Weg-leser, Annatjie de Graaff het in 2014 aan ons vertel hoe haar man, Willie, en sy span juis dit in 2013 gedoen.

As ’n mens die spulletjie so kyk, is dit moeilik om te glo dié toerusting en voertuie – wat lyk asof dit uit die ark kom – kan duisende kilometers se sand, gras, bosse en bome tem.

Maar dis presies wat my man, Willie, en sy span nou al meer as 25 jaar doen. Kontrakteurs moet elke jaar aansoek doen om die brandpaaie te skraap, en toe Willie se aansoek een jaar nie suksesvol was nie, was hy byna heeljaar siek.


In 2013 het die span van ons plaas, Dakota, in die Ghanzi-distrik, vertrek en tot by die oostelike punt van die Kuka-kwarantyndraad (die noordelike grens van die Sentraal-Kalahari- nasionale park) gereis.

Van daar af het hulle al met dié lyn langs in ’n oostelike rigting geskraap, tot teenaan die Namibiese grens.

Daar het hulle noord gedraai tot teen die Caprivi, en toe weer oos tot teen die Kwandorivier geskraap.

Ou hande wat weet hoe


Langs die Sentraal-Kalahari is die brandpad 20 m breed, en langs die Namibiese grens is daar drie drade, elk 5 m uitmekaar (dus ’n brandpad van 15 m). Die manne skraap die hele roete in een rigting, en dan skraap hulle ook weer in die teenoorgestelde rigting terug. Op ’n goeie dag skraap hulle 40-50 km, maar soms moet hulle ná skaars 3 km halt roep om eers herstelwerk te doen.

Willie se span van 20 is meestal manne wat op die plaas werk en al jare saam met hom geskraap. Ander is van die omgewing en soebat om saam te gaan, want die betaling is goed en daar's daagliks vleis op die spyskaart.

Buiten die plaaslike drywers is daar ook twee Zimbabwiërs wat as selfopgeleide motorwerktuigkundiges saamgaan en alles wat breek, sommer net daar in die veld reg sweis of timmer. Hulle skrik ook nie om 'n enjin net daar te vervang nie. 'n Span van ses maak soggens eers die pap bande reg, waarna hulle dan terugstap op die stuk wat die vorige dag geskraap is om die bosse uit te kap wat die skrapers nie kon loskry nie.

Die konvooi bestaan uit ses ou Wabco-skrapers (party se registrasiedokumente dateer uit die jare vyftig!), elk met derduisende kilometer op die klok. Daar is ook drie Mercedes-lorries – Babs, Skilpad, Group 5 (destyds oorgekoop by dié konstruksiemaatskappy wat die Trans-Kalahari-hoofweg geteer het) – en ’n Isuzu, Kanniedood. 

Laasgenoemde twee dra elkeen 5 000 liter diesel, terwyl die proviand, noodenjins, onderdele, bande en sowat 5 000 liter water tussen die res verdeel word. Oral waar hulle kom, word die water weer aangevul, en daar word ook op punte langs die roete diesel afgelaai.

Willie ry saam in sy Land Cruiser (’n 2000-model) wat hy die Jagbakkie noem. Dié Cruiser het al leeus gevang en wildehonde verjaag – iets wat ’n boer met ’n beesplaas naby die Sentraal-Kalahari- nasionale park gereeld moet doen. Die Cruiser is al vol duike, skrape en leeubytmerke, maar dis ’n ryding wat sy man kan staan.

Kilometer vir kilometer

Die konvooi kom gewoonlik soggens seweuur aan die gang, stop op die middaguur vir ’n blaaskans en iets te ete, en skraap dan weer tot so vyfuur die middag. Die laaste paar ligdagure word gebruik om die tenks weer vol te maak, filters skoon te spuit en reg te maak wat die dag gebreek het.

Die werkers deel hulleself in spanne in – ’n paar maak kos, ander maak hout bymekaar. Saans word daar gróót gekook, sommer genoeg vir die volgende dag se middagete ook. Buiten vleis is aartappels, vetkoek, rys, tamatiesous, mayonnaise en baie sterk, soet tee spyskaart-gunstelinge.

Selfoonontvangs is maar swak en gewoonlik net naby ’n dorpie. Maar steeds toets die manne elke aand of daar nie tog ’n paar strepies op ’n foon se skermpie verskyn nie. Hulle klim bo-op die skapers, en dis groot nuus as iemand ’n sein kry!

Willie het ook altyd ’n satellietfoon by hom in geval van nood, en ook om my te laat weet as die vleis of onderdele opraak en ek hulle iewers langs die roete moet ontmoet – iets wat ek vyf keer op dié tog moes doen. Dan moet ons skoonseuns wild jag en bees slag, want die manne moet eet!

“Kan ek ’n foto neem, want ek het nog nooit op een slag so baie skrapers gesien wat werk nie!”


'n Anderse soort wildsrit

Die skof deur die Kalahari se dik sand is ’n uitdaging vir enige voertuig, om dit ligtelik te stel. Jy kan jou indink hoe ’n lot skrapers en vragmotors daar deursukkel!

Willie het by die Tsau-hek op die noordwestelike uithoek van die reservaat ’n groep Suid-Afrikaanse toeriste teëgekom. “Asseblief, Meneer,” het die man gepleit. “Kan ek ’n foto neem, want ek het nog nooit op een slag so baie skrapers gesien wat werk nie!” Van hier af is die konvooi tot teen die Namibiese grens, en toe op tot bo in die hoekie waar die Caprivi se vinger uitstoot.

Langs die Namibiese grens kry jy eers duine en naderhand klipkoppies met maroelabome. Hoe verder noord ’n mens vorder, hoe groter word die bome. Die mankettibome met hulle sambreelvormige kroon kan jy ver oor die veld sien uitstaan. In die winter lyk dit soos droërangskikkings op die horison, om van die kremetartbome nie eens te praat nie.

Die skrapers skraap wurms, goggas en slangetjies uit die grond los en die voëls kom dit gou agter. Dan is daar altyd ’n swermpie, waaronder neushoringvoëls en troupante, wat die konvooi volg vir al die lekkernye wat skielik bo-op die grond lê.

By Mohembo is Willie-hulle met die veerboot oor die Okavangorivier, want hulle het ook ’n deel van die noordgrens geskraap, tot teen die Kwandorivier. “As manne hulle 4x4’s wil uittoets, is dít die roete om te ry,” het hy my laat weet. Die Jagbakkie het self in die sagte sand vasgeval, en dit het ’n gespook met grawe en gepakte takke gekos om hom weer los te kry. En ja, hy was in 4x4!

Die veerboot oor die rivier was ’n baie groot uitdaging omdat die konvooi nie juis padwaardig is nie. Van die skrapers en vragmotors se remme werk nie, sommige se koppelaars ook nie, en ander spring uit rat uit. Maar die kleingeboude Boesman-drywers het die groot skrapers soos meesters hanteer.


Net nóg ’n dag op kantoor

Ten ooste van die Okavango verander die landskap en plantegroei. Dis mooi wêreld en Willie-hulle het gereeld olifante, buffels en soms ook die skaars bastergemsbok gesien.

In die noorde is die bosveldpapegaai volop, en selfs al kan jy hom nie sien nie, hoor jy sy skel “tjee-tjee-tjee” oral waar jy stop. Die kremetartlaksman en palmwindswaeltjie maak die tog interessant, en teen die riviere is die watervoëls iets om te aanskou – veral die saalbekooievaar en nimmersat.

Maar hier is nie net wilde diere en voëls nie… daar’s ook altyd iewers langs die pad ’n slang in die gras.

Bo langs die noordgrens parkeer Willie graag in die koelte van ’n groot boom terwyl hy wag dat die skrapers aankom. Op ’n dag het ’n slang sy pad uit die bome tot agterin die Cruiser se laaibak gevind, en toe Willie sy hand insteek om iets uit te haal staan die swartmamba regop, gereed om aan te val…

Ver van mediese hulp af kan jy nie kanse waag met slange nie, en Willie moes hom noodgedwonge doodmaak.


Dis hárde werk dié, maar die mooiheid gee ’n mens moed vir die volgende dag se kilometers van spook en stoei met doringbome en ratkasse. En dit help ook om te dink dat jy en jou span se geswoeg help om die natuur te bewaar.

Ná twee en ’n half maande, 60 000 liter diesel, 2 000 km en 350 pap bande kom die ou masjiene een vir een by Dakota ingery. Willie en sy span is sat, maar hulle weet Botswana se brandpaaie is weer skoon en die veld weer veilig.

*Hierdie artikel is oorspronklik op Weg se webwerf verskyn (November 2016). Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon sedertdien verander het - laat weet gerus as jy so iets raaksien.