Namibië is ’n land wat op jou emmerskoplys móét wees. Hier wys ons jou wat jy in die Dorsland moet sien en doen. Hoeveel van dié doendinge kan jy al van jou lysie afmerk? 





Donkiekarre sien jy oral in Namibië. As jy tyd het, stop gerus by een en knoop ’n geselsie aan. Deel dalk jou water of sak appels met die mense – hulle sal jou meer van die omgewing kan vertel as enige brosjure.


Vir ’n ervaring byna so besonders soos om ’n kolhou op die gholfbaan te slaan, gaan kuier by die robbe en dolfyne op ’n kayak by Walvisbaai. (S22.67649 E14.52583)


Die duine en vleie by Sossusvlei is iets om te beskou. As jy by Sesriem (S24.48647 E15.79920) oornag, het jy ’n voordeel dat jy ’n uur voor ander besoekers kan vertrek op die 65 km pad tot by Dooievlei (S24.76147 E15.29297) en Sossusvlei (S24.74784 E15.29355) self, en jy kan die sonop en die stilte geniet. Stop ook by duin 45 (45 km van die hek af - S24.72353 E15.47094) om die sonsondergang te waardeer. In die oggende is hierdie duin oortrek van toeriste, so jou kanse in die middag is beter om vreedsaam daar te wees. 


Die georganiseerde Oranjerivier-roeitoere wat van plekke soos Noordoewer of Onseepkans vertrek, duur gewoonlik tussen drie en sewe dae: lank genoeg vir jou om behoorlik rustig te raak, maar met genoeg stroomversnelling om terselfdertyd opwindend te wees. Kontak: Gravity Adventures www.gravity.co.za of Felix Unite www.felixunite.com.



Agaatstrand (S26.60337 E15.17858) is ’n rustige baaitjie met die golwende duine van die Namib wat tot op die einders strek. Die sandkorrels is groot en die strand blink van mika-minerale, met hier en daar agaatstene. Hier kry jy ook van die pragtige windverwaaide sandrose: Kristalle vorm met sandkorrels binne-in, en die vreemde hoeke lyk byna soos roosblare. In die verlede kon toeriste dit bloot optel, maar deesdae moet jy eers ’n permit koop by Lüderitz Safaris & Tours in Bismarckstraat. Kontak: 00 264 63 202 719; ludsaf@africaonline.com.na.



Suid en noord van Henties word lyn natgemaak by plekke soos Bakleigat (S21.55520 E13.87045), Popeye se gat (S22.02415 E14.19605) en Solitude (S22.16112 E14.28755). Myl 32 (S22.28731 E14.39518) is goed vir galjoen, by Myl 17 (S22.44576 E14.45200) is baie bronshaaie en Myl 28 (S22.32216 E14.40908) is bekend vir sy kabeljou. (Myl dui die afstand vanaf Swakop tot by ’n gat aan.) Die jaarlikse Visfees in Augustus en twee groot hengelkompetisies is baie gewild. Kontak: www.hentiesbaytourism.com.



’n Treinrit deur Namibië is die antwoord as jy nie krag het vir die lang motortog nie. Jy sien ook plekke wat jy nie van die pad af sou sien nie. Treintoere werk gewoonlik só: Snags ry jy die lang ente, maar wanneer jy naby ’n interessante plek is, stop die trein. Toerbusse neem jou na die besienswaardighede. Só kan jy byvoorbeeld die Visrivier-canyon, Lüderitz en selfs Etosha sien. Kontak: JB Train Tours by www.jbtours.co.za.



’n Begeleide vyfdagtoer van 585 km deur die Namib is baie meer as net ’n vakansie; dis ’n avontuur wat jy altyd sal onthou. Jy vertrek van Solitaire (S23.89378 E16.00654), op die rand van die woestyn, en kies koers  weswaarts vir die eerste drie dae voordat jy noord swenk en teen die see op begin toer. Jy moet selfonderhoudend wees, want hier is nie ’n vulstasie of ’n supermark om die hoek nie. Kontak: URI Adventures www.uriadventures.com



Sedert die Mata-Mata-grenspos (S25.76843 E19.99752) einde 2007 in die Kgalagadi-oorgrenspark oopgemaak het, kan jy ná jou kuier in die park oorglip na die suidoostelike dele van Namibië. Dit is nie nou meer nodig om heelpad terug te ry Twee Rivieren toe en dan by Ariamsvlei oor die grens te gaan nie. Jy moet egter twee nagte in die park oorbly as jy dié grenspos wil gebruik. Kontak: 054 561 2000; www.sanparks.org.


As ’n mens aan Namibië dink, dink jy gewoonlik aan sandduine en dorre woestyn, maar by Epupa (S17.00057 E13.24464), met Angola net oorkant die Kunenerivier, is dit soos ’n ander land. Dit betaan uit 38 verskillende valle oor die breedte van die Kunenerivier. Die beste uitsig is van die koppie af net stroom-af van die val. Hoe nader die son aan die horison kom, hoe mooier word die waterval.



Jy moet ten minste een keer in jou lewe die pers en wit melk- of wynlelies (Crinum paludosum) op die Sandhofpan (S24.49638 E17.03269), sowat 40 km noord van Maltahöhe, sien blom. Dit gebeur net wanneer uitsonderlike reën val in Januarie of Februarie en die pan minstens 15 cm water het. ’n Week tot tien dae later begin die lelies blom. Hou dus die weer dop en staan reg om te ry. 


Swakopmund staan nie verniet bekend as die “adrenalienhoofstad van Namibië” nie. Hier is heelwat doendinge wat jou hare nog lank ná die tyd penorent sal laat staan. 


• Gly met ’n sandplank teen van die wêreld se grootste duine af (S22.67906 E14.52797)


• Dit gaan jou wel ’n paar rand kos, maar om vanuit ’n warmlugballon te sien hoe die son opkom oor die wêreld se oudste woestyn, is beslis die geld werd. - Namib Sky Adventures info@namibsky.com, www.namibsky.com.


• Ná net 15 minute se “opleiding” by Ground Rush Adventures is jy gereed vir ’n tandemvryval van 10 000 voet saam met ’n instrukteur. Ground Rush Adventures (S22.56411 E14.57671) www.skydiveswakop.com.na.




Namibië is allermins ’n plat land waar jy nie avontuur hoog bo seespieël kan kry nie. Van die mooiste en lekkerste grondpadpasse kruip hier weg. As jy wil, kan jy ses grondpadpasse tussen Windhoek en die Namib ry, en nóg twee  sommer vir die lekker:


• Die mak Kupferbergpas (S22.69623 E16.97778) op die C26 net buite Windhoek is een van die toegangsroetes na die Khomas Hochland.


• Die C28 oor die Bosuapas (S22.67597 E16.04703)is die kortste (maar nie die vinnigste nie) roete van Windhoek na Swakopmund, én dis een van Namibië se steilste passe.


• Die D1982 via die Ushoogtepas (S22.95868 E16.49906) is die kortste roete tussen Windhoek en Walvisbaai. 


• Die Gamsbergpas (S23.24844 E16.31779) op die C26 tussen Windhoek en Walvisbaai is die hoogste en langste pas en kyk uit oor Namibië se eie Tafelberg.


• Die Spreetshoogtepas (S23.66058 E16.17192) op die D1275 is nog ’n lekker steile en word dikwels bestempel as die Namibiese pas met die mooiste uitsig.


• Verder suid kronkel die Remhoogtepas (S23.97161 E16.28245) op die D1261 tussen Windhoek en Solitaire. 


• Op die C14 tussen Solitaire en Walvisbaai is die Gaub- (S23.48126 E15.76326) en Kuisebpas (S23.30183 E15.78847). As jy al Henno Martin se Vlug in die Namib gelees het, sal jy veral die Kuisebpas geniet.



Sit minstens ’n oggend opsy vir ’n besoek aan die beroemde spookdorp Kolmanskop (S26.70347 E15.23134) buite Lüderitz. Na ’n aanvanklike diamantstormloop het dié eens lewendige dorpie gou leeggeloop toe beter diamantvelde by Oranjemund ontdek is. Vandag kan jy ’n begeleide toer deur die dorpie vat, en na die tyd self die verlate huise en plekke verken. 



Een van die maklikste maniere om die Namibwoestyn en sy eienaardighede te beleef is om die Welwitschia-roete (S22.74174 E14.66904) buite Swakopmund te ry. Dié roete is ongeveer 145 km lank (van Swakop en terug) en jy behoort dit maklik binne vier uur met ’n gewone motor te voltooi as jy by ál 13 besienswaardighede stop. Kry ‘n permit by die Ministerie van omgewingsake en toerisme (MET) in die Rittergebou (S22.67855 E14.52384).


Oral noord van Opuwo sal jy Himba-gemeenskappe begin sien. As jy iewers langs die pad stop om met die mense te gesels en foto’s wil neem, vra eers toestemming. Respekteer die Himbas se privaatheid en moet hulle nie geld gee nie – gee eerder kos soos meel, suiker of kookolie.


Op die plaas Otjihaenamaparero (S21.04000 E16.40056) het dinosourusse sowat 219 miljoen jaar gelede hulle merk gemaak. Die een stel spore is groot en dit lyk amper of ’n atletiese seekoei verbygedraf het, maar die spore is in der waarheid gemaak deur iets wat op die agterbene geloop het. En moenie net een of twee spoortjies verwag nie – dis ’n hele klomp wat jy vir amper 30 treë kan volg voordat dit verdwyn. Kontak: www.dinosaurstracks.com. 


Jy kan nie die Sesriem-canyon (S24.51861 E15.80016) 4,5 km van die Sesriem-kampterrein af) met die Visriviercanyon vergelyk nie, maar dit is ook besonders. Dié diep skeur digby die ingang na die Namib- Naukluftpark is ongeveer 1 km lank en 35 m diep. Jy moet mooi kyk en fyn trap, want die sloot raak sommer skielik ’n skeur. 



Weg se Namibië 2016-Reisgids is vanaf 4 April op die winkelrakke.




Foto's


Hooffoto: Erns Grundling

Sossusvlei: Francois Haasbroek

Met die trein na Tsumeb: Erns Grundling

Kgalagadi: Esma Marnewick

Swakopmund: Sophia van Taak

Pak 'n paar passe: Francois Haasbroek

Kolmanskop: Sophia van Taak

Welwitschia-roete: Erns Grundling

Himbas in Kaokoland: Erns Grundling

Bostaande foto: Toast Coetzer