Ek het in die Weg Namibië 2015-gids ’n artikel oor die Visrivierstaproete gelees en was verstom oor die koste van die toerusting en hulpmiddels om deesdae in die canyon te gaan stap. Hoe het tye nie verander nie!

In 1971 besluit ek en my goeie ou vriend wyle Johan Muller – ons was albei derdejaarstudente aan die Universiteit van Stellenbosch – ons gaan dié Aprilvakansie die Visriviercanyon stap. 

Destyds moes ’n mens by die Suidwes-natuurbewaring aansoek doen vir ’n permit, en dit nogal per pos. Ek doen toe aansoek in Februarie, en wag weke lank, maar teen April kon ons nie meer wag nie. Johan was in die Eendrag-koshuis en ons kry ’n geleentheid saam met hulle rugbytoerbus Springbok toe. Ons reisgeld was 24 Lion Lager-biere. 

Al wat ons inpak, is ons army boots, slaapsakke en webbing (’n seilharnas),’n paar stukkies klere, ’n knipmes en droë rantsoene.

Vroegoggend vertrek ons uit Stellenbosch. Later die dag besluit ons om sommer in die veld net buite Springbok te slaap, maar ’n paar gawe tokkelokke in ’n stasiewa bied ons ’n geleentheid aan. Hulle is ook op pad canyon toe en sê ons kan saamry.

Ons ry deur die nag en kom uiteindelik vroegmôre by die canyon aan. Geen parkkantoor of mens is egter in sig nie. 

Oorweldig deur die uitsig en grootsheid van die canyon besluit ons om sommer dadelik af te klim tot onder. Dit gaan maar sukkel-sukkel en ons beland ’n hele paar keer op ons sitvlak vanweë die los gruis.

Onder gekom, slaan ons kamp op langs die rivier en slaap heerlik op die sand, veral ná die vorige nag se deurnag. 

Die eerste dag stap ons oor moeilike terrein: Ons klouter gereeld oor groot, ronde rotse en ons Kodak mik-en-druk-kameratjies werk oortyd. Die watervlak in die rivier is redelik hoog en ons kan nie na willekeur die rivier kruis nie en moet noodgedwonge sy kronkels volg.

Ons dae lyk só: Ons stap, koel af in die rivier, vat siëstas, koel af in die rivier en soek dan ’n mooi plekkie om te slaap. Die dixie ProNutro wat Johan my soggens injaag, is genoeg brandstof vir die dag met ’n paar neute en droëvrugte vir middagete. Saans moet ’n blikkie boeliebief die ding doen.

Op die vierde of vyfde dag – al redelik naby aan Ai-Ais – kom ons die middag op twee bebaarde manne en hulle Land Rover af, wat in ’n drif in die rivier gaan staan het. Dis die eerste mense wat ons in die canyon raakloop.

Twee van hulle vriende het gaan hulp soek. Die Landie-manne was op hulle dag prospekteerders en vermaak ons met stories van hulle omswerwinge wêreldwyd op soek na blink klippies. Ons spring sommer in en begin gruis skep en siwwe skud in die vlak water. Helaas egter geen bydrae tot ons universiteitsrekeninge nie!

Uiteindelik kom ’n boer in die omgewing sterk skemer daar aan met sy trokkie en sleep die Land Rover uit. Ons drink koffie by die oom en sy vrou – uitgehonger vir geselskap – en ry dan saam met ons nuwe vriende Ai-Ais toe. 

By Ai-Ais is dit stikdonker en die hekke is gesluit. Veldslaap is ons voorland – teen ligdag sien ons “veld” is ’n stortingsterrein! 

Ons het ’n tent by die oord bespreek, maar lawe eers ure lank ons stampe en skrape in die warm water. Die aand is ’n voorraad tjops en wors oor die kole en ’n paar Suidwesbiere (ek kan nie die naam onthou nie) ’n groot bederf ná die oormaat ProNutro en boeliebief.

Die volgende oggend vat ons met een van Natuurbewaring-trokkies die pad na Grünau en kom teen middagete daar aan. Ek en Johan is die enigste gaste in die hotelrestaurant en die vriendelike kelner oorlaai ons met skottels skaaprugstring en kookkos.

Ná ’n lekker ete stap ons met die brug bo-oor die treinspoor en plak ons sakke neer. Kort voor lank hou ’n kêrel en sy hond in ’n kombi stil langs ons. Hy kom van Tsumeb af en is lus vir geselskap. Sy vrou en kinders vlieg van Windhoek af Kaap toe.

Baie ure later – op die Vrydag – laai hy Johan by sy meisie op Malmesbury af en ’n rukkie later vir my by die Helderberg-koshuis op Stellenbosch – beslis ’n rekord wat betref afstand – ons het sowat 1 200 km  in ’n dag afgelê!

Daardie volgende Maandagoggend kry ek ’n brief in die pos van Suidwes-natuurbewaring: Baie jammer kêrels, julle permit is afgekeur as gevolg van die Visrivier wat in vloed is. Dis te gevaarlik. 

Johan Muller se bynaam was Buffel. Hy is op 23 November 2015 oorlede. Dankie vir al die goeie tye, ou maat. – Gerhard Mattheus

• Hierdie artikel het in  2017 op ons webwerf verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.