1. Die voorwêreld lê vér!

In die Bosveld praat mense gereeld van “die voorwêreld”. Hulle sal byvoorbeeld besoekers uit Gauteng vra: “Het dit al daar by julle in die voorwêreld gereën?” Of soms sal gegrap word dat een of ander boer “vir hom ’n vrou in die voorwêreld gaan soek het”.

Rofweg gesproke is die voorwêreld besiger plekke nader aan die stede, maar blykbaar kom die uitdrukking oorspronklik uit Alldays se omgewing.

Alldays lê noord van die Soutpansberg en in die ou dae is na dié wye stuk aarde – kom ons sê van Swartwater, verby Tolwe en Alldays tot Musina – as “agter die berg” verwys. Alles suid van die Soutpansberg was “voor die berg” of sommer “die voorwêreld”.

Nou weet jy!

2. Jy moet soggens skoene uitskud

Die Bosveld is ’n streek waar die plantegroei nog dig staan en ’n mens teen skemeraand maar liewer nader aan die vuur wil skuif. Want hoe verder noord jy in Suid-Afrika toer, hoe giftiger en groter raak die gediertes.

In die Kaapse kusdorpe is jy gelukkig om af en toe ’n piepklein saalneusvlermuis onder ’n stoeplig te sien verby duik; buite Musina hang daar elke aand klosse Wahlberg se witkolvrugtevlermuise soos hamsters met vlerke in die bome.

Ons het menige aand aangesit in ’n lapa waar trofees met intimiderende tande en driedraai-horings teen die mure pryk. Ons het die grootste leeuwyfies nóg in die Madikwe-wildreservaat gesien, en selfs die goggas in die noorde is meer intimiderend – soos die oogpisters wat om jou voete rondjaag soos pypkarre.

Oral het mense gewaarsku: Moenie saans met plakkies buite rondloop nie; hou maar liewer jou vellies aan. Skerpioene is volop hier – veral die Transvaalse dikstertskerpioen is ’n diknek onder die gifgoed en hóm wil jy nie vastrap nie. Daarom: Sit jou skoene saans op ’n vensterbank neer en skud hulle soggens uit voordat jy ’n voet insteek.

Ons was selfs nog meer op ons hoede vir dié geweste se gevaarlikste slang – die swartmamba. Sy Sotho-naam, mokopa, word uit eerbied byna net gefluister. Die blote gedagte aan ’n ontmoeting met ’n vier meter lange verskrikking wat sy lyf oplig en daai inkswart bek wyd ooprek... dis genoeg om jou in ’n sweetjie te laat uitslaan.

En dan is daar natuurlik luislange ook, wat jou heel sal opvreet. 'n Luislangvel wat ons by Matlabas gesien het, was so lank soos 'n minibus.

3. Dis (steeds) die tuiste van avonturiers

Die Bosveld het nog altyd avontuurlustige geeste gelok – van grootwildjagters soos Bvekenya Barnard tot die stamme wat Mapungubwe se koppie huis genoem het en trekboere wat in meer onlangse jare hier kom afsaal het.

Avonturiers is steeds volop in die Bosveld, want om ’n bestaan hier te wil maak kan jy nie bang wees nie.

L.D. Pienaar hou ’n likkewaan vas buite Modimolle.
Bill Harrop hoog bo die aarde naby die Hartbeespoortdam.
Die veldgids Kgomotso Mokgatlhe het Visser Maas in 2019 gered toe Visser hom by Madikwe in ’n trop leeus vasgeloop het.
Charles Leach, ’n geskiedkundige van Louis Trichardt, vertel die storie van Breaker Morant.
Sophia by Magaliesberg Canopy Tours – laat waai!

Ons het saam met die legendariese Bill Harrop by die Hartbeespoortdam in ’n warmlugballon gesweef en toe dit tyd word om te land, het ons met ’n paar hárde hoppe langs ’n gholfbaan tot stilstand gekom. Dit het die adrenalien laat vloei (én die inwoners van die gholflandgoed wakker gemaak)!

L.D. Pienaar van Modimolle is ’n slangvanger en het ons een middag vermaak met van skerpioene en ’n Malgassiese sissende kakkerlak tot slange soos die skadelose gespikkelde bosslang en die gevaarlike wipneuskobra.

Terwyl L.D. koel en kalm was, het ons telkens teruggestaan wanneer hy ’n giftige ding aan die stert beetkry.

4. Só smeer ’n mens beesmis!

By die Herman Charles Bosman Living Museum op Groot-Marico is ons aan ’n hele paar Bosveldtradisies bekend gestel: Koos Olivier het ons geleer hoe om ordéntlik pap te maak, en Anna Molefe hoe om roosterkoeke nét reg te laat pof.

Maar dis die missmeerles wat ons die verste uit ons gemaksone geneem het. Ons het reeds vroegdag ’n paar emmers vars beesmis op die plaas Wonderfontein gaan optel. By die tradisionele Tswana-opstal op die museumperseel het Willemien Mogape en Salogeng Matlhole ons later gewys hoe ’n mens maak.

Eers verdun jy die beesmis met ’n bietjie water en knie dit met die hand tot ’n sagte pappery. Dié skink jy dan in plasse op die vloer uit en smeer dit – op jou knieë – in ’n egalige lagie.

Ons het nie baie goed gevaar nie, en Willemien en Salogeng moes ons knoeiwerk red...

5. ’n Boom máák die Bosveld

Veral as jy op pad Bosveld toe eers oor die kaal vlaktes van die Karoo of die uitgestrekte grasvelde van die Hoëveld moes ry, tref die bome van die Bosveld jou dadelik. Bome gedy hier. Veral gróót bome, soos kremetarte – die konings van die Bosveld!

Ons het ’n paar grotes gaan groet: die Swartwater-kremetart net buite die gelyknamige dorpie, die mooie in die Blouberg-natuurreservaat en die ou madala – die Sagole-kremetart, oos van Tshipise.

By die Bateleur Tented Safari Lodge & Bush Spa het die eienaar, Phillip Bronkhorst, ons vertel hoe hy jare gelede – in sy soeke na ’n Bosveldplaas – uiteindelik dié stuk grond oos van Lephalale gekoop het bloot omdat daar ’n paar mopaniebome gestaan het. Vir Phillip is die mopanie se simmetriese blaarvorm meer as net mooi: Dis simbolies van ’n plek waar hy hóórt.

Ons het saam met Willem Frost, ’n boer wat langs die Matlabasrivier (noord van Thabazimbi) woon, in die veld gaan stap en getalm by ’n blouhaak (wat party mense die withaak noem, en ander weer die geelhaak!) en ’n lieflike witgatboom (een van die min bome wat selfs in die droogste maande groen blare dra). Ons het gesien hoe ’n kierieklapper en ’n blinkblaar-wag-’n-bietjie diep geanker staan op ’n enorme miershoop-“eiland” en uiteindelik, net voor sononder, was ons aan die voet van ’n groot hardekool.

Willem het byna bewoë geraak toe hy praat oor sy liefde vir dié boom. Die sielvolle krag wat uit die boom straal, was ook vir ons tasbaar. Wat ’n voorreg.

6. Bosvellers se hande staan vir niks verkeerd nie

’n Mens kan nie meer al jou eiers in een mandjie pak nie. Daarom maak die boogjagter Flippie Frost van Matlabas ook deesdae geweerbande, handsakke en messkedes van leer. En Anél en Henk Malan van Marnitz het ’n padstal gebou en meng nou net so vernuftig melkskommels en bak burgerpatties as wat hulle boer.

In die Waterberg stook Hans en Francois van der Walt nou vodka van hulle aartappeloes se oorskot, en Kobus en Annelize Venter het met hulle eie hande ’n hele boskamp – Nthakeni Bush & River Camp – langs die Mutalerivier loop bou.

Die kitaarmaker Mervyn Davies met een van sy skeppings op sy plasie suid van Groot-Marico.
Mervyn se vrou, Debbie, maak juweliersware uit weggooi-messegoed.
Hans en Francois van der Walt, oftewel die vodkabroers!
Kathy en Zak Herbst maak kruiedoepas op hulle plaas tussen Zeerust en Groot-Marico.

Daar naby, in Masisi, smous Julia Siwada braaihoenders sodat haar kinders ’n geleerdheid kan kry. En buite Louis Trichardt sif Pilato Bulala dag ná dag deur rommel en maak dan by die huis mooi kunswerke uit die stukkies skrootmetaal wat hy optel.

Dit was hoeka een van die Van der Walt-tweeling wat ons gegroet het met die woorde: “Ry vinnig en slaan eerste!” Dalk nie toepaslike raad vir élke situasie nie, maar dit sê tog iets van die Bosvellers se durf. Hulle gaan nie maklik lê nie.

7. Die geheim van goeie boerewors ... is ’n tikkie tamatiesous!

Só het Elbè Lynn van Kaaldraai, ’n ent buite Thabazimbi, ons in haar plaasslaghuis geleer. Nóg ’n truuk is om die wors nie te dig of te los te stop nie – dit moet ’n mooi fatsoen hê.

Om ’n worsderm teen die regte spanning te stop is egter ’n tegniek wat ons nie onder die knie kon kry nie. Die eerste poging was so dik en swaar soos ’n deurstop; die tweede het gelyk soos ’n klomp paartiefrikkadelle in ’n sykous!

Elbè Lynn is Thabazimbi se bobaas-worsmaker.

8. ’n Mens kan miere ruik!

Een nag ry ons saam met Christoff Meyers deur die bos op ’n wildplaas. Ons ry rustig op pad na waar ons wil afklim en in die donker gaan rondstap, sommer net om die veld op ’n ander manier te ervaar.

Christoff is hoof van die plaas se teenstropereenheid, ’n jong man wat gereeld met gevaar gekonfronteer word. Maar hy’s ook lief vir die bos, en beantwoord al ons vrae geduldig.

Rondom ons is die veld kurkdroog. Niks dra ’n groen blaartjie nie. Niks blom nie. Maar tog ruik ons iets. ’n Skerp reuk – nie die lékkerste reuk nie, maar tog kenmerkend. Haai, Christoff, wat ruik só? Die antwoord verras: “Dis miere.”

Terug op kantoor het ek vir Peter Slingsby, skrywer van die gidsboek Ants of Southern Africa, hieroor uitgevra. Glo kon ons daardie aand dalk een van twee spesies geruik het: die matabele-mier (Megaponera analis) of die byna identiese stinkmier (Paltothyreus tarsatus).

9. Die goedheid van die verlede leef voort

Op Groot-Marico blaas mense soos Egbert van Bart steeds die kooltjies aan van die gesellige vuurtjie waarom Herman Charles Bosman hierdie kontrei se karakters laat kuier het. Sodoende bewaar hulle ’n kleinood in die Suid-Afrikaanse literatuur.

Meer as dit: Die Bosman-naweek (gewoonlik in Oktober) hou die gebruik van stories vertel lewend. En dis belangrik: Want op ’n dag gaan nie een van ons meer hier wees nie, en dan bly slegs ons stories oor.

In die Enzelsberg sit Kahlil Hayat ’n tradisie van respek en medemenslikheid voort. Een waarvan die fondament reeds deur sy voorsate gelê is in ’n era toe verskillende rassegroepe nie mog vriende wees nie, maar die inwoners van hierdie plek hulle nie aan die voorskrifte van die tyd gesteur het nie.

Dis iets wat ons ook elders in die Bosveld teëgekom het: ’n Bosveller volg sy eie kop, en leef sy lewe outentiek en eerlik.

Só vertrou Kathy Herbst van Koedoesfontein dít wat vorige generasies haar van die veldplante se krag geleer het. Hoe om met van smeerwortel tot tiemietakkies salwe en genesende olies te maak.

Buite Groblersbrug boer die broers Dawie en Hermann Malherbe steeds tabak nes hulle oupa dit destyds gedoen het – want dit wérk, en ook: dit skép werk.

En op die dorpie Nkotswi, digby die Kruger se Pafurihek, gaan klop almal steeds aan by ’n waardige musanda (kaptein) om raad – dalk wil hulle ’n geskil oplos of toestemming kry om ’n nuwe mielieland af te tree. Dit hou die kanale oop waarlangs die ouer garde lewenswyshede en die besef hoe ’n gemeenskap mekaar moet ondersteun, vir ’n volgende geslag kan leer.

10. ’n Hond bly jou beste vriend

Hier in die Bosveld is die plaashuise en dorpe ver uitmekaar en die dae kan eensaam raak. Daarom het almal ’n hond of vyf vir geselskap.

As jy dan nog boonop heeldag op jou eis in die veld is, óf heeldag alleen op die werf, sorg daardie ekstra oë en skerp ore ook vir gemoedsrus.

Bykans op elke werf waar ons uitgeklim het, het nuwe hondevriende pienktong kom kennis maak. Daar was Rita by RiverStill op Groot-Marico, Nella by die Van der Walt-tweeling aan die Palalarivier, die Malans van Marnitz se Trixie, Tokkelos en Karnuffel, Hotspot by die Baobab Biltong Padstal, Kudu Meyer van Musina se beeshond, Torro, en by die Nthakeni Bush and River Camp aangekom, is dit twee wolbolle, Nienie en Charlie, en twee groot geles, Lisa en Lara, wie se swaaisterte jou laat welkom voel. Om maar net ’n paar te noem.

Die verhouding tussen mens en hond bly sekerlik een van die beste bande waarvoor ’n mens kan wens. Want ’n hond raak nooit uitgekuier met jou nie. ’n Hond is áltyd bly om jou te sien en kom haal jou ná ’n lang dag se geswoeg by die hek en vergesel jou al blaffend met tiekiedraaie by die agterdeur in. Ja, niks het liewer as ’n hond nie.

Die RiverStill-gasteplaas net suid van Groot-Marico het amper soveel honde as swartkopwielewale.
Hierdie jack russell se maats is meerkatte!
Weasel, die muskeljaatkat, van Marnitz kom kuier soms by die Baobab Farm Cottages.
Hotspot is die Baobab Biltong Padstal se woef.

11. Ons is almal rentmeesters

“Ons is almal rentmeesters van die Bosveld.” George Potgieter, ’n wildboer van Dwaalboom se wêreld, het dit eerste aan ons gesê, en sy woorde sou eggo by ander bewaringsgesindes wat ons aandoen.

Wildboere het ’n manier gevind om by te dra tot groter wildgetalle én winsgewend te boer. Daar is egter spesies wat moeiliker is om te bewaar. Die kransaasvoëls wat broei teen die hoë kranse van die Blouberg (wes van die Soutpansberg) vlieg ver en wyd – Botswana toe, as hulle wil. Boonop teel hulle nie so maklik aan soos die mossie wat op jou stoep kwerts nie. Natuurbewaarders soos Johan van Wyk het dit sy lewenstaak gemaak om na dié spesie om te sien.

In die Waterberg het ons saam met Derek van der Merwe (van die Bedreigde Natuurlewetrust) agter ’n vrylopende trop wildehonde aangery – en hulle vlugtig gesien. Om ’n wildehond wild te hou is ’n uitdaging, want nes die aasvoëls hou draadheinings hulle nie binne nie, en hulle jag oor ’n groot gebied. Soms oorvleuel dié met ’n boer se veekamp en dís waar die moeilikheid lê.

Ons was ook eendag elders in die Bosveld toe renosters onthoring word. Wildboere wat renosters het, sit met ’n groot probleem: Dit kos enorme bedrae om die diere te voer en te beveilig, maar die boer kan nie die renosterhoring wettig aan die mark in die buiteland verkoop nie. Dat hierdie dilemma hoegenaamd bestaan, is ’n aanklag teen die mensdom: Ons is besig om ons taak as opsigters van die omgewing af te skeep.

Kudu Meyer

Prominente spesies soos renosters, leeus en olifante kry baie aandag in die media. Maar dis die byna onsigbare spesies wat selfs meer hulp nodig het – niemand weet eens hulle is in gevaar nie. Watter Weg-leser het al ’n ietermagog in die veld gesien? Waarskynlik bittermin. Tog is die ietermagog (daar is vier spesies in Afrika, en ander in Asië) vandag die dier wat die meeste gestroop en onwettig mee handel gedryf word – ter wêreld.

Saam met Kudu Meyer het ons een aand die voorreg gehad om te sien hoe ’n ietermagog wat uit dié onwettige handel gered is, weer vrygelaat word. Die meeste is egter nie so gelukkig nie.

Rentmeesters, ons het werk om te doen...

* Kudu Meyer se beeshond, Torro, het in Januarie in ’n stroper se strik gesterf.

12. Dis ’n plek met siel

Die Bosveld se geaardheid kan seker beskryf word as “onstuitbaar”. Hier’s ’n wonderlike krag in alles en almal te bespeur, ’n pioniersgees wat nie sy mense laat moed opgee nie – ongeag die droogte, ongeag die stropery, ongeag die uitdagings daarvan om in só ’n woeste wêreld woon. Bosvellers beur altyd vorentoe. Maar – en dis belangrik – in harmonie met die natuur. Want hulle is veldmense. De laaste een.

Hierlangs is kinders nog kinders – die ene goeie maniere en verwondering. En in al die grootmense se oë flonker dieselfde lig – ’n gretigheid om nie maar net saam te suiker op die lewe se donkiekar nie, maar om sélf die teuels te vat en jou eie heil te bepaal.

Soggens word jy wakker met ’n tinteling: Hoor net hoe roep die voëls! Hoor net hoe klingel die beesklokke! En soos die son klim, hou hy jou nederig, bewus van jou eie verganklikheid wat weer ’n dringendheid wakker maak om die ure te laat geld.

En saans in die soelte, wanneer iemand ’n bekfluitjie teen sy bobeen uitskud en ’n deuntjie begin speel, kom die nagapies ook uit om te luister. En ’n eenvoudige vreugde wil jou hart laat bars. Want in die Bosveld voel jy weer déél van iets, van die siklus, van die skepping.

Die mense van die algemene handelaarswinkel op Enzelsberg: Rabia Hayat, haar seun Khalil en agterkleinkind Asma.
Die kunstenaar Pilato Bulala woon naby Louis Trichardt en maak metaalbeelde uit weggooigoed.
Vermaak Senosi, meesterboskok en eienaar van ’n breë glimlag – afgeneem by sy huis in Motswedi, Noordwes
Die houtsneekunstenaar Thomas Kubayi woon op die dorpie Tshivhuyuni en maak onder meer roerende meubelstukke.
Inligting
Weg Agterpaaie Bosveld Volg Sophia en Toast se reise op Via (DStv kanaal 147) elke Vrydag om 5.30 nm. Heruitsendings op Vrydae 12.30 nm., 11.30 nm. en Saterdae om 5.30 vm.