Foto: Annemarie van der Walt

Scootours maak gebruik van veldskopfietse en batteryaangedrewe bromponies. Eersgenoemde werk met pure gravitasie en is vir dié wat op soek is na meer avontuur, terwyl die bromponies ’n kalmer sit-sit-so is. As jy goeie balans het, is dit ’n vulletjie om bo te bly.

Met die veldskopfietse gaan jy op ’n 6 km lange afdraandroete deur meestal inheemse bosse – lekker adrenalien! – terwyl die bromponie-toere in die dorp en nabygeleë plantasie is. Op dié toere vertel die jare lange inwoner Rudi du Plessis meer van die geskiedenis en wys ou geboue en bakens uit. Op jou eie sou jy wraggies nie afgekom het op die ysterpen waaraan toeka se boewe vasgeketting is aan ’n rots voordat die twee tronkselle gebou is nie.

Die fietse en bromponies het dik wiele vir ’n gemaklike rit op die grondpaaie, en maak byna geen geluid nie sodat jy steeds die swartkopwielewaal en bosduiwe in die verbygaan kan hoor roep.

Koste Bromponies: R200 (passasier R100) vir ’n dorpstoer, insluitend die begraafplaas; R250 (passasier R125) vir ’n uur lange rit in plantasies en omliggende gebied; R350 (passasier R175) vir ’n gekombineerde toer van sowat twee uur. Veldskopfietse: R450 p.p. vir twee uur.

Oop Elke dag van 8 vm.-4 nm.

Facebook Kaapsehoop Outdoor

Besprekings Rudi du Plessis 079 692 0658 of Juliette Whelpton 072 954 6109