Bewonder die sterreruim

Op die meeste Saterdae-aande (afhangend van die weer) kan jy verniet sterre kyk by die sterrewag op Dwarsrivier. In die berg met min ligbesoedeling is dit een van die beste plekke in die land daarvoor. Besoek www.cederbergobs.org.za vir meer inligting.



Besoek die rotsformasies

Die sandsteenformasies van die Sederberge is die streek se bekendste baken. Algeria se inligtingskantoor is die beste plek om uit te vind oor die verskillende dagroetes en om permitte in die hande te kry.




Koel af in rotspoele by Eselbank

In die somer kan dit bloedig warm raak in die Sederberge, veral bo-op die berg tussen Matjiesrivier en Wuppertal. Gelukkig is daar pragtige rotspoele net buite Eselbank waar jy ’n blaaskans kan vat.




Koop vellies in Wuppertal

Maak ’n draai by Wuppertal se bekende velskoenfabriek en sien hoe dié skoene nog op die tradisionele manier met die hand gemaak word. En koop sommer ’n paar rooi vellies a lá David Kramer-styl.





Vat ’n blaaskans by die Tankwa-padstal

Die 252km tussen Calvinia en Ceres maak die R355 die langste ononderbroke stuk pad in die land, daarom kan die rit lank en moeisaam raak. Die Tankwa-padstal is ’n instelling in hierdie geweste, so maak gerus ’n draai.


Kruis die Doringrivier

In die Biedouwvallei is die Doringrivier aan motorfiets- en 4x4-ryers bekend as ’n rivier wat gereeld oorstroom en wat ’n interessante kruising kan wees. Ry dit gerus, maar maak seker oor die watervlak voor jy dit probeer.