Foto's Jacques Marais

Kom ons kry eers een ding uit die pad: Jy hoef nie ’n ystermandeelnemer te wees om te kan fietsry nie. Die lekkerte van bergfietsry is juis dat enige 8-jarige of 80-jarige kan opsaal. Dit is goed vir jou hart, dis opwindend en daar’s hope plekke reg oor Suid-Afrika om te verken. Hier is 6 van die bestes.

1. OAK VALLEY-WYNLANDGOED

Grabouw, Wes-Kaap

Die opwindende roetes hier glip deur mooi landskappe aan die voet van die Groenlandberg – denne- en populierplantasies, eeue oue eikebome en groen grasvelde.

Afstande 14 km, 24 km en 32 km – of enige kombinasie hiervan vir ’n langer rit.

Ons keuse Vir ’n prettige uitstappie saam met die hele gesin, trap die Blou-roete (14 km) op ’n netjiese enkelspoor met oorklimtrappies en bruggies oor plaasheinings en strome. Meer ervare trappers kan die Rooi- (24 km) of Swart-roete (32 km) aandurf.

Kaarte en aanwysings Kry ’n kaart by die sentrum. Dit is ook op die webwerf. Die roetes is goed gemerk.

Moeilikheidsgraad Alle vlakke.

Toegang R50 per fietsryer – bel egter om te bevestig, hul pryse vir 2018 is nog nie bepaal nie.

Kontak 021 859 2510; oakvalleywines.com

2. DIE BIG RED BARN

Olifantsfontein, Gauteng

Hierdie is ’n veilige bergfietsbestemming naby Johannesburg met hope enkelspore deur terreine wat wissel van plantasies tot plase. Hier’s roetes vir die terloopse ryer wat lus het vir ’n laatmiddagtrap, maar ook vir die mededingende adrenalienvraat wat ’n tegniese uitdaging soek.

Afstande Hier is vyf roetes van tot 27 km.

Ons keuse Gewone ouens kan roetes tussen 4 en 16 km lank aanpak – dis met groen sirkels gemerk – die paadjie kronkel deur bloekomplantasies, landerye en grasvelde. Meer ywerige trappers kan die roetes trotseer wat met blou vierkante of swart diamante gemerk is.

Kaarte en aanwysings Kry ’n roetekaart op die webwerf of by die Big Red Barn-restaurant.

Moeilikheidsgraad Alle vlakke.

Toegang R50 per fietsryer. R30 vir kinders onder 12.

Kontak 078 343 6939; thebigredbarn.co.za

3. GIBA-RAVYN

Kloof, KwaZulu-Natal

Dié bergfietssentrum het heelwat roetes, almal met ’n puik uitsig oor die beboste vallei en heuwels.

Afstande Tot 40 km van die prettigste spesiaalgeboude roetes.

Ons keuse Kies uit 5 roetes waarvan die Pers-roete die maklik opsie is vir kinders en beginners. Die Blou-roete is die langste en is 17 km. Die meeste van die roetes het ’n paar oomblikke wat jou sal laat knyp, maar gelukkig is boomstompe duidelik met wit verf gemerk.

Kaarte en aanwysings Kry ’n kaart by ontvangs en op die webwerf. Die roetes is goed gemerk.

Moeilikheidsgraad Alle vlakke. Hier is ook ’n BMX-roete.

Toegang R65 per fietsryer.

Kontak 031 769 1419; gibagorge.co.za

4. MANKELE

Nelspruit, Mpumalanga

Mankele het plankiespaaie, houtbruggies, rivierkruisings, opdraandes wat jou longe laat brand, afdraandes wat jou remme laat huil, en vinnige, seepgladde enkelspore – dis behoorlik bergfietshemel in die Laeveld!

Afstande Roetes wissel van 1,5 km to 55 km.

Ons keuse Dis waar die meeste van Suid-Afrika se top-bergfietsmanne hulle kom slyp, maar hier’s steeds iets vir almal, ongeag jou vaardighede, fiksheidsvlak of ouderdom. Die maklike Blou-roete (5 km) – vinnige enkelspore, brûe en tweespoorpaadjies – is uitgelê vir beginners wat hulle vaardighede wil verbeter.
Al die roetes is duidelik gemerk met kleurkodes en alle nare hindernisse word aangedui, baie met ’n “chicken out”-ompad. Volgende keer, wanneer jou longe en bene goed geolie is, en jy nie meer oor jou handvatsels skiet as jy stop nie, mik jy vir die Pers-roete (55 km).

Kaarte en aanwysings Kry ’n kaart by ontvangs of op die webwerf.

Moeilikheidsgraad Alle vlakke.

Toegang R50 per fietsryer.

Kontak 078 801 0453; mankele.co.za    

5. KARKLOOF

Howick, KwaZulu-Natal


Karkloof is wraggies een van die beste bergfietsbestemmings op die ganse aardbol. Hier is puik enkelspore wat spesiaal uitgelê is vir ’n supertjoep-agtige rit op klewerige klei deur inheemse woude en bloekomplantasies.

Afstande Ses goedgemerkte roetes van 7 tot 37 km.

Ons keuse Die Bospad-roete (7km) is dooddollies vir beginners en kinders. Vir die regte Karkloof-ervaring, sit ’n paar uur opsy en pak die meer uitdagende Outback-roete van 30 km aan. Hardebaarde kan die nuwe SUPA20-roete probeer: Dit is 37 km lank.

Kaarte en aanwysings Kontak Karkloof vir inligting. 

Moeilikheidsgraad Alle vlakke.

Toegang R50 per fietsryer.

Kontak 082 219 2054 en 083 243 1780, kktrailschairman@gmail.com; karkloofmtbtrails.co.za

6. HARKERVILLE

Tussen Knysna en Plettenbergbaai, Wes-Kaap

Kom speel in die bekende woude van die Tuinroete*. Die hellings is nie te veeleisend nie, en hier’s hope roetekeuses – wat dit een van die beste bergfietsbestemmings in die land maak.

Afstande Verskeie opsies, van 11km tot 27 km.

Ons keuse Probeer die Geel-roete (13 km), ’n maklike trap meestal op grondpaaie. As jy en jou fiets mekaar goed ken, probeer die taaier Blou-roete (11 km) wat meestal op enkelspore is. Die Groen-roete (14 km) het ’n paar vet opdraandes, en die Rooi-roete* (22 km, net vir ervare bergfietsryers) is ’n kombinasie van die dié roetes en ’n stuk pad hoog bo teen die kuslyn. Die Graspad (12 km) is 'n roete wat by al die ander roetes aansluit. 

Kaarte en aanwysings Jy kry ’n kaart saam met jou permit. Die roete is met kleurkodes gemerk.

Moeilikheidsgraad Alle vlakke.

Toegang Kry jou dagpermit by die Garden of Eden-bosboukantoor (044 532 7793) of die streekskantoor by Thesen Island  (044 302 5600).  ’n Jaarlikse permit kos R645.

Kontak Knysna Cycle Works knysnacycles.co.za; sanparks.org

*Al die roetes is weer oop na die Knysna-brande wat in Junie 2017 hier gewoed het. Kry gedetailleerde aanwysings vir die nuwe roete by ontvangs.

Bonus! Nóg roetes

• Augrabies- nasionale park, Noord-Kaap
’n Heerlike roete vir die hele gesin op golwende grondpaaie, verby kameelperde wat galop en eindelose uitsigte oor die landskap rondom die Oranjerivier. Onthou, dis vieslik warm in die somer! * sanparks.org

• Swellendam, Wes-Kaap
Die Marloth-natuurreservaat aan die voet van die Langeberg het verskeie roetes met mooi uitsigte. *capenature.co.za/reserves/marloth-nature-reserve/

• Hogsback, Oos-Kaap
Klim op en trap deur woude al agter die feëtjies aan! * awaywiththefairies.co.za

• Kamberg, KwaZulu-Natal
Verken die Kambergvallei se roetes van die Glengarry-oord af. *glengarry.co.za

Vir meer inligting oor bergfietsroetes in Suid-Afrika, gaan na *mtbroutes.co.za.