Foto's: Toast Coetzer

1. Die aksie begin noord van die Zambesi

Die Zambesirivier naby die Ngonye-waterval (Sioma), Zambië.

Suid-Afrikaners kyk uit ’n unieke hoek na die res van Afrika.

As jy glo dat suid “onder” is, dan sit ons hier “onder” en kyk “op” na die res van die vasteland. Ons is deel daarvan, maar dikwels so verstrengel in ons daaglikse doen en late binne ons eie landsgrense dat ons vergeet ’n ganse vasteland lê – net buite die TV-weervoorspelling se gebiedskaart – rustig en wag.

Om daar te kom moet jy dus noord ry en riviere oorsteek. Eers die Limpopo, of dalk die Oranje of dorre Molopo. Dan, later, as jy mik vir die dele van Afrika waarheen ek laat in 2016 gereis het, die Zambesi.

Dié magtige rivier is soos geen ander rivier suid daarvan nie. Dis nie ’n rivier waardeur jy kan stap, swem of selfs met ’n 4x4 ry nie. Nee, die Zambesi dwing respek af.

Dié magtige rivier is soos geen ander rivier suid daarvan nie...

Brûe daaroor is skaars, en plek-plek moet jy nog ’n pont vat om die ander oewer te bereik. In die water wag dinge met tande: tiervis, krokodil, seekoei. Staan eers ’n ruk en kyk na die rivier.

Verbeel jou sy oorsprong iewers in Zambië. Verbeel jou hoe sy vloedvlaktes in die vloedseisoen kan uitstrek. Hoe dit stroom-af iewers oor die Victoriawaterval tuimel.

Die duisende mense wat op sy oewer woon. Uiteindelik waar dit wyd uitloop in ’n delta teen die Indiese Oseaan. Steek dan die Zambesi oor, sodat jou kopskuif kan begin.

2. Jy’s op jou eie

Kampplek by die Kapishya-warmwaterbron, Zambië.

Hoe verder weg (in tyd en afstand) jy van jou huis af vorder, hoe meer val gedagtes daaraan weg. Jy dink nie meer aan die feit dat jy vergeet het om jou tuinslang in die motorhuis toe te sluit nie.

Jy dink nie meer aan Suid-Afrikaanse politiek nie. (Wie is nou weer die adjunkpresident? Jy’s nie meer seker nie.) Sommige dae gaan selfs verby sonder dat jy jou hond, kat of kokketiel mis.

Na ’n ruk besef jy: Ek is op my eie. Dis werklik ’n bevrydende gevoel. Teen hierdie tyd sal jy al geolie wees met jou daaglikse kamproetine van tent op- en afslaan, kosmaak, skottelgoed was.

Jy sal tuis voel in jou voertuig – jou veilige hawe, kantoor én sitkamer op jou lang reis. Jou kaarte en gidsboeke sal op die regte plekke in die kar lê, als binne bereik.

Die omvang van jou avontuur sal nou merkbaar begin word, en jy sal dit kan begin waardeer. Nie net die groot gesigte langs die pad nie – élke oomblik. Want die lewe is kort, en jy is nou hier: wat ’n voorreg.

3. Maar iemand sit en wag vir jou...

Patrick Moyo, Kafue- nasionale park, Zambië.

Jy reis nooit alléén nie – al voel dit soms so in die knus kajuit van jou kar. Nou en dan hou jy stil, draai die venster af of maak die deur oop. Jy klim uit en gesels met mense.

Dalk met iemand by wie jy tamaties koop langs die pad in Mbeya, Tanzanië, of die vrou wat jou petrol ingooi in Kapiri Mposhi, Zambië. Dan is daar die mense wat in die toerismebedryf werk.

Hulle maak staat op mense soos jy vir hulle bestaan. Soos wat jy inry by die hek van Kisolanza Old Farmhouse naby Iringa in Tanzanië sal iemand opstaan uit ’n stoel en gereed staan met ’n glimlag wanneer jy stram uit jou kar klim en nader stap om te hoor of hier vanaand kampplek beskikbaar is.

En elders, waar jy nie nou kan sien nie, sal iemand in die kombuis begin uie sny vir vanaand se maaltyd in die restaurantjie. By Mayukuyuku in die Kafue- nasionale park, Zambië, sal jy vir Patrick Moyo aantref.

Hy’s ’n veteraan van die park en met sy raad spoor jy dalk net die wildehondetrop rondom Hook Bridge op. Dit is mense soos Patrick wat jou reis deur Afrika die moeite werd gaan maak.

As jy slegs staatmaak op jou GPS en gidsboeke, gaan jy skaars die helfte van Afrika se wildernisplesiere ontdek. Dit is gerusstellend om te weet – hoewel jy onafhanklik reis – jy is nooit alleen nie. Oral padlangs is daar mense wat jou ondersteun.

4. Die wêreld is vreemd

Teeplantasie Suid van Gisenyi, Rwanda.

Hoekom reis ons? Elke Weg-leser sal hierdie vraag anders kan beantwoord.

Ek dink ons reis bloot omdat ons nuuskierig is. Wat lê om die volgende draai? Hoe sal dit voel om op die rand van die Ngorongorokrater te staan? (Jy gaan voel soos ’n muggie op die rug van ’n baie groot buffel.) Ons het almal ’n bietjie swerwersbloed wat begin roer wanneer ons ’n padkaart oopmaak.

Ek hou daarvan om vooraf die roete waarlangs ek wil ry met my vinger te volg en by prikkelende plekname te talm. Wat gebeur in Sumbawanga? (Nie veel nie, maar jy kan darem ’n roomys koop.)

Ek dink ons reis bloot omdat ons nuuskierig is. Wat lê om die volgende draai?

Is Mwanza ’n groot dorp? (Dit het ’n lughawe!) Is daar slaapplek in Nyakasanza? (Ja, die Dream Land Motel is skaflik, en jy sal jou hoender eers in lewende lywe ontmoet voordat jy hom op jou bord kry...) Hoe verder noord jy ry, hoe meer anders raak die wêreld.

’n Toilet lyk anders – ’n gleuf op die grond, dis tyd vir hurk! ’n Kwevoël lyk anders – in Tanzanië kry jy so ’n mooi bonte. Die landskap lyk anders – padlangs staan dalk eerder teeplantasies as mielielande.

Die spyskaart lyk anders – dis hoender en vis (jy moet maar ’n foto saamneem van ’n skaaptjop, sodat jy darem daarna kan kyk as jy te veel verlang).

5. Maar ook nie só vreemd nie!

Naby Tarangire- nasionale park, Tanzanië.

Tog is jy steeds in Afrika, wat ook jou vasteland is. Ons wat hier gebore is, het ’n “gewoondheid” vir dinge: As ’n vlieg op jou voorkop kom sit, kan hy maar eers vir so ’n rukkie sit voordat jy hom wegwaai.

Jy dink ook nie dadelik dat jy malaria gaan kry nadat een muskiet jou gebyt het nie. Jy het darem ook al ’n slaggat of tien in Suid-Afrika gesien – nog ’n paar is niks nie.

Veral Tanzanië se nasionale parke sal jou ook gereeld aan ons eie parke – veral die Krugerwildtuin – laat dink. Daar is die gerusstellende teenwoordigheid van piekniekplekke, waar jy op bankies by tafels kan aansit en jou middagete geniet – en, net soos hier, dalk nou en dan ’n blouaap sal moet wegjaag!

Jy is ook ’n toeris, en oral gaan jy ander toeriste teëkom. Of hulle nou van Benoni of Beijing is, jy sal altyd iets gemeen hê om oor te gesels: Watse kamera het jy daar? Het julle leeus gesien vandag?

Waarheen ry julle volgende? En dan is daar die verrassinkies. Iewers naby die Tarangire- nasionale park in Tanzanië sien jy dalk ’n spazawinkel genaamd “Rehoboth” en skielik verlang jy Namibië toe.

Of jy stap by die nabygeleë Arusha se Rotterdam-supermark in en sien Provita, tennisbeskuitjies, Suid-Afrikaanse wyne (wraggies ’n Chocolate Block!) en selfs boerewors en biltong. Dan kóóp jy daai biltong!

6. 500 km is nie wat dit was nie

Teerpad naby iringa, Tanzanië.

In Suid-Afrika kan jy maklik op die N1 klim en 1 000 km ver ry – jy weet die padoppervlak gaan goed wees, dat daar soms verbysteekplek sal wees, en dat daar elke 300 km iets soos ’n Ultra City of One Stop op die horison gaan verskyn.

Elders in Afrika werk dinge nie so nie. Selfs al is die teerpaaie soms goed, kan jy selde meer as 500 km per dag aflê. Omdat die padnetwerk in byvoorbeeld Tanzanië baie kleiner is as in Suid-Afrika, word die teerpaaie wat wel bestaan, druk gebruik.

Boonop swenk hoofpaaie nie soos hier óm groot dorpe nie, en jy ry soms vir lang kilometers deur klein nedersettings waar die spoedgrens tot so laag as 50 km/h is (omdat so baie voetgangers, fietse en diere ook die pad gebruik).

Dit is dus belangrik om jou oornagplekke vooraf só uit te werk dat jy nie meer as 300 km per dag hoef te ry nie. Om te bestuur is deel van jou vakansie, en in Afrika sal jy leer dat jou ure op die pad ook lewensverrykend kan wees.

Afrika wil eintlik maar net vir jou sê: Stadig oor die klippe, en geniet die wonderlike wêreld rondom jou.

7. Eet wat die mense rondom jou eet

Vis-en-tjips, Rangers Café, Dar es Salaam

Ons is bederf in Suid-Afrika, dít kom jy gou agter soos jy noordwaarts oor die Zambesi vorder. Skielik raak supermarkte skaars, of minstens die soort supermark waaraan jy gewoond is.

In die stede soos Lusaka, Dar es Salaam en Kigali kan jy enigiets koop wat jy in Johannesburg of Kaapstad kan koop, maar in die duisende kilometers tussen dié punte raak ’n olyf – of olyfolie – byvoorbeeld bitterskaars.

As jy dus ’n swak plekkie het vir iets spesifieks, moet jy dit saamry uit Suid-Afrika. En tog moet jy ook bloot anders begin dink oor wat jy eet. Wat eet die mense rondom jou? Iewers kou iemand suikerriet, of ’n ou vrou sit en maak kassawa gaar.

’n Masai-jongman verkoop gebraaide bok onder ’n kremetart langs die pad. Waar jy in Suid-Afrika dalk deur ’n dorp sou ry en soek na die bekende kentekens van ’n Wimpy, KFC of Steers, begin jy later weet waarvoor om uit te kyk in die klein dorpies van Tanzanië: groot glaskaste, amper soos ’n vistenk, vol aartappelskyfies.

Vars brood, Shiwa Ngandu, Zambië
Vars vrugte, Al-Minar-hotel, Zanzibar

Wanneer ons hierdie glaskaste gesien het, sou ons dadelik stilhou en ’n bord vol koop – soms met ’n eier daardeur gebraai. In Dar es Salaam se Ranger’s Café het ons die beste ete van ons reis gehad: vis met kokosneutmelkkerrie, voorgesit met rys en ’n ertjiegereg, en dan ook gebraaide vis met skyfies.

Terwyl ons gewag het, het ons Tanzaniese tee en ’n glas yskoue waatlemoensap gedrink. Dit alles het ons net R128 gekos! Vars vrugte in Zanzibar, ’n stewige bord vol hoender-en-kassawa by Elephant Motel naby die Mkomazi- nasionale park en vars broodrolletjies gekoop langs die pad by Shiwa Ngandu in Noord-Zambië is eenvoudige maaltye wat ons nog baie lank sal onthou.

Eet gerus wat die mense rondom jou eet, en ’n nuwe ontdekkingsreis begin. 

8. Die aarde is nog nie klaar nie

Nyiragongo-vulkaan, DRK

’n Reis deur Afrika is een van ope bewondering.

Die verskeidenheid landskappe – van die groot mere soos Tanganjika en Victoria (of Malawi, as jy dit insluit by jou reisplan) tot die savanneveld van die Serengeti, die kusvlaktes oortrek met palmbome, en die ruwe berge van Tanzanië (soos die Udzwunga of Usambara) – gaan jou verstom.

Omdat so ’n toer noodwendig lank is (moenie met minder as twee maande tevrede wees nie – drie of vier is beter), sien jy die seisoene kom en gaan. Dalk is dit aanvanklik stowwerig en winderig.

’n Reis deur Afrika is een van ope bewondering.

Maar dan begin die donderwolke wit seile span, die humiditeit skiet die hoogte in en die somer se eerste reën begin val. Die aarde is altyd aan die roer, en selfs al is ons besig om van die weerpatrone op te neuk, vergeet ons ook alte dikwels hoe nietig ons teenoor die aarde staan.

Nêrens het ek dít meer intens ervaar as toe ek by die kelk van die Kongo se berg Nyiragongo ingekyk het nie. Doer onder het ’n lawapoel gelê en bruis soos ’n baie gevaarlike glas vol Eno (ja, hier rond het die aarde erge sooibrand!).

Net regs van die poel het ’n skoorsteentjie gedurig lawa en gasse uitgespuug, bewyse dat Afrika se Skeurvallei steeds aan die skeur is, en dat Oos-Afrika dalk eendag iewers op pad na Indië toe in die see gaan lê.

Eendag lê nog ver in die toekoms, maar in Afrika kan jy leer dat die aarde nog aan die vorm is.

Ons mag dalk dink ons is die laaste pagters op aarde wat dit nou in die grond in boer met ons misbruik daarvan, maar nee – die aarde gaan hier wees lank nadat ons aardse polisse verval het.

9. Jy kan lief raak vir ’n ketel

Kampplek by die Kapishya-warmwaterbron, Zambië

Wanneer jy op ’n lang selfryvakansie gaan, raak jy ekstra vertroud met elke stukkie kamptoerusting wat jy besit. As jy nie voor die tyd geweet het of jou matrassie sag gaan slaap nie, sal jy weldra uitvind.

Daai duur kopliggie wat jy gekoop het – hy kan jou beste vriend word vir die volgende 100 aande. Ons het heeltemal verknog geraak aan ons ketel. Wanneer die Cadac-gas begin raas en die ketel vol water daarop gestaan het, sou dit beteken ons dag het begin, en dat daar nou-nou koffie sou wees.

Of aan die einde van die dag: tee. As jy water kan kook – en diep in ’n kampstoel kan sit – dan is dit asof jy altyd iets van die gemak van jou huis by jou het.

’n Eenvoudige koppie warm koffie, tee of sop kan jou van ’n lang dag by die grenspos laat vergeet. Lank lewe die nederige ketel!

10. Die beste mense sit reg langs jou

Mayukuyuku-kampplek, Kafue, Zambië

Dalk toer jy met vriende of familie – dalk ’n broer, suster of buurman en sy gesin. Dalk is dit net jy en jou man of vrou. Ek het saam met my meisie, Alice, getoer.

Vriende uit Suid-Afrika het ’n paar weke lank by ons aangesluit, maar vir die grootste deel van die reis was dit net ek en Alice in die Toyota Fortuner. Sy het vir my boek gelees om vervelige bestuurstyd te verlig, help soek na skaars woudvoëls in Rwanda en help kosmaak, kamp maak en reis beplan.

Jy besef gou hoe belangrik dit is dat jy met die régte mense die langpad (én die lewe se paaie!) aanpak. Die persoon wat reg langs jou sit, is die een met wie jy alles deel: maaltye, ’n tent, die kajuit van die kar, frustrasies wanneer die pad sleg is, maar ook grootse oomblikke wat die natuur langs jou roete aan jou skenk.

Afrika leer jou ékstra lief wees vir dié persoon wat langs jou sit.

Lees ook Toast se ander artikels oor sy reise deur Afrika in Weg #151-158.