tot ’n lodge.

“Dit was vir my opvallend om die oplewing die laaste paar jaar in die woonwabedryf te sien. Dis toe dat ons besluit om ons verblyf met ’n kampplek uit te brei,” sê hy.

Die kampplek is in die middel van die stuk grond van 280 ha, en vier van die beplande tien staanplekke is al gereed. Miguel sê die plan is om nie groter as dit te word nie.

Hulle wil hê kampeerders moet hulle eie ruimte in die natuur kan geniet. Die staanplekke is ’n goeie 80 m van mekaar af en ook nie afgekamp nie.

Hier is heelwat wild op die terrein, waaronder elande, sebras, rooihartbeeste en swartwildebeeste, en hulle kom wei sommer tot teen jou staanplek. Elke staanplek het ’n afdak waaronder jou woonwa kan pas, met jou eie badkamergebou langsaan.

Die warm water kom van ’n gasgeiser en die stort is ’n groot oop deel in die vertrek, ook met ’n wasbak. Die toilet is eenkant en afgeskort. Die staanplek het ’n kragpunt en werk met die blou woonwasok. Jy mag nie self rondry om wild te kyk nie, maar Miguel-hulle bied wildritte aan.

Hier is heelwat wild op die terrein, waaronder elande, sebras, rooihartbeeste en swartwildebeeste, en hulle kom wei sommer tot teen jou staanplek.

Daar is wel verskeie staproetes waarop jy enigiets van San-kuns tot vars bergstroompies kan sien. Die laaste stukkie pad tot by De Ark (4,5 km) is ’n grondpad wat bedoel is vir voertuie met ’n hoë grondvryhoogte.

Die kampplek is dus meer vir die boswa- en boswoonwa- eienaars bedoel. Prys R850 p.n. per staanplek vir 4 volwassenes (of tot 6 mense, kinders ingesluit).

Kontak: 058 256 1202; reservations@deark-clarens.co.za; deark-clarens.co.za


Plaas toe!

Dis nie aldag dat ’n mens op ’n Bosveldplaas kan kamp tussen beeste, landerye en wilde diere nie. Maar net mooi tussen Mookgophong en Roedtan – presies 28 km van elke dorp af – is dit nou moontlik.

Wiehahn Geldenhuys boer deeltyds met bees en wild, en plant ook sonneblom en lusern vir die wilde diere. Die plaas is 123 ha groot, en dieper in die bos gaan jy moeilik kry. Wiehahn het op een kol van die plaas, tussen sandgeelhoutbome en sekelbos, 12 kolle skoongemaak as staanplekke.

Dis só uitgelê dat ’n mens nie teen jou buurman staan nie, en die badkamergebou is in die middel. Binne is storte, wasbakke en toilette, maar nie baddens nie. Die opwasplek staan eenkant met ’n uitkykpunt waar die Bosveld voor jou uitgestrek lê. Warm water kom van ’n gasgeiser af.

Die plaasdam is sowat ’n halwe kilometer weg. Langs die dam is koeltebome as jy ’n piekniekmandjie tot hier wil dra en kyk hoe die kinders die water geniet. Verder kan jy ’n ent gaan stap of die fietse bring en tussen die njalas, koedoes en rooibokke gaan trap.

Wiehahn sê die bonsmaras is mak en loop sommer tot in die kampplek. Dit geld ook vir die wilde diere, want die kampgedeelte het nie ’n heining om nie. Bring saam wat jy nodig het, want hier is nie ’n winkel nie (en ook nie krag nie). Prys R350 p.n. vir 2 volwassenes en 2 kinders (R320 p.n. as jy 5 dae of langer staan).

Kontak: 083 777 0141; wiehahngelden@gmail.com


Destination sien die Lig

Die eienaars van Sensation Boats & Living het pas die land se nuutste reeks padwaens bekend gestel. Die nuwe Destination-waens kom in drie modelle wat wissel van dubbel- tot enkelas – en nog ’n variant of twee is aan die kom.

Die bestaande Sensation- woonwaens is aanvanklik ook deur dieselfde eienaars gebou, maar dié is aan die huidige eienaars van Jurgens Ci verkoop. Intussen het ’n hele paar klante van Sensation Boats & Living by hulle aangeklop, en die spontane gevolg was die geboorte van ’n volgende woonwareeks.

Sensation Boats & Living is in 2000 aanvanklik as Twin Boats & Trailer op die been gebring deur die tweelingbroers André en Riaan van Helsdingen. Dit was nie lank nie voor hulle luukse bote begin uitvoer het.

Tien jaar later het Riaan die Sensation-woonwareeks bekend gestel, en in daardie stadium was die waens van die enigste padwoonwaens wat ’n mens met die gehalte en styl van die Europese woonwamark kon vergelyk. Riaan het in 2015 met die Sensation-waens afgestig van Twin Boats en die besigheid is ’n jaar later verkoop.

Die Destination-waens is dus ’n volwaardige nuwe reeks waens met André aan die stuur. Vergelyk ’n mens die nuwe sikspens met die Sensation-waens is dit duidelik André het die bestaande swier nog verder uitgebrei – plaaslik is daar nie veel kompetisie nie.

Die waens se romp bestaan omtrent heeltemal uit veselglas waarvan die panele, dak en vloer afsonderlik gemaak en dan met veselglasstroke geheg word. As gevolg van die aard van dié boumateriaal is die uiteindelike romp asof dit uit een gietvorm kom.

Vergelyk ’n mens die nuwe sikspens met die Sensation-waens is dit duidelik André het die bestaande swier nog verder uitgebrei – plaaslik is daar nie veel kompetisie nie.

Die veselglaspanele het ’n buitenste deklaag met ’n spesiale plastiekbinnelaag asook ’n veselglaslaag en deklaag aan die binnekant. Hierdie lae word met ’n koue proses onder ’n vakuum een gemaak en dit kan beswaarlik sterker.

Die kaste en kasdeure binne word van ligte hout en aluminium gemaak. Daar’s besluit op drie modelle: Die Dream, Journey en Magic.

Die eerste twee is dubbelasmodelle waarvan die Dream ’n De Lux-variant het. Dié het twee panele wat na buite skuif om die leef- en slaapgedeelte nóg groter te maak. Al die waens het slaapplek vir vier mense. Die Dream kos R485 000, met die De Lux wat R200 000 duurder is. (Die pryse van die ander modelle was teen druktyd nog nie beskikbaar nie.)

Die Dream kom standaard met ’n 30 l-geiser, lugreëling (12 000 BTU), koningingrootte eilandbed, 28 l-mikrogolfoond en ’n aparte badkamer en toilet.


Volvo kry ’n bababoetie

Die Sweedse voertuigvervaardiger het bevestig sy kompakte sportnuts, die XC40, kom in April vanjaar Suid-Afrika toe. Die XC40 sluit hom aan by sy ouer en groter broers die XC90 en XC60.

Nes met ander Volvo’s sal daar twee afwerkingsvlakke wees waaruit kopers kan kies: die R-Design en die Momentum. Daar is ook twee enjinkeuses, naamlik ’n D4-diesel en T5-petrol. Almal sal allewielaangedrewe wees.

Die modelreeks sal einde 2018 verder uitgebrei word met ’n D3-diesel, T3-petrol, T4-petrol en ’n keuse tussen voorwiel- of allewielaandrywing. Volvo Suid-Afrika swyg nog oor die pryse, maar hulle het beaam dat die intreevlakmodel onder R500 000 sal kos en die duurste XC40-model hier by die R650 000. 


Konings van die Tankwa

Altesame 22 4x4’s het onlangs op die plaas Stonehenge in die Tankwa-Karoo saamgetrek vir die eindronde van die Cooper Dust-reeks. Die deelnemers het uit vier streke na die Tankwa opgeruk om op dié besonderse lappie aarde kragte te meet.

Aan die einde van die twee dae se kompetisie is Elrico Koen en sy swaer Pierre Genis van Bellville as nasionale kampioene gekroon.

Gerrie van Eeden, die organiseerder van die Dust-reeks (Hy is ook verantwoordelik vir Weg Ry & Sleep se Bull Run. – Red.), sê die kompetisie is op die gewone 4x4-entoesias gemik. Die gedagte is dat 4x4’s wat met namarkse toerusting opgedollie is, nie noodwendig ’n beter kans staan om te wen as ’n standaardmodel nie.

Elrico en Pierre het dié punt bewys deur met ’n standaard-Land Rover Discovery 3 koning te kraai. Die enigste modifikasie is ’n stel 35”-tekkies.

Die pa-en-seun-span Herman en Henry Neethling van George was tweede in hulle kortas Mitsubishi Pajero, terwyl die Bloemfonteinse swaers Louis Kok en Henri Storm derde geëindig het in ’n Toyota Hilux.

Die eindronde het met ’n navigasieroete deur en om die Tankwa-Karoo- nasionale park begin, waar die deelnemers verskeie beheerpunte aangedoen het voor die eindpunt by ’n uitkykpunt bo-op die Oubergpas.

Jy kon egter nie jou lyf Giniel de Villiers hou nie, want daar was ’n teikentyd vasgestel vir die roete van 240 km. Elrico en Pierre het hier al die voortou geneem. Die tweede dag was die deelnemers se kans om hulle staal oor vier hindernisse te wys – en hulle het nie teleurgestel nie.

By elke hindernis kon die deelnemers kies tussen ’n makliker opsie en die moeiliker een, wat meer punte werd was. Niémand het enige van die makliker opsies gekies nie. Die kompetisie is met ’n tydren oor ’n hindernisbaan afgesluit en dít het die motors tot die uiterste getoets.

Die tweede dag was die deelnemers se kans om hulle staal oor vier hindernisse te wys – en hulle het nie teleurgestel nie.

Drie 4x4’s moes hier herwin word. Gerrie sê nog drie streke gaan moontlik vanjaar bygevoeg word, wat ongetwyfeld strawwer mededinging gaan beteken.

Gaan loer by dustmedia.co.za as jy wil inskryf. 


Die Triton ruk mal

Die Hilux Black Edition, Ranger Fx4 en Isuzu X-rider... omtrent elke motorvervaardiger het ’n bakkie vol spesiale plakkers en opgepompte spiere in sy kraal. Nou het die vervaardiger Mitsubishi hom by dié bende aangesluit.

Die Triton Xtreme is deur Suid-Afrikaners vir Suid-Afrikaners ontwerp en spog met ’n bakstel ter waarde van R60 000 wat voornemende kopers kan kry vir slegs R20 000 ekstra op die Triton se standaardprys.

En nes die Moot in Pretoria is daar luukse dele, maar kol-kol is daar ook minder lekker elemente. Maar een ding is seker: Hy’s beslis nie vervelig nie, en die soort mens wat ’n Triton Xtreme koop, is nie skaam nie.

Die bakstel sluit die volgende in: enjinkapbeskermers, ’n unieke sierrooster en mislamphulse, wielboogbeskermers, deurknipbakkies, treeplanke, duursame vloermatte, ’n bakseiltjie, rolstaaf, agterklapbeskermer, petrolklapdop, swart-en-chroom wielvellings en Cooper-veelterreinbande.

Die bakstel word deur Mitsubishi Suid-Afrika aangebring en sal uiteraard nie die waarborg beïnvloed nie. ’n Mitsubishi Triton Xtreme 4x2 (outomaties) gaan jou R519 995 uit die sak jaag teenoor die gewone Triton 2.4 Di 4x2 outomaties wat R499 995 kos.


Van krag tot krag

Suid-Afrikaners is bederf met die keuse van waens, veral boswaens, wat die grootste verskeidenheid bied. Conqueror en Echo4x4 is die swaargewigte wat spesialiseer in die boswa- en woonwasegment, maar die Kaapse vervaardiger Bush Lapa is vinnig besig om deel van dié uitgelese geselskap te word.

Conqueror is bekend vir sy modulêre plaatstrukture, en Echo gebruik hoofsaaklik veselglas vir die romp, maar Bush Lapa fokus op materiale soos vlekvrye staal en aluminium.

Bush Lapa het sy deure in 2010 op Worcester oopgemaak en later uit sy nate gebars – soveel so dat die aanleg Paarl toe geskuif moes word. Intussen het hulle ’n tak oopgemaak in Centurion én ’n handelaarskap in Pretoria.

Loftus Caravan City in Johannesburg het nou ook ’n Bush Lapa-franchise op die been gebring, en nóg ’n handelaar net buite Pinetown het in KwaZulu- Natal oopgemaak. Die nuutste ontwikkeling is dat Bush Lapa nou die internasionale mark betree – die eerste besending is reeds na Australië verskeep.

Die eienaar, Jannie Oeschger, sê hulle het hulle hele reeks gestuur en nie net enkele modelle nie. Die waens moet wel aangepas word vir die Australiese regulasies, maar word hier kant en klaar gebou. Die kleur verskil ook effens van dié van die plaaslike reeks, én die name is aangepas.

Die Gogga-reeks word die Hopper, die Ratel die Badger en die Boabab hou sy naam. Teen die tyd wat jy dié tydskrif lees, het 1 200 Bush Lapa-waens reeds uit die aanleg gerol.

Kontak: 021 870 1277/38; info@bushlapa.com; bushlapa.com