Die uitvoerende burgemeester van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM), dr. Helena von Schlicht, het op Donderdag 27 September 2018 die jaarlikse Burgemeester-toerismetoekennings op ’n glansgeleentheid buite Stellenbosch aangebied. 

Hierdie galageleentheid word deur die deelnemers, plaaslike toerismeverenigings (PTV’s) en ander belangstellendes bygewoon en is een van die hoogtepunte op die burgemeester se kalender.

“Die passie vir ons distrik en sy mense is sigbaar in hierdie deelnemers. Van ’n spesiale projek wat reeds tot ’n internasionale loopbaan gelei het, tot die geleentheid om ’n jagluiperd terug te plaas in die natuur. Of om ’n wêreldbekende kaasfees by te woon of teen ’n hoë spoed op ’n fiets bergaf te ry. Hier in die Kaapse Wynland het ons alles,” het die burgemeester aan ’n waarderende gehoor gesê. 

Die passie vir ons distrik en sy mense is sigbaar in hierdie deelnemers.

Die Burgemeester-toerismetoekennings gee erkenning aan die waarde van positiewe nasionale en internasionale verhoudinge en die bydrae wat toerisme tot plaaslike ekonomiese ontwikkeling lewer. Vir elke agt toeriste wat in die Kaapse Wynland oorbly, word een permanente werkgeleentheid geskep. 

Die burgemeester dr. Helena von Schlicht.

Vir Suid-Afrikaners, en veral diegene wat in die Wes-Kaap woon, is die streek binne bereik vir ’n wegbreeknaweek. ’n Mens kan skemerkelkies, uitstekende kos en goeie musiek op die Vrydagaand geniet, vroeg wakker word vir bergfietsry of ’n draffie in die park, en rustig deur een van die passe na een van die vrugbare en ryk valleie ry.

Die keuse is joune om die middag by ’n plaasmark of ’n restaurant deur te bring, of vir ’n wandeling te gaan. Bly in pragtige art deco-kamers in die historiese Tulbagh, of kyk hoe die arende hulle nes bou terwyl jy op jou private balkon staan. En as kos vir die siel, kan jy Sondagoggend enige van die talle historiese of moderne kerke in die omgewing bywoon. Rond jou naweek af met ’n jenewer-proesessie of ’n ligte middagete voordat daar huiswaarts gekeer word. Die grootste voordeel van die Kaapse Wynland is die ligging – dis skaars ’n uur se ry vanaf Kaapstad, die Weskus en Suidooskus. 

En as kos vir die siel, kan jy Sondagoggend enige van die talle historiese of moderne kerke in die omgewing bywoon.

Daarbenewens bly die streek een van die gewilder gebiede vir die sogenaamde langafstand-reisiger om te besoek – mense wat van ver af na Suid-Afrika reis. Op pad na en vanaf ander bestemmings geniet hulle die ervarings van die Kaapse Wynland, soos bergfietsry in die pieke, etes met plaaslike inwoners, ’n besoek aan ’n brouery van boetiekbierbrouer of ’n rolprent-aand in ’n klein private teater.

Onder die wenners van vanjaar se toekennings was La Motte in Franschhoek, wat bykans 100 000 besoekers per jaar ontvang, en die wynbestemming Imbuko Wines in Wellington wat die parkdrawwers, voëlkykers en wandelaars verwelkom en hulle met heerlik vrugtige en ligte lae-alkohol spritzers bedien.

Die beoordelaars was onafhanklik en onpartydig, prof. Sanette Ferreira van die Universiteit Stellenbosch, en Madeleine Mitchell van Wes-Kaapse Regering Toerisme. Hulle het kandidate streng geëvalueer. Ondernemings moes aan streng kriteria voldoen en op hulle onderskeie gebiede uitblink.

“Dit beteken dat ons nie bloot ter wille van die toekenning punte toegeken het nie,” het die beoordelaars gesê, “maar slegs punte toegeken het waar dit geregverdig was. Wanneer ’n onderneming die KWDM Burgemeester-toerismetoekennings-trofee vertoon, kan die besoeker seker wees dat dit na verdienste toegeken is. Dit is ’n prys wat vertrou kan word.” 

Die Wynland is een van vyf distriksmunisipaliteite in die Wes-Kaap, het die burgemeester gesê. “Die potensiaal wat ons in ons mense, ons diversiteit en ons landbou het, maak dit ’n wonderlike plek om te besoek. Daarom is ons slagspreuk: Die Kaapse Wynland, ’n 1 000 dinge om te doen . . . en dan so ’n bietjie wyn!”

Die burgemeester sal in die volgende paar maande al die wenners besoek om hulle persoonlik te geluk te wens en verdere geleenthede vir vennootskappe in die toerismebedryf te ontgin.

Die Kaapse Wynland, ’n 1 000 dinge om te doen . . . en dan so ’n bietjie wyn!


Die wenners is:

Kategorie: Burgemeester se Diskresie

Wenner: Protea Farms, Montagu

Kategorie: Uitnemende Diens

Wenner: 4 Cousins Robertson

Naaswenner: Big Sky Cottages Ceres

Aanbeveling: Cape Dutch Quarter, Tulbagh

Kategorie: Spesiale Projekte

Wenner: DanceScape Zolani, Ashton

Kategorie: Entrepreneurskap

Aanbeveling: Route 62 Brewery, Montagu

Kategorie: Wyn-toerismebestemming

Wenner: La Motte, Franschhoek

Naaswenner: Val du Charron, Paarl/Wellington

Aanbeveling: Imbuko Wines, Wellington

Kategorie: Volhoubare ontwikkeling 

Wenner: Stellenbosch Universiteit-museum

Aanbeveling: Ashia Cheetah Sanctuary

Kategorie: Fees van die Jaar

Wenner: Kaasfees, Stellenbosch

Naaswenner: Montagu Makietie