Jy’t weer dít vergeet, en dit lyk asof die vakansie duurder gaan uitwerk as julle begroting...

Weg se redaksie het gesamentlik omtrent al elke hoekie van ons land verken, en moet ook gereeld die grens oorsteek. Hier’s hulle 20 wenke om jou volgende reis so maklik, sorgvry (en lekker!) as moontlik te maak.

Sophia van Taak sê:

• Maak ’n lys van al jou elektroniese toerusting se name, modelreekse, spesifikasies en reeksnommers en hou altyd ’n drukstuk hiervan byderhand.

Dit gebeur selde dat ’n beampte jou op ’n lughawe eenkant neem om jou skootrekenaarsak en kameratoerusting te fynkam, maar wees liewer voorbereid as wat jy in die internasionale vertreksaal moet rondspartel en dan net nóg meer verdag voorkom.

Veral die reeksnommer sit dikwels op ’n aardige plekke onder die battery of binne-in ’n deurtjie weggesteek en as jy die hele lot daar en dan moet vind, mis jy dalk net jou vlug. 

• Pak ook sommer al jou toerusting op ’n tafel uit en neem ’n foto daarvan wat jy later maklik van Dropbox of uit jou inbus kan oproep indien dit nodig is om te bewys dat jy wel reeds vóór jou vertrek Bangkok toe dié kamera en zoemlens besit het.

Netnou dink hulle jy probeer dit nou insmokkel om te verkwansel en laat jou dan invoerbelasting op jou eie goed betaal!

• Dra altyd ’n ligte kikoi of sarong in jou kamerasak saam. Dit neem nie baie plek op nie en is nuttig om dadelik iets om jou kamera te kan draai wanneer die wind skielik opkom of dit liggies begin reën. As jy koud kry, of gou in ’n rivierpoel wil induik, werk so ’n ligte stuk lap ook goed as ’n serp of handdoek. 

• Wanneer jy op ’n meerdagstap gaan, is dit raadsaam om enkele spaar-gespes van die soort en grootte wat aan jou rugsak is, saam te neem.

Die kans is skraal dat jou sak van só ’n hoogte af op ’n rots gaan val dat ’n gespe breek, maar dit is bitter ongerieflik om te stap met ’n strop of heupgordel wat nie meer kan vastrek nie.

Toast Coetzer sê:

• Moenie alleen reis nie. Hoe langer die reis, hoe meer gaan jy ’n vennoot mis as jy alleen reis. Deel jou reis met iemand.

• Moenie stres oor wat om in te pak nie. Ry jy Mars toe? Nee? Wel, dan sal daar winkels iewers langs die pad wees waar jy enigiets kan koop wat jy voel jy skielik nodig kry.

• Moenie oorgerus raak nie. Vakansie is baie lekker, tot iemand by jou kar inbreek en jou kamera steel wanneer jy in ’n “stil” dorpie stop om iets te eet.

• Sit soms die radio af. Ja, gesels ’n bietjie met mekaar. Op ’n lang toer is die landskap van menseverhoudinge net so belangrik as die landskap buite die ruite.

• Pak lig. Jy het verbasend min nodig op ’n kampvakansie. Los die luukses. Hoe ligter jou kar, hoe laer jou brandstofverbruik, en hoe minder goed moet jy elke dag op- en afpak.

• Toets jou toerusting vooraf. Moenie 2000 km ver ry met ’n kar vol nuwe toerusting (kampgoed, herwinningstoerusting, elektronika, ensovoorts) wat jy nog nooit getoets het nie. Toets als vooraf by die huis. 

• Jou stoel is nommer een. Moenie ’n goedkoop of lendelam kampstoel saamvat nie. Wanneer jy lang ente ry en uiteindelik by jou kampplek aankom wil jy sit soos ’n koning.

• Vat baie water saam. As jou kar in die middel van nêrens breek en jy moet lank wag vir hulp kan jou oorlewing daarvan afhang of jy genoeg drinkwater het. 

• Bederf jouself. Hoe meer landsgrense jy noordwaarts van Suid-Afrika oorsteek hoe verder weg ry jy van ingelegde perskes (of koejawels, of pere) en vla. Neem so paar blikkies vrugte en kartonhouers vla saam. Dit hou vir ewig en proe soos die huis (wat jy wel soms gaan mis...)

• Moenie jaag nie. Hoe langer jy jou reis kan maak, hoe beter. Ruim tyd in vir stilsit ook. Moenie net van een trekpleister na die volgende jaag nie. Hou vakansie. Jy verdien dit. 

As jy ver moet vlieg

Pierre Steyn sê:

• Pak so lig as moontlik. Neem net handbagasie as jy vlieg. Jy hoef jou nie te bekommer oor vlytige vingers wat deur jou persoonlike items vroetel, of dat jou bagasie twee dae later via Bogota by jou gaan opdaag nie.

Dit spaar jou boonop tyd as jy by jou bestemming afklim. Met moderne liggewig materiaal is dit merkwaardig hoe baie klere jy in ’n rugsak en ’n sagte toksak kan inpas. 

• Ek pak altyd my hardloopskoene. ’n Vroegoggend-draffie of -stap deur ’n nuwe stad help nie net om jou te orienteer nie, maar dis ook die beste teenmiddel teen vlugflouheid.

Van my beste reisherhinneringe is die dinge wat ek met sonopkoms op ’n draffie deur ’n nuwe plek ervaar en gesien het.

• Vermy die doeanevrye winkels in die lughawens as jy iets soek vir geliefdes by die huis. Koop eerder by die plaaslike mark iets van een van die locals, of stap by ‘n supermark in en koop iets eg uit die streek.

’n Groot “groen tee”-KitKat-sjokolade by ’n Japanese supermark kos helfte soveel as wat dit by die doeanevrye winkel op die lughawe gaan kos.

Vir die gesinne

Esma Marnewick sê:

Ons kinders is onderskeidelik vier en ses jaar oud en dis ’n uitdaging om langer as twee uur te ry met kleuters, dus is hierdie wenke gerig op hoe om dié soort reis makliker te maak. 

• Pak ’n Tupperware-bak met versnaperinge en ’n bottel water in, want in ’n voertuig is jou kinders áltyd honger.

En gee hulle net ’n koekie of ’n paar jelly beans op ’n slag – onthou die pad is nog lank! Vat ook ’n nat lappie in ’n Ziploc-sakkie saam, en ’n plastieksak vir rommel. 

• Sorg dat daar genoeg Storieman- of Julia Donaldson-CD’s (van Goorgomgaai-faam) in die radio is. 

• Beplan julle roete só dat daar iewers ’n lekker padstal of uitspanplek langs die pad is, met vars pasteie en speelplek vir die kinders.