François het ook met sy twee honde ’n wye draai deur die Klein-Karoo en die Tuinroete gery – en plekke uitgesnuffel waar honde welkom is! Lees die storie hier.

1. Bring happies, kos en water

As jy die boendoes invaar en nie jou tjoppies met Pote wil deel nie, moet jy onthou om sy kos ook in te pak. En onthou, hy word ook dors – veral as jy rondry. Hou ’n waterbak en ’n groot bottel vars water naby en laat hom drink elke keer as hy ’n draai loop. Soutwater maak honde ook baie dors so maak sy bak vol ná ’n stappie op die strand. Dit is ook ’n goeie idee om ’n paar hondekoekies of uitgedroogde happies in jou sak te hou vir wanneer jy jou hond langs die pad moet omkoop vir sy aandag.

2. Maak reg vir bosluise

As jou hond in die veld gaan rondhardloop, gaan daar bosluise en vlooie saam terugkom. Tref vooraf voorsorg hiervoor. Daar is drie gewilde metodes: teenmiddels wat op die vel geplaas word (soos Advantix, Revolution en Zero), eetbare pille (Nexgard) en halsbande (Seresto). As jy twyfel, vra jou veearts wat die beste vir jou hond sal werk. En selfs al gebruik julle die duurste en beste medisyne – deursoek hom steeds deeglik nadat hy in die veld was. 

Foto's: Francois Haasbroek.


3. Bad en mooimaak

Maak seker jou hond is gebad en geskrop voor jy vertrek. Jy gaan in iemand anders se huis bly en hoe skoner jy dit agterlaat, hoe beter. Jou hond mag dalk weer deur modder hardloop langs die pad, maar begin eerder so skoon as moontlik.

4. Ontlont landmyne

Dis dalk een van ’n honde-eienaar se meer onplesierige takies... maar maak skoon agter jou hond as julle tyd deurbring op ’n publieke plek. Koop sakkies spesifiek vir dié doel by enige troeteldierwinkel. ’n Mens kry selfs houertjies wat jy aan jou hond se halsband vasmaak sodat hy die (leë!) sakkies kan dra. 

5. Bring beddegoed

Die meeste eienaars van troeteldiervriendelike blyplekke kan rillerstories vertel oor die toestand van beddens en banke ná sommige hondegaste kom kuier het. Jou hond mag dalk by die huis op jou bed slaap, maar bring sy eie bed saam wanneer julle gaan toer. Party honde raak ook angstig in ’n nuwe omgewing en iets bekends van die huis af kan hom moontlik kalmeer. Of spuit ’n feromoonsproei soos Adaptil op sy bed spuit wat hom nog rustiger sal maak


6. Maak die agtersitplek gemaklik

 Jou hond wil – nes jy! – gemaklik wees wanneer julle die langpad aanpak. Sorg dat hy genoeg spasie het en gemaklik en sag kan lê. As jou hond die hele agtersitplek tot sy beskikking het, sit ’n sitplek-hangmat (soos die van Wagworld en Wild Woofy) in. Dit keer dat jou sitplekke vuil en beskadig word, én dat jou hond te veel rondval as jy skielik moet remtrap nie. 

7. Speelgoed!

 Elke hond het sy gunsteling-speelding – pak dit in! Gebruik dit om jou hond moeg te speel voor julle ’n ver ent moet ry, of om sy aandag terug te kry by jou, wanneer dit nodig is. 

8. Hou ’n leiband handig

Baie plekke laat net honde toe wat aan leibande is. Hou jou hond selfs aanvanklik aan syne by plekke waar dit nié nodig is nie – net om seker te maak daar’s nie ander kwaai honde naby nie. 


9. Doen jou huiswerk!

 Moenie net by enige blyplek of restaurant opdaag met jou hond en verwag die deure gaan oopswaai nie. Volgens wet mag geen restaurante honde binne toelaat nie, maar sommiges met buitesitplekke doen dit wel. Kontak al die blyplekke vooraf en maak seker: Gaan jou hond welkom wees? Is die gebied omhein? Wat is hulle troeteldierreëls?


10. Skoonmaakgoed

Moenie met ’n hond wat nog glipsies in die huis het saamvat op vakansie nie. Tog gebeur dit selfs met gesoute hondereisigers. Pak skoonmaakgoed in – net vir ingeval. Jy wil nie dié glipsies vir die eienaar los om op te ruim nie. 


11. Is jy seker dis jou hond?

 Daar was ’n gat in die blyplek seheining, en nou is jou hond soek in ’n vreemde dorp. Nou hoe nou? Maak seker jou hond kan geïdentifiseer word – ’n plaatjie aan sy halsband met sy naam en jou nommer is ’n goeie begin. 

Jy kan deesdae ook ’n mikroskyfie by jou hond laat inplant. As iemand hom opspoor, kan ’n veearts al jou inligting kry wanneer hy dit skandeer. Dit is ook ’n goeie manier om te bewys dat die hond wel joune is... vir daai kere wanneer iemand dink jou Yorkie is mooier as syne en probeer buit maak van hom.

12. Noodhulp

 ’n Hondevakansie kan – nes joune – vinnig versuur word deur ’n siekte of besering. Pak vir Wagter ook ’n noodhulpkissie in, met antiseptiese middels, verbande, medisyne, ens. Hoor by die veearts watter medikasie is nodig en maak vooraf seker jou hond het al sy inentings gekry. Vind uit waar die naaste veearts is in die dorpe wat jy gaan besoek, en bêre die noodnommers op jou foon.