Foto’s Cyril Klopper

Nelspruit is ’n gewilde aftrekplek vir vakansiegangers wat van Gauteng af na die Krugerwildtuin reis. Ook Mosambiekers kom oor die Maputo-korridor Nelspruit toe om hulle maandelikse inkopies te doen. Skaars 10 minute buite die stad tref jy die Schagenvallei aan.

Die vallei deel sy naam met ’n streek in die noorde van Nederland (nie juis bekend vir berge en valleie nie) en in dié vallei kom jy die nedersetting Alkmaar (ook ’n Nederlandse naam) teë.

Hier, op ’n sitrus-en-macadamiaplaas met dieselfde naam, is die Alkmaar-4x4-roete. Wees op die uitkyk vir die baniere vir die Kwanyoni-lodge langs die N4-snelweg. Draai hier af (S25.449700 E30.826550) en skakel die telefoonnommer op die plakkaat langs die hek. Die plaas behoort aan Johann en Wanda Sippel.

As een van hulle nie self die foon antwoord nie, sal hulle regterhand, C.J. Lombard, jou inlaat.

Ry hom só

Die roete begin aan die bokant van Alkmaar se boorde. Dit is ’n doolhof tussen die akkers vrugtebome deur voor jy by die beginpunt uitkom, maar C.J. sal jou met sy plaasmotorfiets hierheen lei indien jy onseker is.

Die eerste kilometer van die roete kruip teen ’n klipbesaaide skuinste uit. Jy gaan terstond moet oorskakel na viertrek en dalk sommer ook ’n ewenaarslot inhaak. Dis nie ’n hardebaard skuinste nie, maar onnodige wieltol verinneweer die padoppervlak.

Aan die einde van die eerste kilometer is ’n klomp gate wat jou vering se strekafstand op die proef gaan stel (S25.466417 E30.825200). Dan volg ’n kort plato waar geeltamboekiegras skouerhoog groei.

Johann stuur gereeld ’n trekker met ’n bossiekapper om die gras in die tweespoorpaadjie kort te hou. Behalwe dat die roete dan mooi lyk, verlaag dit ook die risiko dat gras onder jou voertuig se uitlaatpyp saampak en vlam vat.

Op jou roetekaart, wat jy met jou aankoms ontvang, sal jy merk dat die 7 km lange Alkmaar-roete ’n 8-figuur vorm. Jy ry die eerste hoepel antikloksgewys tot by ’n vurk in die pad.

Soek vir ’n vlaggie by die vurk en neem dan die tweede hoepel kloksgewys. Sowat 600 m verderaan is daar weer ’n vurk. Dis hier waar jy moet besluit of jy kans sien vir Alkmaar se taaiste hindernis: Die Klip. As jy aan hoogtevrees ly, moet jy eerder aanstryk, want as jy links afdraai na Die Klip, is daar geen omdraaikans nie.

Ry afdraande met ’n smal paadjie deur ’n klossie wildesering, vaalboom en sekelbos tot waar die pad onverwags op die toppunt van ’n reusegranietklip eindig (S25.467917 E30.833283). Jy móét hier af, want dis haas onmoontlik om terug te stoot.

Jy móét hier af, want dis haas onmoontlik om terug te stoot. Jou voertuig se bande klou moeiteloos aan die graniet, maar skakel liefs oor na laestrek...

Jou voertuig se bande klou moeiteloos aan die graniet, maar skakel liefs oor na laestrek en eerste rat, want jy wil nie teen dié skuinste af net op jou remme staatmaak nie. Aan die onderpunt van Die Klip sal jy ontdek dat hy eintlik nie só uitdagend is nie; jy moet net dapper genoeg wees om daai eerste tree te neem.

Met Die Klip agter die rug ry jy met dieselfde paadjie terug na die vurk om die roete te hervat. Naby die bopunt van die koppie waar die roete afplat, verander die plantegroei van bos terug na grasland (S25.472267 E30.835683).

Kyk rond vir koedoes, bosbokkies en duikers. Skaars 1 km ná Die Klip is hier nog ’n granietrots waaroor jy moet ry. ’n Ontsnappingsroete loop óm die rots, maar as jy Die Klip aangedurf het, is hierdie tweede rots ’n kleinigheid.

Draai kort ná die rots links en ry tot by die hoogste punt op die roete (S25.475600 E30.829783). Hier is ’n uitsig op die Kaapschehoopberge en die vrugbare Krokodilriviervallei. Nou is daar slegs 2 km oor voor jy terug is by Alkmaar se boorde.

Vat dit kalm, want hoewel daar nie noemenswaardige uitdagings voorlê nie, is daar hier en daar ’n verdwaalde klip wat ’n sagte allooiwielvelling kan merk.

Blyplekke en doendinge

By Alkmaar is oorgenoeg slaapplek. Hier is twee kothuise wat 4-6 gaste huisves. Elkeen het DStv en sy eie braaiplek.

Hier is ook drie tentekampe, elk met drie voltydse tente waarin vier mense elk kan slaap. Elke tent het sy eie toilet, wasbak en stort, maar jy deel die kombuisgeriewe met jou bure.

Hier is ook twee luukse huise, een met drie selfsorgkamers en die ander met twee. Met ons besoek was Wanda en Johann besig om nóg huisies te laat bou.

Naby die wooneenhede is ’n pragtige onthaalsaal op die oewer van ’n dam. Hier kan jy baber, kurper en baars vang (en teruggooi, ja).

Loer in by die Sudwalagrotte (20 km hiervandaan), die Bridal Veil-, Lone Creek- en Horseshoe-waterval (almal sowat 60 km), tientalle natuurreservate en natuurlik die Krugerwildtuin (70 km).

Wat jy moet weet
  • Maksimum getal voertuie Onbeperk.
  • Kry ek ’n kaart? Ja.
  • Sal my voertuig krap? Onwaarskynlik.
  • Moet ek ’n kompressor saamneem? Nee wat.
  • Kan ons langs die pad braai? Ja, maar slegs met gas.
  • Kan ek halfpad omdraai? Ja.
  • Is daar selfoonsein? Ja.

RONDOM DIE ROETE

Beste tyd om te gaan Januarie tot April.

Kan ek my gesin saamneem? Ja, beslis.

Net vir die dag of die naweek? Dagbesoekers is welkom, maar bly liewer ’n naweek.

Is daar ablusiegeriewe? Ja.

Aanwysings Uit Johannesburg neem jy die N12 in die rigting van Witbank, dan die N4 oos, Nelspruit toe. Alkmaar lê sowat 16 km vóór Nelspruit op die N4. Wees op die uitkyk vir die Alkmaar- Kwanyonilodge-padpredikant.

GPS S25.45007 E30.82536

Wat kos dit? R250 per voertuig (gratis vir gaste).

Kontak 083 305 2472 (Wanda Sippel) of 071 449 5782 (C.J. Lombard); alkmaarfarmstay.co.za; info@alkmaarfarmstay.co.za