Die Weg-joernaliste Sophia van Taak en Toast Coetzer het met die verfilming van die TV-program Weg Agterpaaie Weskus dié kusdeel en die aangrensende binneland besoek om ook by die Sederberg, Knersvlakte, Namakwaland, Richtersveld en Boesmanland in te loer. Hier is die twaalf lesse wat hierdie hoek van die land hulle geleer het.

1. Dra altyd jou knipmes saam

Dis goed om paraat te wees.

Met ’n knipmes in jou broeksak kan jy binne sekondes saam gesels wanneer iemand soos Duncan Theart, byvoorbeeld, vir jou ’n bossie bokkoms present gee en dan sommer net daar op die tafel in die restaurant van die Laaiplek-hotel vir jou wys hoe om een te “skil”.

Sulene Archer van die Taaibos-plaasrestaurant op Pedroskloof buite Kamieskroon het ons geleer hoe ’n mens skaapkop gaarmaak. ’n Knipmes was net die ding om eers die kop skoon te krap, én later behendig sappige stukkies vleis van die onderkaak af te sny.

2. Iemand was voor my hier

Dit was ’n voorreg om nuwe bestemmings te bekyk deur die oë van die mense wat al geslagte lank daar woon en ’n bestaan maak – mense wat weet watter soort wind vir dié wêreld reën bring, watter rotsbanke en sloepies goeie vangste lewer, wie se oupa dié kookskerm gebou of dáái skeepswrak op die rotse sien loop het.

Dis stories en tradisies wat deur oorvertel en opteken bewaar word en sodoende die verhaal lewendig hou van hoe ’n gemeenskap gekom het tot waar hy vandag is. Kort-kort het ons ook voor ’n rotskunspaneel gestaan – die dagboeke van mense wat eeue voor ons hier was:

By Elandsbaai se Bobbejaanpunt het ’n muur van wuiwende rooi handafdrukke ons laat gis oor wat onder dié oorhangkrans beleef is; op Steenbokfontein naby Lambertsbaai ontdek die Universiteit van Kaapstad se argeoloë steeds artefakte van mense wat snags gesit en luister het hoe groot buffels buite hulle grot snork terwyl hulle beplan hoe daar môreoggend mossels uitgehaal word; lank voordat C. Louis Leipoldt in die Pakhuispas begrawe is, het ’n okerrooi olifantkoei en haar kalfie hulle reeds op dieselfde plek kom tuismaak, en oos van die pas by die Sevilla-rotspanele draf jagters met pyl en boog uit, word ’n slagding oor die skouers gedra, dans vroue en pronk ’n sebravul. Ons moet ook só leef dat daar nog iets van die wêreld oorbly vir diegene wat ná ons kom.

3. Die trein sál kom as jy lank genoeg wag

Só het die Griekwas se eerste opperhoof, Andries Abraham Stockenström le Fleur, deur een van sy visioene voorspel.

Dié sogenaamde Kneg van God het in detail “gesien” waarlangs die Sishen-Saldanha-treinspoor sou loop, tot op die presiese plek waar dit die Soutrivier gaan kruis. En hy’ t glo ook vir ’n vrou gesê sy gaan die trein hoor, maar hom nie sien nie. En jou wrintiewaar – toe daardie trokke járe na sy dood in 1976 begin verby rammel, het die ou tannie hulle hoor aankom, maar sy was al blind.

Só het oom Thys en tannie Valerie Mentoor hulle Griekwa-stam se geloof op hulle heilige grond, Ratelgat, aan ons uitgelê en ons geleer van feesdae, gedenkplekke en die rol wat Die Vog, oftewel voorbidders, vertolk.

Verder het ons oral langs ons reis gewag op daardie trein en hom ’n paar keer byna-byna gevang – tot een middag op Vredendal, toe ons hom sommer twéé keer van naby kon bekyk en die stuk of 340 trokke tel wat vir byna 3,8 km verbystroom.

Le Fleur het ander dinge ook in die toekoms gesien, soos dat die Britse koningsgesin na die Beacon Isle-hotel by Plet gaan vlug, en dat daar ’n dag vir Kaapstad gaan aanbreek wanneer “die perde stangdiep in die bloed loop”. Die tyd sal seker leer... maar in die Sishen- Saldanha-trein se geval kan ons sê: Die Kneg was reg.

4. Bakkiery bly bobaas

“Wil jy saamry?” sal ’n boer jou iewers vra, en dan moet jy nie twee keer dink nie. Agterop ’n boer se bakkie begin alles sin maak. Jy vang ’n bietjie son en stof, begin die plaas rondom jou te ruik en proe. Aan jou voete is ’n opgewonde hond, tong uit en baldadig.

Jy vang ’n bietjie son en stof, begin die plaas rondom jou te ruik en proe.

In ’n stadium wys die boer met ’n bruingebrande arm by die venster uit na iets, en jy leun vooroor om te vang wat gesê word deur die oop ruit. Jy knik en kyk, en begin iets verstaan oor hoe die droogte knel, hoe ’n dier lyk wat swaarkry.

Só het ons saamgery met tannie Haffie Strauss van die Agter-Pakhuis om te gaan kyk hoe die rooibostee-lande lyk, saam met Julian Melck van Kersefontein om wegloopbeeste te soek, met Maree Botha tussen Vredendal se geilgroen wingerde en met oom Koos Strauss van Eksteenfontein om diere te voer.

5. Wonderwerke gebeur in die geheim

Die N7 is die hoofpad wat snel deur die streke waarlangs ons getoer het. Hoewel jy mooi dinge padlangs sien op dié roete, lê die stories dieper in, kantlyn toe, agterpaaie om. Dit het so gebeur dat ons op die regte dag op die regte tyd die Gamoeppad vat.

As jy van Kamieskroon se kant af ry, lei hierdie droom van ’n agterpad jou eers na ’n kokerboomwoud waarvan die individue lyk soos ’n talmende woestynvolk, trekkend op pad na wie weet waar.

Anderkant Rooifontein en Kamassies val die klipkoppe van Namakwaland weg en jy ry die sandvlaktes van die Boesmanland binne. Oral op pad was dit droog, maar hier is dit onmenslik droog.

By Gamoep roer g’n niks, maar ’n paar kilometer verder staan die plaaswerf van Dabeep vol wit bakkies en klein vragmotors. Groot groen lusernbale blaker uit teen die andersins dorgeel landskap. Wat gaan hier aan? Ons draai in en ontmoet vir Jan Scholtz van Hartswater, wat vir dié groep boere droogtehulp gereël het.

Plaaswerkers soos Kannetjie Beukes en Nigel Johnson van die plaas Mesklip kom help noodvoer laai. Ons gesels met van die Boesmanlanders, en die mense het trane in hulle oë, later ons ook. Dis ’n wonderwerk, dit weet jy sommer. En so help mense mekaar in die geheim – sonder trompetgeskal – net omdat hulle vir mekaar omgee.

6. Party klippe is kouer as ander

Wanneer ’n mens die veld saam met Rey Janse van Rensburg invaar, leer jy baie dinge – onder meer dat die Richtersveld se wit kwartsietstene omtrent 12 °C koeler is as die omliggende swart klip.

Wel, “koeler” is seker nie die geskikste woord nie (in die Richtersveld raak alles maar dêssit warm in die somer!), maar dié temperatuurverskil maak dat die endemiese halfmens (Pachypodium namaquanum) beter op kwartsietkoppies aard.

Die weerkaatsende wit klip maak die grondtemperatuur ’n titsel draagliker, en wanneer mis of ’n bietjie dou die Richtersveld snags kom verkwik, vorm druppeltjies op die kwartsiet (wat vinniger afkoel as die donkerder klip) wat dan op die dankbare halfmens se wortelstelsel afloop. Byna so slim soos ons, dié eeue oue halfmense.

Wat hulle nie alles sal doen om hulle groeitempo van 3-5 mm per jaar te bereik nie!

7. ’n Blikkie vis kom van ver af

Jêmblikke, visblikke, drie by... derduisende! Het jy al ooit gewonder hoe daai ewe lank gesnyde blinklyfies so netjies in ’n blikkie beland?

Op ’n toer deur die West Point-visfabriek op St. Helenabaai het ons gehoor hoe die sardyne doer ver by Gansbaai gevang word, dan in ysige water onderin ’n boot vars gehou word tot by die fabriek, dan in hulle swetterjoele uitgepomp, afgespoel, gesorteer, ontkop en ontstert word, geblik, gesous, verseël en gekook word... én nog telkens tussendeur vir gehalte getoets word – alles op een dag.

Daarna word die blikkies volgens grootte gerangskik, die etikette kom op, stapels word op palette gepak, toegedraai en versend – en uiteindelik beland die sardientjies op jou winkelrak. Daarsy, nou weet jy.

8. Branderplankry is nie vir ou knieë nie

Wie het nog nie jaloers op die strand gestaan en kyk hoe gly ’n branderplankryer skynbaar moeiteloos teen die gladde krul van die see langs nie?

Maar as jy nie sedert jou tienerjare al geleer het hoe om dié sport baas te raak nie, is dit moeilikheid soek wanneer jy al veertig se kant toe staan en skielik een oggend besluit om jou lyf surfer te hou. Skielik is dinge soos balans, fiksheid en vinnige reaksietyd (woorde wat meer tuis klink op SuperSport as van toepassing op jou...) belangrik.

Chantal Isaac / Old Surf Co

By Elandsbaai het ons ’n surf-les gekry by Gigs Celliers, en hoewel ons meestal ’n uur lank soos geblinddoekte sakke Sandveld-aartappels in die vlak water neergepletter het, kon ons – net vir ’n kwart- sekonde – ook so cool, so vrý, voel soos ’n regte surfer!

9. Vetplantjies verstáán droogte

Hoeveel keer het jy al met die N7 langs oor die Knersvlakte gery, die vaal laagte betrag en gedink: Hier groei die bôggherol wragtig kniehoogte. Dis ten dele waar – g’n rankerige boskasie aard hier nie, maar grondlangs groei hier báie.

Gaan stap ’n draai saam met ’n kenner soos Christine Wiese van die plaas Quaggaskop en sy wys hulle vir jou uit: bobbejaanvingers, krapogies, knopies, bababoudjies... hierdie vetplantjies is net so ougat soos hulle name, en elkeen op sy manier ’n droogtespesialis: Party vorm skilletjies sodat hulle nie uitdroog nie, ander verkleur van groen na rooi om minder te fotosinteer en sodoende hulle kossies en energie te spaar, sommige bewaar hulle sade toegevou in harde hulse totdat daar eendag weer ’n spoegie reën val, en van hulle gooi sommer self ’n sytak af wat nie regtig nodig is nie!

’n Bababoudjie kan vir Job iets vertel van geduld.

10. Leer ’n man hoe om vis te vang...

Visvang is die Weskus se hart en siel, maar as bedryf kry dit swaar, en daarmee saam die gemeenskappe wat op visvang gebou is. Tog is visvang vir die mense van dorpe soos Paternoster, St. Helenabaai, Velddrif, Laaiplek, Doringbaai en Papendorp steeds ’n manier – soms die enigste – om kos op die tafel te sit.

By Papendorp het ons saam met vissers ’n entjie uitgeroei op die Olifantsrivier waar hulle elke dag nette gooi vir harders. By Bessel Afrika, Oubaas Gertse, Vernon Cloete en Patrick Don het ons geleer dat visvang ook ’n manier is om jou rug te draai op die donkerder kant van die lewe, soos die versoeking wat misdaad vir mense in baie arm gemeenskappe is.

11. Om méér te waardeer, moet jy jouself minder waardig gedra

Dít het tannie Alida Lochner van Vredenburg ons geleer. Alida was nie altyd ’n “tannie” nie; in haar jong dae was sy ’n rabbedoe van Wallekraal (’n plaasgemeenskap naby Hondeklipbaai) wat boomgeklim het wanneer sy eintlik moes leer sokkies stop.

En al het haar jare intussen aangestap, vonkel haar oë steeds ondeund en vol lewenslus. Tannie Alida se geheim vir ’n lekker lewe is inderdaad om jou minder opstêrs te hou: Maak jou hare los, wees ’n bietjie laf, spot met jouself – jy lewe net een keer en niemand gaan die lewe vír jou opwindend maak nie. Ons het dié wysheid ter harte geneem en besef dat die meeste Weskussers dit ook glo.

Hierlangs leef mense sonder pretensie. Hulle lyk soos wat hulle wil, sê ’n ding soos hulle wil en wat ander mense van jou dink, is nou maar regtig hulle saak. Want daar is verskillende maniere van menswees, en elkeen het meriete.

En al het haar jare intussen aangestap, vonkel haar oë steeds ondeund en vol lewenslus.

En of jy nou elke maand ’n diamant uithaal of jou ganse boerdery aan die droogte verloor het, jy is nog steeds my medemens – jou bankbalans traak my niks. Wat eerder tel, is of jy vanaand saam met my om ’n vuur kom kuier en uit jou maag kan lag.

Die lewe is ook maar ’n sirkus, en in ’n sirkus is daar vir net een ou plek om die sweep te klap. Maar wie word onthou lank nadat die sirkus die dorp verlaat het? Die sirkusbaas? Nee, die hansworse.

12. In die weste wag daar hoop

Suid-Afrika se dorpe en stede raak al voller, maar dele van die Weskus bied nog ontvlugting vir dié wat op soek is na rus en vrede. Kleinzee, byvoorbeeld, het sy ontstaan te danke aan die diamantbedryf, maar word nou ’n gewilde aftreedorp.

Langs die Weskus kan jy ook geheel en al oor begin, jou verlede iewers oos van die N7 agterlaat om hier waar die Atlantiese Oseaan lyne trek teen die sand jou lewe se toermeter weer op nul te kom stel. Op Hondeklipbaai het die kunstenaars Deon “Villain” Venter en Madeleine Baumgarten hulle harte vir ons oopgemaak.

Dit was verfrissend om te hoor hoe ’n mens jou lewe handomkeer kan verander. Die Weskus is geduldig, en laat sulke dinge toe. En die Weskus bied vertroosting