Jurgens Ci-hardebaard nou by Conqueror

Clive Cox, een van die mees gesoute woonwaontwerpers in die land, het hom by Conqueror aangesluit.

Clive was voorheen by Jurgens Ci waar hy hom die afgelope 14 jaar op ontwikkeling en ontwerp toegespits het.

Conqueror, wat hoofsaaklik op die bou van boswoonwaens en boswaens fokus, het intussen ’n nuwe padwaprojek van stapel gestuur.

Clive is as produkontwikkelingshoof aangestel en gaan met Conqueror se padwaens aan die werk spring.

Conqueror is ’n jaar of twee al besig om sy padwamodel, die Roadster, markgereed te kry en het einde laasjaar die prototipe bekend gestel.

Conqueror beoog om ook ’n ligte Roadster te bou wat jy met jou gewone ligtevoertuigrybewys mag sleep (dus met ’n BVM van minder as 750 kg).

In sy jare by Jurgens Ci is meer as 20 000 woonwaens in die Jurgens-fabriek gebou, en in daardie tyd het Clive die maatskappy se hele reeks, wat handelsname soos Gypsey, Sprite, Safari en Jurgens self insluit, herontwerp en vernuwe.

“Ek is ongelooflik opgewonde oor die ligtewaprojek wat voorlê, en ek het reeds ’n hele paar idees,” sê hy. “Waens in dié gewigsklas is ’n groot uitdaging: Daar moet ’n balans wees tussen die tegnologie, boumateriale en die kleinhandelprys. Onthou, ligter beteken kleiner en dus ook goedkoper.”

Clive het hom as meganiese ingenieur bekwaam voor hy die wêreld van woonwaens betree het.


’n Bus en ’n half!

Mercedes-Benz het op die 2018 CMT-skou in Stuttgart, Duitsland, aangekondig hy gaan die bekende Sprinter-paneelwa voortaan in drie bakvorms verkoop: Die volledige paneelwa, ’n naakte leerraamonderstel met ’n kajuit, en ’n kajuit sonder die leerraamonderstel met slegs voorwiele, ’n enjin, ratkas en stuurstang met voetpedale. Dit sal ryhuisvervaardigers in staat stel om hulle eie struktuur aan die kajuit vas te bout sonder om te betaal vir ’n romp wat hulle nie gaan gebruik nie.

Die drie bakwerkopsies sal in 2019 na Suid-Afrika gebring word en behoort aanklank te vind by plaaslike toerbusbouers wat hulle eie gespesialiseerde voertuie soek. Al die Sprinters word in voorwielaandrywing aangebied, wat dinkwerk rakende die meganika uitskakel.

Agterwielaandrywing, sê Mercedes, is ook beskikbaar. 


Land Rover: Oud...

Land Rover se eerste prototipe, die Huey, het op 11 Maart 1948 uit die werkswinkel gery en hy kan vandag nog in die Britse motormuseum in Gaydon, Brittanje, besigtig word. Altesame 47 ander prototipes is gebou waarvan die derde een (onderstelnommer 3) na die 1948 Amsterdamse motorskou gestuur is. Ná die skou is #3 verkoop, en hy het ’n hele paar eienaars gehad voor hy in 1988 spoorloos verdwyn het. In 2016 is ’n gehawende #3 in ’n tuin gewaar en Land Rover het die ou wrak teruggekoop.

Restoureerders gaan vanjaar begin om #3 se meganiese onderdele te herstel, maar daar’s besluit hulle gaan hom nie volledig opknap nie.

Net die oksidasie op die ou aluminiumbakwerk word gestabiliseer; die beskadigde verfwerk word net so gelos.

... en nuut

Land Rover het vanjaar heelwat ysters in die vuur. Behalwe die restourasie van #3 herdenk Land Rover ook sy sewentigste bestaansjaar met ’n spesiale (en heel laaste) Works V8-weergawe van die Defender 90.

Eienaars wat die finale Heritage Edition-Defender gekoop het, gaan waarskynlik boos wees dat húlle ryding toe nie die beloofde swanesang was nie. Suid-Afrikaners gaan ook sukkel om die V8 Defender te bekom aangesien hy slegs in Brittanje, Noord-Amerika en die Midde-Ooste verkoop gaan word, en daar word boonop slegs 150 eenhede gebou.

Dit staan jou egter vry om Land Rover in Brittanje te kontak en spesiaal vir jou een in te voer, maar hy gaan ’n plaas se prys kos en daar is geen waarborg dat dié weergawe die laaste van sy soort gaan wees nie – oor ’n paar maande steek daar dalk ’n laaste-laaste weergawe kop uit. (Dis amper soos die Springbok Nude Girls wat elke twee jaar hulle laaste konsert óóit hou. – Red.)

En laastens is daar natuurlik die splinternuwe Defender wat hopelik aan die einde van 2018 bekend gestel gaan word. Maar soos ons nou al geleer het, moet ons maar wag en sien. 


Nuwe kampplek teen die Vaal

Kampplekke teenaan die Vaalrivier is gesog, en in die omgewing van Parys is ’n hele paar netjiese voorbeelde.

Die Casa Cara-lodge het nou ook sy hand opgesteek met nuwe staanplekke wat private ablusiegeriewe insluit.

Casa Cara is 7 km buite Parys in Sasolburg se rigting en fokus onder meer op gesellighede soos troues.

Hier is ’n restaurant plus chalets en selfsorgeenhede. Die 13 staanplekke is nuut en teenaan die rivier.

Elke staanplek het onder meer sy eie plaveisel, ’n braaiplek en kragpunt, asook ’n stort en toilet in jou badkamer.

Die staanplekke lê al teen die oewer van die rivier, en elkeen het ’n skoongemaakte deel van waar jy kan hengel. As jy eers jou slag met die lyn en sinker wil toets voor jy die rivier aandurf, is daar ’n dammetjie naby die restaurant. Hier gaan jy onder meer karp en baber uittrek (maar jy moet die vis vrylaat).

Die speelpark vir kinders is nader aan die hoofgeboue (én swembad), en kampeer- ders is welkom om hier te kom ontspan.

Prys R350 p.n. per staanplek vir 4 mense (Sondae tot Donderdae); R450 oor naweke. Daarna kos dit onderskeidelik R60 en R80 p.p.

Kontak 056 817 1251 of 083 554 9204; lodge@casa; cara.co.za; casacara.co.za


Die Duitsers hou kampskou

Weg Ry & Sleep het die wêreld se grootste buiteleweskou, die CMT-skou in Stuttgart, Duitsland, bygewoon. Dit was opvallend hoe die Europese kampkultuur van Suid-Afrikaners s’n verskil – daar was hoofsaaklik ryhuise en weinig woonwaens, en van boswaens en boswoonwaens geen teken nie. Die naaste aan ’n boswa was ’n abbawa.

Ons eie Alu Cab het ’n stalletjie by die CMT-skou gehad waar hulle abbawaens ten toon gestel is. Europeërs wat dit oorweeg om deur Afrika of om die wêreld te reis kon wel uit dosyne Unimogs en viertrek-Iveco’s kies.

’n Ander tendens wat oorsee besig is om pos te vat is afleweringswaens – sogenaamde “white vans” – wat in kompakte ryhuise omskep word.

Dit is veral gewild onder jong mense wat nie die geld of ’n swaarvoertuigrybewys het vir ’n groot ryhuis nie. (Hier op eie bodem is bussies soos die Volkswagen Kombi en Mercedes se V-klas Marco Polo net so gewild)

Die CMT-skou word elke Januarie in Stuttgart gehou. 


Swak verkope in Desember

Aansienlik minder nuwe voertuie is in Desember 2017 verkoop as in die ooreenstemmende tydperk in 2016 – 1 008 minder. Boonop is 1 333 minder nuwe voertuie uitgevoer.

NAAMSA skryf die daling toe aan kopers wat verkies om te wag vir nuwe geslag voertuie – soos die nuwe Volkswagen Polo. Verkope oor Desember was ook laer as in November, aangesien kopers eerder wou wag om hulle voertuie in 2018 te registreer.

Toyota se beste verkoper in Desember 2017 was die Hilux (3 382 eenhede), wat ook die gewildste voertuig in die land is. Altesame 1 108 Fortuners het huis gekry terwyl Toyota slegs 7 FJ Cruisers kon swaai.

Ford se groot geldmaker was die Ranger, waarvan 2 681 eenhede verkoop is, en sy naaswenner die Ecosport, met verkope van 892. Van die Kuga het slegs 66 verkoop.

Volkswagen se Polo was ’n uitblinker, maar wat sportnutsvoertuie en bakkies betref, is 432 Tiguans, 315 Amaroks en 17 Touaregs verkoop. Audi se suksesvolste Q-reeks was die Q3 met verkope van 125, en die ongewildste Q-reeks die Q7 met ’n verkoopsyfer van 31.

Nissan het 869 NP300’s aan nywerhede verkoop, maar die Hardbody kon slegs 95 haal tenoor 260 Navaras wat by die deur uit is. Die X-Trail het glad nie sleg gevaar nie: 231 is verkoop.

Land Rover se nuwe Discovery en Range Rover Sport het onderskeidelik 94 en 93 eenhede verkoop, terwyl meer welgesteldes die nuwe Range Rover Velar (68) as die Jaguar F-Pace (48) omarm het.

’n Ander verrassing was Alfa se Stelvio wat 11 eenhede verkoop het.

BMW, Mercedes-Benz en Porsche verskaf nie hulle individuele model-syfers nie en derhalwe weet ons nie hoeveel X-reeks-, G-klas- en Cayennes-modelle baas gekry het nie.

Die agterosse was die Jeep Cherokee waarvan slegs 5 verkoop is; Suzuki kon slegs 4 Grand Vitaras swaai; 3 Fiat Pandas is verkoop; 2 mense het ’n Chev Trailblazer gekoop (Lees dié twee dan nie koerant nie? – Red.) en slegs 1 siel het belang gestel in ’n Volvo V90 Cross Country. En dit ís so ’n gawe ryding.

Januarie 2018 behoort aansienlik beter te lyk, want dit is tradisioneel die maand wanneer mense nuwe rygoed aanskaf. 


AL-KO in SA kry nuwe grootbaas

Ná ses jaar as besturende direkteur by AL-KO Trailco gee Ralf Dreithaler die leisels oor aan Walter Mech.

Ralf keer terug na Duitsland waar hy hom aansluit by die maatskappy se span wat kommersiële sleepwaens verkoop.

Walter was 10 jaar lank hoof van Garmin in Afrika suid van die Sahara. Hy sluit hom in Vereeniging aan by AL-KO se Suid-Afrikaanse hoofkantoor.

AL-KO is een van die grootste verskaffers van woonwa-onderdele in die land.


Jaguar E-Pace: ’n Volle 38 van hulle!

Jaguar het pas die modelreeks en pryse vir sy op-komende E-Pace bekend gestel. Daar gaan altesame 38 variasies van dié voertuig wees, almal met allewielaandrywing en ’n 2 l-enjin. Petrol- én dieselweergawes is beskikbaar.

Jaguar gaan die E-Pace in vier afwerkingsvlakke aanbied: Base, S, SE en HSE. Dan is daar ook die sogenaamde Special Edition wat op spesiale aanvraag bestel kan word, en slegs in die eerste jaar van verkope.

Die goedkoopse E-Pace (2.0 diesel D150 Base) gaan R598 500 kos en by R851 600 draai as jy die First Edition-diesel soek. Die petrolweergawe skop af teen R667 800 en sý First Edition-weergawe kos R895 700.

Die E-Pace word op 18 Maart vanjaar in Suid-Afrika bekend gestel. 


Verhuur jou kampgoed

Die tendens deesdae om iets te huur eerder as om dit te besit is besig om toe te neem. As jy byvoorbeeld nie kans sien om die huispaaiement vir ’n plekkie by die see te betaal nie, kan jy by airbnb aansluit en ’n strandhuis enige plek ter wêreld huur, en jy kan boonop jou eie eiendom aan ander vakansiegangers verhuur.

Wel, by GoGet kan jy nou kamptoerusting soos rugsakke, tente en fietse huur.

Deur op die webblad te registreer kan jy kamptoerusting naby jou vakansiebestemming soek, die eienaar van daardie toerusting kontak en dit gaan haal sodra jy in jou vakansiedorp opdaag. Betaling vind plaas op die webblad en jy hoef dus nie jou beursie op ’n vreemdeling se stoep oop te maak nie.

Teen druktyd kon jy ’n trapfiets teen R120 p.d. huur in Langebaan, en ’n ander man se snelboot in Harrismith gebruik vir R3 200 p.d. Sodra jy geregistreer is, kan jy ook jou eie toerusting verhuur terwyl jy dit nie self gebruik nie. Dis dalk ’n slim manier om jou duur GPS vir homself te laat betaal.

Kontak  goget.co.za


Ranger keer terug na Amerika

Amerikaners hou van groot bakkies, dís gewis. Kyk byvoorbeeld na die reusagtige Dodge Ram en Ford F150 wat as volgrootte bakkies beskou word. Kleiner bakkies – of die middelslagsoort – soos die Toyota Tacoma en Chevrolet Colorado se gewildheid is egter besig om te groei.

Ford se Wayne-aanleg in Michigan gaan die Ranger bou, en hoewel dit geskoei is op die Ranger hier op eie bodem, gaan daar beduidende verskille wees.

Die Amerikaanse turboaangejaagde 2,3 l-enjin kry ’n 10 spoed-outomatiese ratkas. Ford swyg oor die kraglewering, brandstofverbruik en sleepsyfer, maar ons reken dit sal nie veel verskil van ons eie Ranger nie.

Waarom is dit nuus? Die Amerikaners gaan tegnologie soos onder blindekolsensors vir die bakkie en sleepwa en voetgangersensors inspan. Hierdie katoeters kan hulle pad na ons Rangers vind en ons kan ook ’n vrag nuwe toebehore soos bos-brekers, rolstawe en allerlei ander toerusting verwag.


Invader brei uit

Die Kaapse boswavervaardiger Invader het sy handelaarsnetwerk uitgebrei met vyf afsetpunte reg oor die land. Hulle het kantore in Kaapstad en Pretoria, en vyf van die groter woonwahandelaars in die land gaan nou ook hulle waens verkoop: Cara-Camp Caravan & Outdoor Centre (Somerset-Wes), CampGuru (Kempton Park), Natal Caravans & Marine (Pinetown), Loftus Caravan City (Randburg) en Pretoria Caravans. Die handelaars gaan ook onderdele verkoop én die waens kan diens.

“Ons bou tans 6-7 eenhede per maand, maar met die nuwe winkels stoot ons dié syfer op tot 20,” sê Dan-Pierre Louw, Invader se uitvoerende hoof. Die maatskappy het ook sy personeel die afgelope jaar verdubbel.

• Terwyl Invader sy vere regskud vir groter sake, het Quintus Lategan hom by die maatskappy aangesluit om die bemarking en verkope te behartig. Quintus was tot onlangs toe besturende direkteur van Jurgens Ci nadat Imperial die maatskappy aan Paul Kyriacou verkoop het.

Kontak 0861 468 2337; invader.co.za