1. Verken die Berg te perd

By die Rugged Glen-kampterrein (genoem na een van die plase wat later jare by die reservaat gevoeg is) is stalle waar jy vir begeleide ritte van 30 minute tot ’n namiddag lank kan aanmeld – beginners welkom. Die roetes kronkel deur ’n groot deel van die reservaat, dis ’n heerlike manier om die gebied uit verskeie hoeke te bespied en as jy rustig aanpiekel kan jy ook goeie foto’s uit die saal neem. 

Waar? Die pad na Rugged Glen draai net buite die reservaathek af – volg die aanwysings vir sowat 2 km.

Koste: Vanaf R200 p.p. Vir 6 ure kos dit R500 p.p 

Oop: 8 vm.-4 nm.

Bespreek vooraf: 076 180 6176 of 036 438 6422

2. Kyk rotskuns

Die Drakensberg is ryk aan rotskuns, en hier in die Sigubuduvallei is ’n hele paar goedbewaarde panele langs ’n begeleide roete te sien. 

Waar? Die voetpad begin teenaan die reservaat se hoofpad, 800 m van die hek af; hier’s parkeerplek teen die pad. 

GPS: S28.681885 E28.967118

Koste: R40 p.p. (R20 vir kinders; sluit ’n gids in) 

Bespreek vooraf ’n gids: 073 699 8038 (Sizwe Mkize)

3. Skree soos ’n maer vark!

All Out Adventures spog met ’n adrenalieninspuiting na elke smaak. Hier’s quadfietsroetes, bergfietsroetes, glykabels, reuse-trampoliens, verfbal en ’n regte, egte sirkusswaai waarvan af jy kan bollemakiesies maak voordat jy in die vangnet land. 

As jou rug nie meer sulke toertjies toelaat nie, sit in die koffiewinkel en speel toeskouer terwyl die kinders van hulle energie ontslae raak.

Koste: Kyk aanlyn vir verskillende pakkette.

Tye: Dinsdag tot Sondag van 9 vm.-4.30 nm. 

Kontak: 079 417 4989; alloutadventures.co.za

4. Nie lus vir kook nie?

Hier’s ’n hele paar ghrênd hotels met hulle eie restaurante naby, maar die Tower of Pizza is die vallei se lekkerste kuierplek, met van die beste pizzas wat ons in ’n lang tyd geproe het. Bestel die Sungubala met gerookte hoender, pikantrissies, feta, knoffel en mozzarella.

Waar? 10,8 km terug in die R74 se rigting. Kyk uit vir ’n graansilo (die “Tower”) op regterhand. 

Kontak: 036 438 6480; towerofpizza.co.za