1. Olive Grove, Beaufort-Wes

Olive Grove is ’n spoggerige plek. Dis vir mense wat daai plaasgevoel soek, maar nie sonder die geriefies van DStv, Wi-Fi en ’n restaurant wil klaarkom nie. Hier is twee verblyfopsies: Vir ’n gesin is die selfsorgchalets met slaapplek vir tot ses mense goed ingerig, met ’n uitsig oor die olyfboord en ’n private braaiplekkie agter die huis. Vir paartjies of mense wat net een nag wil oorbly, is hier en suite-dubbelkamers (met ’n stort).

Die plaasdam is sowat 10 minute se stap weg – volg die Ystervarkstaproete tot by die voëlskuiling op die damwal, of reël by ontvangs vir ’n kano as jy wil roei. Hier’s ook heelwat paaie om op jou bergfiets te verken, en op ’n plaastoer (R150 p.p.) sien jy – buiten die olyfbedrywighede – ook koedoe, springbok, blesbok en gemsbok.

Gaan sit teen sonsondergang op die houtbankie bo-op die kliprantjie anderkant die boord – bring ’n soetwyntjie en kyk hoe die vlaktes in die laaste lig verkleur. Daarna kan jy gaan aansit vir ’n driegang-aandete. Die eetkamer is stapafstand van jou slaapplek af en op ’n mooi aand kan julle buite op die stoep eet, met Reggie, die swart wolfhond, as geselskap. Die porsies is Karoo-ruim en daar’s altyd skaapvleis op die spyskaart. 

Waar?  21 km buite Beaufort-Wes, aan die N12.

GPS:  S32.50419 E22.56257 (afdraai)

Koste: 

Selfsorgchalets: vanaf R550 p.p.p.n., R880 vir 2 mense en R1 045 vir ’n gesin van 4.

Kamers: vanaf R440 p.p.p.n., R715 vir 2 en R165 p.n. ekstra as ’n spruit ook op ’n enkelbed in die kamer slaap.



2. Stuurmansfontein, Carnarvon

Hier staan nog enkele korbeelhuisies in die Karoo, maar min van hulle is in ’n leefbare toestand. Trekboere het donkiejare gelede dié veldhuisies gebou. Op Bethlehem, Piet en Charmaine Botha se plaas in die Carnarvon-distrik, kan jy egter oorbly in ’n gerestoureerde korbeelhuis, met net die veld en die nagdiertjies se geritsel vir geselskap.

Waar? Tussen Carnarvon en Williston,  Stuurmansfontein afdraai op die R63.

GPS: S31.06293 E21.83989 (Stuurmansfontein-afdraai – van hier af is dit nog 28 km tot by die korbeelhuis.)

Koste: R850 p.n. vir 2 mense, R1100 vir 4 en R1 400 vir 6.

Kontak: 053 382 6097 of 087 802 0819; stuurmansfontein@lantic.net 



3. Rooiheuwel, Leeu-Gamka

As jy die Nuweveldberg se klowe en kranse wil verken, kom Rooiheuwel toe. Die onderskeie plaas- en skaapwagterhuise het jare lank leeg gestaan totdat hulle opgeknap is. Hier’s ook ’n ou skuur wat in ’n slaapsaal vir groter groepe omskep is, sowel as ’n kampterrein.

Waar? Draai by Leeu-Gamka noord op die R353 na Fraserburg en hou vir 44 km aan. Draai dan regs op die grondpad na Beaufort-Wes en 13 km verderaan links. Rooiheuwel se werf is dan nog net 3,5 km se ry. 

GPS: S32.37468 E21.88761

Koste: 

Die Grootdroomhuis teen ’n rantjie het slaapplek vir 14. Verblyf in die drie plaashuise, Bloubos, Grootdrom en Boplaas kos R330 p.p.p.n. (R160 vir kinders tussen 7 en 14, gratis vir kinders jonger as 7).

Verblyf in die Cottage (1 dubbelbed) kos R280 p.p.p.n., en (R150 vir kinders tussen 7 en 14, gratis vir kinders jonger as 7).

Die Skaapwagtershuisie (2 enkelbeddens) met sy buitestort en lanterns kos R250 p.p.p.n. (R125 vir kinders tussen 7 en 14,  gratis vir kinders jonger as 7).

Lêplek in die skuur kos R180 p.p.p.n. en kamp R150 per staanplek, plus R30 p.p.p.n. (R20 vir kinders tussen 7 en 14, gratis vir kinders jonger as 7).

Om op die plaas te stap kos R180 p.p.p.d. en 4x4 kos R250 vir die eerste voertuig en roete, daarna R50 vir elke bykomende voertuig en roete.

Kontak: 023 4121 669; 083 3876 699 (Marge); rooiheuwel.com



4. Osfontein, Carnarvon

Hier in die Carnarvon-distrik staan nóg ’n gerestoureerde korbeelhuis net vir jou en wag. Die huis staan naby die eienaars, Stegmann en Natasha Lubbe se woonhuis, maar jy is eenkant genoeg om nie te voel jy het bure nie. Tog is hulle swembad net ’n klipgooi ver as jy wil induik, en verder is die veldpaadjies joune om te voet of per fiets (bring jou eie) te verken. Maar dis net so lekker om een van Natasha se lappieskombersie oor jou te trek en te lê en staar na die vakmanskap van die trekboere.

Wat nog? Jy kan doringhout vir braai koop (sowat R30 per sak), sowel as braaipakke (per gewig).

Waar?  Tussen Carnarvon en Loxton, aan die R63. 

GPS: S31.23500 E22.27201 (afdraai)

Koste: Die twee huise: R900 p.n. vir 2, R950 vir 3 en R1 500 vir 5. Die boomhuis: R1 050 p.n. (R800 vir 1 persoon).

Kontak: 072 310 7979; osfontein@webmail.co.za



5. Melton Wold, Victoria-Wes

Dís nou die ware Jakob! Melton Wold is ’n gevestigde gasteplaas wat al 80 jaar gaste ontvang. En min het intussen verander – by Melton Wold leef jy in ’n era van ’n speletjieskamer met ’n tafeltennisblad, ingeboude Musicorddraadlosies bo die beddens, ou houtmeubels en namiddagtee. Dit voel werklik asof die uurglas hier stadiger uitloop, met slegs een tyd wat van belang is – etenstyd. 

Waar? Tussen Victoria-Wes en Loxton, aan die R63.

GPS S31.42842 E22.75839

Koste: Vanaf R600p.p.p.n. (aandete en ontbyt ingesluit). Kamp kos R220 per staanplek p.p.n. vir 2 mense (R30 vir elke bykomende persoon, maksimum 6 per staanplek).

Kontak: 053 621 0906; meltonwold.co.za


*Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #144 (Oktober 2016) verskyn. Alle pryse is onlangs nagegaan. Laat weet egter gerus indien daar inligting is wat ons moet bywerk: digitaal@weg.co.za.