Foto's: Toast Coetzer en Alice Inggs.

Amani-natuurreservaat

Hierdie klein reservaat help om van die laaste bergwoud in die oostelike Usambaraberg te bewaar. Dié berge is ook habitat vir uiters skaars spesies voëls, skoenlappers, paddas en verkleurmannetjies.

Dis reeds ’n avontuur net om hier te kom, met die lang grondpad van die dorpie Muheza – dis 30 km tot by die park se ingang, en dan kronkel jy nog hoër die berge en dieper die reënwoud in  – dit reën tot 2 m hier elke jaar!

Stop egter eers by die oorgroeide botaniese tuin naby die hek, waar jy ’n warboel van bome van regoor die wêreld kan sien. Die Duitsers het die tuin in 1902 begin om te kyk wat hier in hulle nuwe kolonie sou kweek. Wanneer jy Amani Forest Camp (voorheen Emau Hill) bereik, is jy in mistige hoogtes, en die reuk van nat blare, varings en geil gras in jou neus. Rondom jou troon bome van 30 m hoog uit.

Dis ’n plek wat jy te voet verken, verkieslik saam met ’n gids. Iets wat jy móét doen, is die nagwandeling waarop jy verkleurmannetjies soek. Ons gids was Husein Mohamed wat die vermoë het om die natuur se kamoefleerkonings sonder moeite met ’n flits op te spoor. Ons het onder meer ’n paar enorme Usambara-reusedriehoringverkleurmannetjies gesien (foto links). Deur die dag het ons voëls gesoek: mooi kuifkopboskraaie het gereeld by ons kampplek verbygevlieg. Ons het ook Tanganjika-bergeekhorinkies en swart-en-wit colobusape gesien. 

Kontak

amaniforestcamp.com

Mkomazi- nasionale park

Wanneer ek ons dag se parktarief betaal en inteken, sien ek in die boek dat hier maar min besoekers kom. Gister was hier een kar, drie dae voor dit nog een. Dít beteken jy het iets wat jy selde in ’n Noord-Tanzaniese nasionale park ervaar: rus en vrede. Hier’s geen horde wildkykvoertuie van lodges wat op en af jaag op soek na leeus nie... want hier is nie leeus nie. Die park suig aan die agterspeen juis omdat dit nie die Groot Vyf huisves nie. Maar wie gee om? Mkomazi is ’n fynproewerpark vir diegene wat iets unieks wil sien.

Heel boaan ons lysie is die gerenuk, wat rofweg lyk soos ’n rooibok, maar met ’n veel langer nek. Mkomazi is blykbaar die beste plek om hierdie skugter bok te sien. Dan is daar die kleinkoedoe wat presies soos ons eie koedoe lyk, maar omtrent die helfte kleiner is!

Op ons dag lange rit deur die park sien ons ook wildehonde, eland, topi, Harvey se rooiduiker, Coke se hartebees en Bohor-rietbok. Ons stop by die Viteweni-uitkykpunt (foto) en tuur oor die vlaktes in die rigting van die Kenia-grens, skaars 15 km verder noord.

Hoewel die elegante gerenuk ons ontwyk, sien ons wel vir vyf sekondes ’n kleinkoedoebul grasieus oor die pad bons! Ons Oos-Afrika-voëllysie groei vinnig: oranjepenspapegaai, D’Arnaud se houtkapper, witpenskwêvoël, Von der Decken se neushoringvoël... Tanzanië se nasionale parke is duur, en om geld te spaar kamp ons eerder net buite die park in die Elephant Motel op die dorpie Same.

Arusha- nasionale park

Van die Mkomazi- nasionale park af ry ons noordwaarts na Moshi – gou kom die dynserige silhoeët van berg Kilimandjaro in sig, gedeeltelik verdoesel agter wolke. By Moshi volg ons die teerpad wes na Arusha, en draai ’n ent voor die dorp na die gelyknamige park, waaroor nog ’n berg troon, hierdie slag die Berg Meru (4 566 m), sigbaar in die agtergrond van die foto op hierdie blad.

Na die droë bosveld van Mkomazi is Arusha ’n tropiese fees vir die oog. Ons vertoef ’n voldag in die park, ry deur reënwoud, besoek die Ngurdoto-museum (’n paar koddige opgestopte goed), loer van die rand van die Ngurdotokrater af na waar wild wei (dit lyk soos tonele uit die paradys...) en sien duisende flaminke in die Groot-Momellameer.

Die afstande binne die park is nie groot nie, en daarom vat ons ons tyd. Ons talm by voëls soos die witborsjakkalsvoël, spoor die skugter Hartlaub se loerie op en verwonder ons aan die enorme ysterhoutbome in die woudgedeeltes van die park.

Ons slaap weer buite die park om geld te spaar. Van die Meru Mbega Lodge se uitkykdek af kan jy Kilimandjaro in die verte sien, en Meru hier agter jou skouer. As ek weer kom, belowe ek myself, klím ek berg Meru! 

Tarangire- nasionale park

Van Arusha af ry ons wes oor kaal vlaktes waar Maasai op een of ander manier hulle kuddes aan die lewe hou in die weke voordat die eerste reëns kom. Ons spoor kampplek op skaars 20 minute se ry van Tarangire se parkhek, by die nederige maar agtermekaar Wild Palm-kampplek.

Die Tarangire- nasionale park is ’n plek waar jy kan vashaak. Die twee dae wat ons gehad het om die park te sien was te min. Die baie kremetartbome laat jou by tye aan die Krugerwildtuin dink.

Ons diere- en voëllysies het by die uur gegroei: van Grant se gasel tot olifant, lui leeus tot dikgevrete jagluiperds, berghaan tot lepelaar, askleurige spreeu tot skaars geelkraagparkiet. Ons besoek was in die droë seisoen (Oktober), en diere het rondom die watergate en riviere gehou.

Ons soeke na skaars boksoorte soos die gerenuk en fraiingoorgemsbok (fringe-eared) was vrugteloos, maar die uitsig wat ons een middagete van die piekniekplek af oor die Silale-moeras gehad het, staan sterk in die geheue. ’n Trop olifante het die moeras – halflyf diep – ingevaar met die dorre Tanzaniese vlakte wat in die verte vibreer. Dít was wat ons hier in die noorde van Tanzanië kom soek het.

GPS

S3.68157 E35.94791

Manyarameer- nasionale park

Soos met Tarangire is die Manyarameer- nasionale park een van die kleiner parke waar toeriste gewoonlik aandoen op pad na Ngorongoro en Serengeti verder wes. Ons toerprogram het net een dag toegelaat vir Manyara, maar twee sou beter wees. Ten minste kry jy baie gedoen binne die Manyarameer- nasionale park binne 'n dag.

Jy is nou in deel van Afrika se Groot-Skeurvallei, en die geografie veroorsaak dat die streek verskeie besonderse mere het. (Ons was ook spyt dat ons nie ekstra dae gehad het om verder noord na die Natronmeer te ry nie.)

Die wildkykpad loop al teen die westelike oewer van die meer langs. Ons het gery tot by die uitklimplek by die warmwaterbron waar jy met ’n verhewe plankiespad kan uitstap oor die warmwaterbron en die meer. Groot getalle watervoëls soos groot- en kleinflaminke hou hier. Ons het elders ook onder meer witpelikane, Rüppel se spreeus, rooi-en-geel houtkappers, ’n kroonarend en ’n breëkoparend gesien.

Die Manyarameer- nasionale park is bekend vir sy leeus wat boomklim, maar ons het hulle nêrens gewaar nie, vergeet nog van in ’n boom! Olifante, dik-dikkies, sebras, buffels, rooibokke, bosbokke, bobbejane en blouape (ander ape as ons blouaap) het wel ons lysie gehaal.


Hierdie artikel is geneem uit ons argief. Alle inligting is onlangs nagegaan, maar feite en geite kon intussen verander het. Laat weet gerus as jy so iets raaksien - stuur 'n e-pos na digitaal@weg.co.za