Hier trek ons al in Maart, al voel dit of ons net nou die dag vir mekaar ’n voorspoedige nuwe jaar toegewens het. Die werklikheid is egter dat die Paasnaweek om die draai is, en daarna breek die wintervakansie aan... met die kort vakansie tussen die kinders se derde en vierde kwartaal kort op sy hakke. En dan is die Desembervakansie helaas weer op ons.

’n Mens moet nooit die tyd omwens nie, en daarom het ons vir elk van dié tye vir jou vyf ordentlike kampplekke gekies waar jy saam met jou mense kan gaan uitspan en uitrus. 

Paasnaweek

Almega-woonwapark, Hammanskraal

Direk oorkant die pad van die Dinokeng-reservaat ontwikkel André Geyser sy Almega-woonwapark op 200 ha omheinde grond wat deels aan die reservaat grens.

Elkeen van die ablusieblokke is ’n vierkantige huisie met vier badkamers. Jy kamp langs jou eie badkamer, op ’n lieflike grasperk. Elke badkamer het ’n ruim stort, toilet en wasbak asook ’n blad waar Ma haar mooimaakgoed langs twee 220 V-huisproppe kan neersit.

Buite jou badkamer is ’n dubbelwasbak vir die skottelgoed asook ’n blou woonwasok. Buiten jou eie badkamer het jy ook jou eie braaiplek, én die kampplek het heelwat koeltebome.

Vir die kinders is hier onder meer ’n klimraam, swaaie en ’n sandput.

Die kampplek is op ’n omheinde stuk grond van 2 ha, en hier is ’n unieke swembad – in die vorm van ’n kitaar. Die bak van die kitaar is die diep kant en die nek ’n voor wat vlakker loop tot by die kop, waar die kleintjies kan plas. Die swembad is 75 m van die naaste staanplekke af.

Kortliks | Almega- woonwapark

Kampplek: 40 staanplekke met krag en ’n vullisdrom, braaier, gras en koelte.

Ablusiegeriewe: Jou eie klein badkamer en opwasplek wat daagliks skoongemaak word.

Prys: R350-R600 p.d. per staanplek vir 4 mense afhangend van wanneer jy kamp. Daarna R75 p.p.p.d. (gratis vir o.2’s). Maksimum 8 mense per staanplek.

Aankoms- en vertrektyd: 12:00 en 10:00 in besige tye.

Kontak:  082 452 0268 of 082 420 3488;  almegakamp.co.za; admin@almegakamp.co.za

Naaste dorp: Hammanskraal 11 km.

Hoe lyk die pad? Teerpad tot by die hek en goeie grondpaaie in die oord.

GPS: S25.339759 E28.385342

Ry & Sleep sê As jy lugreëling in jou woonwa gebruik, betaal jy R50 p.d. ekstra.

Dube- private natuurreservaat, Brits

Dube is een van die gewildste kampplekke naby Brits, en die eienaar, Gert Scheepers, het die staanplekke uitgebrei en van 120 tot 200 vermeerder.

Die nuwe staanplekke het, net soos die oues, almal krag en water. Hy is ook stelselmatig besig om die gewone kragsokke met blou woonwasokke te vervang.

Hier is verder warm en koue swembaddens, ’n 6 km lange staproete, ’n trampolien en ’n dam waar jy karp, kurper en baber kan uittrek (jy moet die vis teruggooi). Hier is jy in die Bosveld en die bome groei nie baie hoog nie. Bring maar ’n silwer seiltjie saam as jy in die somer kom kamp.

Hier is ook meer as 200 voëlspesies, en in die somermaande is hulle op hulle bedrywigste. In die stil tye loop sebras, kameelperde, blouwildebeeste, elande, koedoes en rooibokke tussen die staanplekke rond.

Kortliks | Dube

Kampplek: 200 staanplekke met bome, krag en plek-plek gras.

Ablusiegeriewe: 4 ablusieblokke – silwerskoon met marmerblaaie by die wasbakke en teëls tot teen die dak.

Prys: R321-R877 p.d. vir die eerste 4 mense, afhangend van die seisoen en spesifieke staanplek. Daarna R120-R160 p.p.p.d. ekstra.

Aankoms- en vertrektyd: 10:00 in albei gevalle.

Kontak:  073 171 8331 of 082 375 6179;  dubegame.co.za info@dubegame.co.za

Naaste dorp: Brits 20 km.

Hoe lyk die pad? Die laaste 2 km is ’n skaflike grondpad.

GPS: S25.474484 E27.810585

Ry & Sleep sê Hier is ook ’n bergfietsroete – bring jou en jou gesin se fietse saam.

Mabalingwe, Bela-Bela

Mabalingwe se kampplek is in ’n reservaat wat ook die tuiste is van die Groot Vyf. Mabalingwe beteken hoeka “luiperd”.

Die staanplekke het groot ou koeltebome en jy het ook ’n stuk plaveisel vir jou wa. As jy ’n getimmer hoor teen ’n stuk hout, kan jy weet dis ’n speg wat aan die werk is.

Wild soos vlakvarke kom loer gereeld by die kamp in. Hou in gedagte dat die astrante ouens dalk mak voorkom, maar bly op jou hoede, want hulle is wild. Die eintlike wilde ouens word in die wildkamp langsaan aangehou. In dié kamp is die boskroeg van alle boskroeë. Die destydse “Ja, Boet”-Castrol-advertensie is net hier geskiet.

As jy verder in die reservaat wil rondry, maak ’n draai by die Wesselsdam waar jy dalk buffels kan raakloop.

Kortliks | Mabalingwe

Kampplek: 67 gelyk staanplekke op plaveisel en 10 staanplekke in die boskamp (met ’n winkel).

Ablusiegeriewe: Netjies en modern. Hier is ook gesinsbadkamers.

Prys: R170-R245 p.n. per staanplek plus R100-R145 p.p. (R80-R90 vir kinders jonger as 12) afhangend van die seisoen.

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00.

Kontak:  014 736 9000;  callcentre1@boschpoort.co.za;  mabalingwegamereserve.co.za

Naaste dorp: Bela-Bela 27 km.

Hoe lyk die pad? Teerpad tot by die kampplek.

GPS: S24.846336 E28.047592

Ry & Sleep sê Hierdie is een van die min oorde wat sy eie vulstasie het – dis langs die hoofhek.

The Baths, Citrusdal

Die 25 staanplekke loop soos ’n wurm saam met die stroom bergop tot by die kantoor. Die staanplekke is nie ewe groot nie en wissel van reusagtige tot piepklein lappies waarop net ’n klein tent en ’n kar sal pas.

Die ooraanbod van koelte is goed en gaaf, maar dit beteken ook hier is min tot geen gras op die staanplekke nie. Die staanpleknommer is op die staanplek se kragboks, en dié werk met ’n gewone huissok. Jou lig is ook by die boks en jy kan hom self aan- en afskakel.

Hier staan heelwat los staalbraaiers rond wat jy kan nader dra as joune nie saamgekom het nie. Onthou net jou eie rooster.

The Baths se badkamers lyk nuut en is van buite af eenvoudig en stylvol, maar binne luuks.

Die swembaddens is langs die kantoor en nogal ’n stywe entjie se stap as jy op een van die verste staanplekke kamp. Maar die warm water verfris jou lyf soos min ander dinge. 

Kortliks | The Baths

Kampplek: 25 staanplekke van wisselende grootte, met min tot geen gras nie en hope koelte.

Ablusiegeriewe: Nuut en netjies.

Prys: Afhangend van die spesifieke dag en seisoen R120-R170 p.p.p.n.

Kontak:  022 921 8026/7;  reservati ons4@thebaths.co.za;  thebaths.co.za

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00.

Naaste dorp: Citrusdal 17 km.

Hoe lyk die pad? Teer tot by die hek, en skaflike grondpad in die oord.

GPS: S32.735953 E19.040857

Ry & Sleep sê Vir die kinders is hier ’n beskeie houtklimraam en trampolien.

Kam’Bati, Swellendam

Die staanplekke strek ’n goeie halwe kilometer langs die Breërivier af. Al teen die water af staan ’n muur van bloekombome wat lekker skaduwee oor die staanplekke gooi.

By al die staanplekke is die kragpunt óf op jou staanplek óf naby (jou gewone huisprop pas hierin). ’n Braaidrom is ook standaard – dié is ’n middeldeurgesnyde gasbottel wat los op ’n staalraamwerk pas. Kam’Bati het drie badkamergeboue met skoon en netjiese geriewe.

Die ontspanningsgebied is regoor die kantoor. Ook die tuin en swembaddens is behoorlik beplan deur ’n landskapargitek: Onder die kantoor is terrasse uitgelê, en die groen grastapyt lyk skoon kunsmatig só netjies is dit gesny. Die swem- en speelplek pas ook mooi bymekaar in.

Kortliks | Kam’Bati-rivieroord

Kampplek: 96 staanplekke op groen gras. Die meeste het koelte.

Ablusiegeriewe: 3 silwerskoon badkamergeboue – die verste wat jy gaan stap, is 230 m.

Prys: R220 p.p.p.n. (R160 vir pensioentrekkers; R110 vir kinders).

Aankoms- en vertrektyd: 10:00, maar dit geld nie oor naweke buite seisoen nie.

Kontak:  079 200 9098;  marketing@kambati.co.za;  kambati.co.za

Naaste dorp: Swellendam 22 km.

Hoe lyk die pad? Die laaste 5 km is ’n skaflike grondpad.

GPS: S34.079968 E20.28453

Ry & Sleep sê Die visse wat jy vang, moet jy teruggooi. Jy mag jou eie boot saambring, maar die enjin mag nie groter as 10 Pk. wees nie.

Wintervakansie

ATKV-Eiland-spa, Letsitele

Hoewel die Eiland-spa een van die ouer kampplekke in dié omgewing is, is dit beslis die gewildste. Die borrelende mineraalwater het ’n byna magiese aantrekkingskrag en is op sigself ’n uitstekende rede om hier te kom kamp.

Hier is twee buiteswembaddens met warm water, met tussenin ’n klein plonspoel vir die kinders. Die hidro is ’n toegeboude onderdakswembad waar jy so te sê die eerste gebruiker van die warm water diep uit die aarde is. En naas dié bad is ook ’n stoomkamer.

Die staanplekke is wel nie op groen gras nie; jy staan op fyn klippiesgrond met mopaniebome oral om jou. Elke staanplek het sy eie kraan en woonwatipe kragpunt, en los staalbraaiers staan ook nie te ver nie.

Die winkeltjie regoor die hidro het enigiets van vars groente en vleis tot blikkieskos, vars brood, drank en hout.

Kortliks | ATKV-Eiland-spa

Kampplek: 300 meestal gelyk staanplekke op harde sandgrond en met taamlike koelte. Die staanplekke word vooraf toegeken.

Ablusiegeriewe: 5 silwerskoon en moderne ablusieblokke.

Prys: R340-R760 p.d. per staanplek, afhangend van watter staanplek en die tyd van die jaar.

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00, maar jy mag die geriewe tot 17:00 gebruik op die dag van jou vertrek.

Kontak: 015 386 8000;  eilandspa@atkv.co.za;  eilandspa.co.za

Naaste dorp: Letsitele 39 km.

Hoe lyk die pad? Heelpad teerpad.

GPS: S23.655844 E30.670867

Ry & Sleep sê Jy kry korting op jou kamptarief indien jy ’n lid van die ATKV is.

Scottburgh-woonwapark

As jou idee van ’n wintervakansie dinge behels soos pragtige strande en rotspoele, goeie plekke vir visvang of branderplankry, en hope plek vir sommer net lui wees, kan jy jou gerus op een van die Scottburgh-woonwapark se 267 staanplekke kom tuismaak.

Van Februarie tot vroeg in Julie kan jy ’n staanplek teen die strand kies, want dan is dit nie so winderig nie, maar van Julie tot aan die einde van die jaar is die agterste staanplekke, waar daar meer bome en bosse is wat jou teen die wind beskerm, ’n beter keuse. Hier is baie koeltestaanplekke en dis goed afgemerk, groot en op gelyk grond.

Onthou jou stormtoue as jy op die voorste plekke kamp en pak jou ordentlike gazebo ook in as jy vir jou eie koelte moet sorg.

Kortliks | Scottburgh-woonwapark

Kampplek: 267 staanplekke, almal met krag.

Ablusiegeriewe: 8 ablusieblokke met baddens en storte wat baie goed in stand gehou word. Hier is ook ’n rolstoelvriendelike badkamer.

Prys: R350-R1 510 per staanplek, afhangend van wanneer jy kom kamp en hoeveel mense julle is.

Aankoms- en vertrektyd: 12:00 en 10:00.

Kontak:  039 976 0291;  scottburghcaravanpark.co.za;  caravanpark@scottburgh.co.za

Naaste dorp: Op Scottburgh.

Hoe lyk die pad? Teerpad.

GPS: S30.283309 E30.759412

Ry & Sleep sê Sorg dat almal se swemklere ingepak is; die see hier is heerlik warm.

Richardsbaai-woonwapark

Hier langs die warm waters van die Indiese Oseaan kom kamp jy op een van 263 ruim staanplekke met krag en water.

Die woonwapark het direkte toegang tot die strand, en Alkantstrand met sy Blouvlagstatus is skaars 1 km hiervandaan. Van die staanplekke is private kolle in die bos, terwyl jy by ander in die son op ’n oop vlakte staan. Jy is nietemin nooit ver van die welige plantegroei nie.

Die Richardsbaai-woonwapark gee jou egter veel meer as dit: Die kiosk, swembad, speelpark, trampoliens, buitelugskaak, tafeltennis en speletjieskamer behoort almal – van die jongspan tot brommerige tieners – gelukkig te hou. Boonop is dit ’n voëlparadys – en staproetes, wildreservate asook gholf-, tennis-, rolbal- en muurbalbane is alles binne maklike bereik. 

Kortliks | Richardsbaai-woonwapark

Kampplek: 263 staanplekke waarvan die meeste ruim is met krag en water.

Ablusiegeriewe: Netjies maar oud. Hulle word 24 uur per dag gediens.

Prys: R145-R275 p.p.p.n. (R95-R130 vir kinders), afhangend van die seisoen.

Aankoms- en vertrektyd: 12:00 en 10:00.

Kontak: 035 753 1971;  info@richardsbaycaravanpark.co.za;  richardsbaycaravanpark.co.za

Naaste dorp: Op Richardsbaai.

Hoe lyk die pad? Teerpad tot hier.

GPS: S28.790000 E32.099213

Ry & Sleep sê As jy lus is vir ’n daguitstappie, kan jy die pad vat en die Groot Vyf in die Hluhluwe-Imfolozi-wildtuin gaan soek. Dit is 76 km van hier af.

Dolphin-vakansieoord, Ballito

Hier voel jy sommer met die aankomslag tuis, amper asof jy by vriende kom kuier. Die staanplekke is groot en op die meeste van hulle is genoeg plek vir ’n groot woonwa, sy tent én jou sleepvoertuig. Van hulle is op welige gras, ander op yler gras en die res op grond. En met die baie bome en struike tussen die staanplekke kamp jy privaat.

Jy prop jou wa by ’n blou woonwaprop in en het niks meer as ’n standaardverlengkoord nodig nie. Jy deel ’n kraan met die bure en die skoonmakers maak gereeld jou vullisdrom skoon. Hier is nie braaiplek of braaiers op die staanplekke nie en jy moet jou eie een saambring.

Die oord het vier ablusieblokke, elkeen met ’n waskamer met vier wasmasjiene en drie tuimeldroërs. Die badkamers is nie meer nuut nie, maar hulle kan beswaarlik skoner wees. Die strand is skaars 200 m van die hek af en jy stap in ’n steeg soontoe.

Kortliks | Dolphin-vakansieoord

Kampplek: 99 ruim staanplekke en  heelwat koelte.

Ablusiegeriewe: 4 ablusieblokke wat silwerskoon gehou word.

Prys: R335-R1 070 p.n. per staanplek vir die eerste 2 mense afhangend van die seisoen, en R935-R1 770 vir 6 mense.

Kontak:  032 946 2187;  info@dolphinholidayresort.co.za;  dolphinholidayresort.co.za

Aankoms- en vertrektyd: 11:00 en 10:00 (tensy jy ander reëlings tref).

Naaste dorp: Op Ballito.

Hoe lyk die pad? Teer tot hier.

GPS: S29.532273 E31.221788

Ry & Sleep sê Maandae tot Saterdae is daar gratis skons en tee in die saal – en vir die kleingoed koekies en koeldrank.

Forever Tshipise, Musina

Hier is ’n paar honderd staanplekke, maar selfs in die winter is omtrent die helfte van hulle beset.

Die staanplekke verskil van kol tot kol in die oord. Party het lowergroen gras met koelte; party het net son; en ander het weer geen gras nie, maar baie koelte. Die staanplekke is merendeels plat en word met kniehoogte pale afgebaken.

Jou kragpunt (’n woonwasok) en kraan is gerieflik naby aan jou staanplek; as dit nie deel van jou staanplek is nie, is dit teenaan. Hier staan hordes los staalbraaiers rond wat jy kan neersit waar jy dit verkies.

Die badkamers is vyf sterre werd. Aan die manskant is daar selfs vars blomme op die marmerblad langs die keramiekwasbakke. Die teëlwerk is modern en die storthokkies prakties. Die opwasplek vir skottelgoed en wasgoed is agter die ablusieblok.

Reg agter die ontvangsgebou is ’n algemene winkel, drankwinkel en slaghuis wat die stad se gerief nader bring.

Kortliks | Forever Tshipise

Kampplek: 369 staanplekke, sommige met gras en koelte, en ander met son en geen gras nie.

Ablusiegeriewe: 7 skoon badkamergeboue wat deur die oord versprei is.

Prys: Afhangend van die seisoen R170-R280 p.n. per staanplek en R80-R95 p.p.p.n.

Aankoms- en vertrektyd: Geen vasgestelde tyd nie en 11:00.

Kontak:  015 539 0634;  tshipise@foreversa.co.za;  forevertshipise.co.za

Naaste dorp: Musina 38 km.

Hoe lyk die pad? Teerpad tot hier.

GPS: S22.605996 E30.173337

Ry & Sleep sê Gaan stap vroegoggend of laatmiddag in die reservaat, of bring die gholfstokke vir ’n rondte op Musina.

Kort vakansie

Sterland, Sutherland

As jy van die Kaap se kant af kom, lê Sterland 1 km voor Sutherland aan die regterkant van die pad. Jurg Wagener, die eienaar, was voorheen ’n bankbestuurder, en hoewel sy eintlike belangstelling vliegtuie is, het hy hom goed ingegrawe in die sterrekunde.

Die 7 staanplekke hier is privaat en ruim genoeg vir ’n groot woonwa met sy tent én jou sleepvoertuig langsaan. Aan die voorkant van elke staanplek is ’n gemesselde braaiplek (bring wel jou eie rooster saam). Al die staanplekke is gelyk en plat, maar bring jou geweefde grondseil saam vir die stowwerige grond waarop jy kamp.

’n Trappie wat ’n bruggie oor die heining voor die staanplekke vorm, neem jou tot op ’n grasperk aan die ander kant. Hier is ’n swembad in die vorm van ’n oliebol met ’n klein eiland in die middel en ’n lae afdakkie oor.

Die badkamers is langs die eerste staanplek, ook links van die pad. Die badkamers het twee storte en toilette elk en word silwerskoon gehou.

Kortliks | Sterland

Kampplek: 7 afgebakende staanplekke, elk met ’n laning bome op gelyk grond.

Ablusiegeriewe: Deurentyd skoon. Die opwasplek is aan die vroue se kant.

Prys: R140 p.p.p.n. (gratis vir kinders o.2).

Aankoms- en vertrektyd: 15:00 en 10:00.

Kontak:  023 571 1481 of 082 556 9589;  info@sutherlandinfo.co.za;  surterlandinfo.co.za

Naaste dorp: Sutherland 1 km.

Hoe lyk die pad? Teer tot by Sterland en grond tot by jou staanplek.

GPS: S32.408671 E20.658637

Ry & Sleep sê Jurg bied elke aand van die jaar, behalwe Oukers- en Oujaarsaand, sterrekykaande aan.

Kaap Vidal, St. Lucia

As jy by Kaap Vidal kamp opslaan, is die rit soontoe ’n wildrit soos min. Die netjiese teerpad wat 30 km reguit van St. Lucia af tot by die kampplek loop, gaan deur grasveld en inheemse bos, verby moerasland en van die wêreld se grootste begroeide duine.

Bordjies waarsku jou jy moet op jou hoede wees vir renosters, buffels en luiperds. Die staanplekke is gemiddeld 10 x 10 m groot, met van hulle effens groter en ander weer kleiner.

Van die staanplekke is in rye langs mekaar, maar op ander kamp jy redelik privaat met net een of twee bure in die nabyheid. Jy deel ’n kragpunt en kraan met ’n buurman en moet jou eie braaier saambring. Die water hier is goed vir was, maar jy moet ook jou eie drinkwater saambring. Jou vullisdrom het ’n swaar ysterdeksel teen die blou- en samango-ape.

Voor, in die middel en agter in die kampplek is drie ablusieblokke met aparte badkamers vir mans en vroue in elkeen. Buite elke ablusieblok is wasbakke en ’n wasgoeddraad. 

Kortliks | Kaap Vidal

Kampplek: 50 staanplekke, almal met krag en die meeste met skaduwee.

Ablusiegeriewe: Netjies en gerieflik.

Prys: R280-R840 p.n. afhangende van hoeveel mense julle is en wanneer julle kamp. Permittariewe en bewaringsheffings is uitgesluit.

Kontak:  035 590 9012;  bookings@kznwildlife.com;  kznwildlife.com/about-cape-vidal

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00.

Naaste dorp: St. Lucia 30 km. Hoe lyk die pad? Teerpad tot hier.

GPS: S30.7052 E30.4795

Ry & Sleep sê As jy van die see af terugkom, kan jy jou onder ’n buitestort by die ablusiegeriewe afspoel.

Utshwayelo, Manguzi

Utshwayelo by Kosibaai is die noordelikste kampplek in KwaZulu-Natal – die afdraai soontoe is 13 km anderkant Manguzi en skaars 1 km voor die Mosambiekse grens.

Hier is 14 ruim staanplekke waarvan die meeste soos ’n kraal uitgelê is met ’n rietheining om – jy het dus privaatheid. Elkeen van die staanplekke het ’n blou kragsok, lig, kraan, vullisdrom en braaiplek (’n halwe lorrievelling wat jy kan rondskuif). Onthou jou rooster.

Hier is drie badkamergeboue, kompleet met buitelugstorte, en elkeen het ’n opwasplek. Die oord het ook ’n swembad en kroeg wat volgens die eerlikheidsbeginsel werk. As dit by water en krag kom, is die oord selfvoorsienend.

Die water kom uit ’n boorgat en die elektrisiteit van ’n sonkragstelsel en kragopwekker. Hulle het ook Eskomkrag, maar dié punte is nie bedoel vir toerusting soos ketels en lugreëling wat té veel krag trek nie.

Kortliks | Utshwayelo

Kampplek: 14 staanplekke. Koelte is volop, maar nie alle staanplekke is ewe gelyk nie.

Ablusiegeriewe: Aards en netjies.

Prys: R220 p.p.p.n. (halfprys vir kinders van 6-12 jaar).

Aankoms- en vertrektyd: Geen vasgestelde tye nie.

Kontak:  082 909 3113;  kosibay.infoinfo@kosimouth.co.za

Naaste dorp? Manguzi 21 km.

Hoe lyk die pad? Die laaste 4,5 km is ’n sinkplaatgeryde grondpad, en in die oord self is vasgetrapte sandpaadjies.

GPS: S26.892218 E32.858621

Ry & Sleep sê Troeteldiere is welkom mits dit buite seisoen is, maar jy moet steeds die oord daarvan in kennis stel. Onthou, geen troeteldiere word langsaan toegelaat in die iSimangaliso-vleilandpark nie.

Augrabies- nasionale park

Dié kampplek voel omtrent soos ’n broerskind van die Krugerwildtuin. Dit het dieselfde bosveldgevoel, die kampplek is skoon, en selfs die migrasiepatroon van kampeerders is soortgelyk: Saans is die plek vol, maar teen vroegoggend het die bure weer opgepak en in die pad geval.

Op jou staanplek is ’n geplante ploegskaarbraaiplek waarvan die rooster oor die bak swaai. Wanneer jy opdaag, is dit reeds skoongevee. Kyk waar die kragpunte is as jy nie jou verlengkoord wil gebruik nie, want hulle is nie op elke staanplek nie.

Die krane staan lukraak rond en is gemerk met ’n bordjie wat wys dis veilig om te drink. Hier is heelwat koeltebome. Die twee badkamergeboue is aan weerskante van die kampplek met ’n kombuisgedeelte aan die verste kant.

Die Oranjerivier met sy canyon-afloop is 200 m van die kampplek af en die waterval nog 300 m verder stroomop. ’n Mens hoor die gebulder van die water tot in die kampplek.

Kortliks | Augrabies- nasionale park

Kampplek: 40 gelyk staanplekke op grond. Die meeste het ’n boom naby.

Ablusiegeriewe: Oud en netjies, maar kort aandag.

Prys: R285-R300 p.n. per staanplek vir die eerste 2 mense; daarna R94 p.p. (R47 vir kinders). Hoogstens 6 mense per staanplek word toegelaat. Onthou ook van die bewaringstarief van R56 p.d. (R28 vir kinders) as jy nie ’n Wild Card het nie.

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 11:00.

Kontak:  054 452 9200;  sanparks.org

Naaste dorp: Keimoes 76 km.

Hoe lyk die pad? Teer tot by die kantoor en mooi grondpaadjies in die kampplek.

GPS: S28.593177 E20.337481

Ry & Sleep sê Die uitkykpunte waarheen jy op verhewe houtpaadjies stap, is veilig toegespan. Ontspan dus oor die kinders!

Motswedi-Kampterrein, Mokala

Die Motswedi-kamp lê diep in die Mokala- nasionale park, onder doringbome en langs ’n watergat. Die kampterrein het net ses staanplekke wat in ’n halfmaan om ’n watergat uitgelê is.

Jy en een van jou kampbuurmanne deel ’n gebou waarin elkeen sy eie badkamer en kombuis het. Dié drie badkamer-en-kombuisgeboue is in ’n tipiese Sanparke-styl gebou en pas mooi by die omgewing in.

Die doringbome is net-net groot genoeg sodat jy jou woonwa of boswa in die skaduwee kan trek, en as jy jou wa hier by die braaiplek staanmaak, is jou badkamer en kombuis ongeveer 15 treë van jou kampplek af. By jou staanplek het jy ’n skottelskaarbraaier én ’n vuurput in die grond waar jy sit-sit en gesellig onder die sterre kan braai.

Hier is nie elektrisiteit in die kampterrein nie, maar jou badkamer en kombuis het ligte en ’n geiser wat bedags deur die Noord-Kaapse son gelaai word.

Kortliks | Motswedi

Kampplek: 6 private bosstaanplekke, elk met ’n private badkamer en kombuis.

Ablusiegeriewe: Skoon, luuks en nét joune.

Prys: R490-R515 per staanplek (6 mense) plus ’n bewaringstarief van R48 (R24 vir kinders).

Kontak:  053 204 8000;  sanparks.co.za/parks/mokala

Hoe lyk die pad? Die 21 km grondpad tot by die Mosu-ingang is op plekke effens sinkplaat gery.

GPS: S29.151800 E24.309620

Ry & Sleep sê Hier is jy heerlik naby aan die natuur. Op ’n goeie oggend kan jy met dagbreek al elande langs jou staanplek in die veld sien wei.

Desembervakansie

Forever Loskopdam, Groblersdal

By Loskop kom maak die manne graag lyn nat, want in dié dieptes skuil daar karp, blinkvis, baber en moddervis – én swartbaars as die geluk die dag aan jou kant is.

Hierdie is ’n groot oord wat bedoel is vir gesinsvakansies of ’n gesellige kuier saam met vriende, en daarom is vermaak volop. Daar is byvoorbeeld warm en koue swembaddens, minigholf, vlugbal, tennisbane, ’n speelpark vir kinders, trampoliens en ook pool-tafels.

Die kampterrein lê teen ’n natuurlike helling water se kant toe en daarom is party staanplekke ongelyk. Jy moet ook kies tussen ’n mooi uitsig en hoe naby jy aan die naaste ablusieblok wil uitspan.

Die sewe badkamers is darem verspreid deur die oord en die kragpunt op jou staanplek gebruik die blou woonwasok.

Al is hier meer as 200 staanplekke, kan jy selfs in besige tye sukkel om plek te kry. Bespreek dus vroegtydig. 

Kortliks | Forever Loskopdam

Kampplek: 252 staanplekke – 226 met krag en 26 daarsonder.

Ablusiegeriewe: 7 netjiese ablusieblokke wat heeltemal voldoende is vir die spitstydverkeer.

Prys: R120 p.p.p.n. in die winter en die middel van die week; andersins R150-R280 p.n. per staanplek (met of sonder krag) plus R120 p.p.p.n.

Aankoms- en vertrektyd: 11:00 en 17:00.

Kontak:  013 262 3075;  loskopres@foreversa.co.za;  foreverloskop.co.za

Naaste dorp: Groblersdal 35 km.

Hoe lyk die pad? Heelpad teerpad tot by die oord.

GPS: S25.423295 E29.386570

Ry & Sleep sê Loskopdam het selfs sy eie vulstasie.

ATKV-Strandoord Hartenbos

In dié ATKV-oord kamp jy op een van meer as 500 staanplekke, in een van 5 aparte kampplekke (of blokke, soos hulle ook genoem word).

Altesame 105 van dié staanplekke front aan die see. Hartenbos se staanplekke is almal min of meer 10 x 10 m groot en oorwegend op gras. Jy en jou vier bure deel ’n sentrale kragboks en tussen elke 8-10 staanplekke is ’n kraan. Van die oord se staanplekke het groot koeltebome, maar op die seefrontstaanplekke moet jy vir jou eie afdak sorg.

Die ablusieblokke, met groot en ruim badkamers vir mans en vroue, het al die geriewe wat jy in ’n badkamer soek. Jy kan bad of stort – die groot storthokkies het nie ’n droë deel nie, maar ’n klein geteëlde bankie waar jy jou skoon klere kan neersit.

Kortliks | ATKV-strandoord Hartenbos

Kampplek: Meer as 500 staanplekke, almal met krag en op gras, en van hulle in die koelte.

Ablusiegeriewe: Gerieflike en skoon badkamers vir mans en vroue.

Prys: R195-R1 075 per staanplek vir 6 mense, afhangend van die seisoen en jou ligging van die see af. ATKV-lede betaal R155-R925 per staanplek.

Kontak:  044 601 7200;  hartenbos@atkv.org.za;  atkvoorde.co.za

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 09:00 (buite seisoen 12:00).

Naaste dorp: Op Hartenbos.

Hoe lyk die pad? Al die pad teerpad.

GPS: S34.124972 E22.112382

Ry & Sleep sê As jy nie van ’n vakansiegedruis hou nie, kom buite seisoen hierheen, want dan is hier rus en vrede.

Forever Badplaas, Carolina

By Badplaas, so te sê halfpad tussen Barberton en Carolina, is amper te veel doendinge om op te noem. Daar’s die warmwaterswembaddens (ook koues), die waterwurm, die glybane, die foefieslaaid, minigholfbaan, speletjiesarkade, Rinkhals (waar jy met binnebande in ’n betonvoor af dryf), verfbalbaan, die knortjorre, die 9 putjie-gholfbaan, rolbalbaan, museum, die wildritte en perdry – en dan praat ons nie eens van die hidro waar Oupa sy seer knie in die water van 42 ºC kan gaan regdokter nie.

Die woonwapark is in ’n A- en B-kamp verdeel. Tussen die twee is daar altesame by die 300 staanplekke waaruit jy kan kies. Op jou staanplek kry jy ’n blousokkragpunt, staanbraaier met ’n rooster, en ’n vullisdrom. Hier is ook ’n kraan vir ongeveer elke vier staanplekke.

Hier is ses groot ablusieblokke, en in elkeen van hulle is meer as genoeg storthokkies, baddens, toilette en wasbakke. Hier is ook opwasplek, wasmasjiene en tuimeldroërs én plek om kassettoilette uit te spoel.

Kortliks | Forever Badplaas

Kampplek: 308 genommerde staanplekke met krag.

Ablusiegeriewe: 6 groot en moderne ablusieblokke.

Prys: R140-R200 p.n. per staanplek (afhangend van wanneer jy kamp) en R150-R220 p.p.p.n. Maksimum 8 mense per staanplek.

Aankoms- en vertrektyd: 10:00 en 11:00, maar jy mag die oord se geriewe op die dag van jou vertrek tot 17:00 gebruik.

Kontak:  017 844 8000;  badplaas@foreversa.co.za;  foreverbadplaas.co.za

Naaste dorp: Carolina 50 km.

Hoe lyk die pad? Heelpad teerpad.

GPS: S25.956596 E30.562910

Ry & Sleep sê Hier is nie wafferse gras nie, maar elke staanplek het oorgenoeg koelte en is genommer.

Stormsriviermond, Stormsrivier

Stormsriviermond in die Tsitsikamma- natuurreservaat is een van dié gewildste bestemmings onder Sanparke se besoekers, en wanneer jy hier sit met die see op jou voorstoep en die ongerepte Tsitsikammawoud agter jou, verstaan jy hoekom.

Hier is meer as 80 geplaveide staanplekke en elkeen van hulle is ruim genoeg vir jou wa en stoeptent. Hier is ’n kragpunt en braaiplek vir elke staanplek, maar jy moet jou eie rooster saambring. Soos ’n mens kan verwag, is die staanplekke voor teen die see duurder as die res, maar as jy ooit geld wou uitgee om jouself en jou mense te bederf, doen dit hier.

Daar is ’n spesiale bekoring aan die bulderende branders wat op die rotse breek, met die seesproei wat só hoog opslaan dat dit amper nie nodig is om jou braaivleis te sout nie.

Die ablusiegeriewe is oorwegend netjies, modern en skoon, en altyd naby aan jou, ongeag waar jy jou kamp opslaan.

Kortliks | Stormsriviermond

Kampplek: Meer as 80 geplaveide staanplekke met krag en ’n braaiplek (onthou jou rooster). Koelte is skraps.

Ablusiegeriewe: 5 ablusieblokke wat wissel in grootte. Netjies en skoon.

Prys: R360-R515 per staanplek vir 2 mense. Daarna R94 p.p. (R47 vir kinders). Jy betaal ook ’n daaglikse bewaringstarief van R62 (R31 vir kinders).

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00.

Kontak:  042 281 1607;  sanparks.org;  reservations@sanparks.org

Naaste dorp: Stormsrivier 16 km.

Hoe lyk die pad? Teerpad tot by jou staanplek.

GPS: S34.022394 E23.896270

Ry & Sleep sê Staanplekke word nie toegeken nie. Daag eerder vroeg op as jy kieskeurig is.

ATKV-Klein-Kariba, Bela-Bela

Klein-Kariba is op ’n wildplaas van digby 600 ha, met die woonwapark wat in ’n lang strook regs van ’n spruitjie lê.

Die staanplekke lê weerskante van die pad wat deur die oord loop, met dié aan die regterkant van die pad wat oorwegend groter is. Hier is nie gras om oor huis toe te skryf nie, maar op die meeste kampkolle het jy êrens deur die loop van die dag skaduwee. Hier is bloupropkragpunte en jy kry ’n losstaande staalbraaier met ’n rooster wat jy kan skuif na waar jy hom wil hê. Jy deel jou kraan en vullisdrom met jou bure.

Die swembadgedeelte is die grootste attraksie hier en dis ook waar jou kinders – én jy – die meeste van julle tyd gaan deurbring. Dis ’n goeie 500 m se stap van die kampterrein af. Hier is twee moderne ablusieblokke in die kampterrein met min of meer dieselfde geriewe in albei, en hulle word deurentyd mooi skoongehou.

Kortliks | ATKV- Klein-Kariba

Kampplek: 76 staanplekke, almal met ’n plaveiblad, braaiplek met ’n rooster, krag en ’n kraan naby.

Ablusiegeriewe: 2 netjiese en moderne ablusieblokke.

Prys: R115-R890, afhangend van die seisoen en watter staanplek jy kies.

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00.

Kontak:  014 736 9800;  kariba@atkva.org.za;  atkvoorde.co.za

Naaste dorp: Bela-Bela 8 km.

Hoe lyk die pad? Heelpad teerpad.

GPS: S24.849544 E28.336160

Ry & Sleep sê Sommige van die staanplekke het groot skadunette oorgespan en daar is selfs ’n rioolkoppeling

Lus vir vakansie?
Gebruik die Afrikaanse soekenjin www.wegreis.co.za om vliegkaartjiepryse vir binne- en buitelandse vlugte te vergelyk. Teken in vir die nuusbrief om koeponkodes te ontvang vir afslag op enige binnelandse- of buitelandse bespreking (geldig tot 31 Maart2020)!