Foto's: Sam Reinders

1. Tel driwwe in Meiringspoort

Spookdrif, Witperdedrif, Skelmkloofdrif, Wasgatdrif...Gaan wys Meiringspoort vir die kinders en laat hulle tel hoeveel keer julle oor die Grootrivier ry. (Terloops, dis ’n verstommende 25 keer –  .J. Langenhoven se woorde oor Meiringspoort is bepaald waar: “In elke drif is daar ’n draai en om elke draai is daar ’n drif.”)

Hierdie poort deur die Swartberg verbind De Rust met Klaarstroom en dateer uit 1858 toe die boere ’n plan moes maak om wol uit die Karoo by die hawe in Mosselbaai te kry. Thomas Bain het die pad ná erge vloedskade in 1885 verbeter.

Wees op die uitkyk vir die klip waarop C.J. Langenhoven in 1929 die naam van sy verbeeldingsolifant, Herrie, uitgekerf het. En trek tussen Uitspan- en Ontploffingsdrif af by die waterval. Dis 60 m hoog, die poel daaronder 9 m diep, en die pret wat ’n mens op ’n warm dag hier kan hê, oneindig.

Die Meiringspoort-waterval kry slegs in die middel van die dag son. Beplan jou besoektyd só dat ’n duik darem nie te koud is nie.

Op pad terug kan julle by een van De Rust se koffiewinkels of restaurantjies in Schoemanstraat aftrek. Hier is ook heelwat kunstenaars op die dorp – ’n paar het hulle eie galery in dié straat.

Waar? Noord van De Rust, ongeveer 35 km oos van Oudtshoorn met die N12 langs.


2. Sit ’n slangserp om jou nek

Volg die R328 (die Kangopad) wat van Baron van Rheedestraat se punt af noord uit Oudtshoorn streep en trek by dié drie plekke af:

• Die Cango Wildlife Ranch lê op die soom van die dorp en hier leef en beef ’n hele ark vol diere. Kom kyk hoe lyk ’n vlermuis so groot soos jou foxterriër by die huis, soek blouduikers in die ruigtes, kielie ’n jagluiperdwelpie, en staan vir ’n foto met ’n slang om jou nek.

Waar? 500 m verby die laaste woonhuis in Baron van Rheedestraat, aan die linkerkant.

Kontak: www.cango.co.za; 044 272 5593

• ’n Mens kan nie in die Klein-Karoo kuier en nié ’n volstruisplaas besoek nie. Reguitaan met die pad wag die Cango Ostrich Show Farm se langnekke. Kom voer die kuikens, en staan op ’n eier om te toets hoe sterk die dop is... 

Waar? 14 km anderkant die Cango Wildlife Ranch.

Kontak www.cangoostrich.co.za; 044 272 4623

• En dan is daar natuurlik die Kangogrotte. Kruip deur noutes, vergaap jou aan die Orrelpype, streel oor die klam spelonkmure en groet jou innerlike grotman. Dís waarskynlik die een wat die kinders die langste gaan bybly. Maak seker om jou plek te bespreek tydens vakansietye.

Waar? 15 km anderkant die Cango Ostrich Show Farm.

Kontak: www.cango-caves.co.za; 044 272 7410



3. Doen die meerkatloop

In Uganda kan jy saam met berggorillas stap, in Namibië saam met jagluiperds, en op Oudtshoorn... is dit meerkatte! Op Five Shy Meerkats se toer kry jy ’n intieme kykie na die wêreld van hierdie kostelike diertjies. Meerkatkyk is ’n vroegoggendding. Jy moet voor sonop al by hulle gat sit en wag. Sodra die son opkom, is dit asof ’n wekker afgaan.

Een ná die ander verskyn ’n snoet by die gat se opening, en dan word daar in die son gesit of gestaan en bak. Devey Glinister of een van sy medegidse vertel jou interessante dinge oor meerkatte. Dié groepie meerkatte is wild, maar is lankal gewoond aan mense. Sodra hulle pens warm is, begin hulle kos soek – en dan moet jy soms draf om by te bly...

Waar? 9 km wes van Oudtshoorn waar die R328 afdraai van die R62.

Kontak 084 772 9678; fiveshymeerkats.co.za


4. Toets jou senuwees

Meiringspoort is die maklike pad deur die Swartberg. Sy wilder boetie is die Swartbergpas, en dis waar ’n mooi uitsig en ’n tuimeltreinbaan ontmoet – in stadige aksie.

Al is die pas skaars 25 km lank, neem dit jou – danksy die norring knap draaie en afdraandes waarteen jy moet ankers gooi – maklik ’n uur en ’n half om van Oudtshoorn se kant tot op Prins Albert te ry.

Die pad na die pas draai net voor die Kangogrotte na links weg en loop verby ’n eetplek genaamd Kobus se Gat, tot waar die teerpad ’n grondpad word – nou’s jy op die pas.

Vat dit stadig en rek jou nek om die draaie – ’n mens kan nie mooi sien of daar verkeer aankom nie (veral op Skelmdraai!). Teen die tyd dat jy by Die Top kom, is jou voorarms al seer geklou aan die stuurwiel, maar nou kan jy aftrek en die uitsig oor die Klein- én Groot-Karoo geniet.

En dán begin die sports: Aan die Prins Albert-kant gooi die pas kronkels soos ’n slang met stuipe, en plek-plek raak ’n ou se keel droog wanneer jy ’n aankomende kar op die smal grondpad moet verbygaan.

Die berge raak om elke draai meer dramaties, en teen die tyd dat jy uiteindelik heel onder by ’n driffie genaamd Eerste Water kom, is jy só versot op die pas, jy wil dit sommer dadelik weer gaan ry!

Maar lawe eers daai krampende remvoet in die koue water en braai ’n worsie as jy wil. As daar nog tyd is, kan julle ook by die Fransie Pienaar-museum op Prins Albert inloer.

*LET WEL: Die Swartbergpas het in die verlede toegemaak toe die grondpad verspoel het. Die verkeer word ook soms gemonitor. Die Prince Albert-toerismekantoor maan besoekers om alle padtekens te gehoorsaam. Kontak hulle by princealbert.org.za


5. Skop stof op

Die Klein-Karoo is vol verrassings. Soos die poskaartmooi grondpad wat deur die Groenfonteinvallei tussen Oudtshoorn en Calitzdorp loop, al onder die Swartberg langs.

Jy’s skaars van die teerpad af, dan sien jy al die roesrooi sandsteenknoetse – die Redstone Hills – in die verte. Trek af, haal die koffiefles agter die sitplek uit en hou dop hoe die sonsopkoms sy gloed stadig oor die klippe skuif. Wees ook op die uitkyk vir die Boogrots.

Vat jou tyd op die Groenfonteinpad – hier’s mooi goed om te sien.

Jy ry deur ’n paar mooi plasies: Kruisrivier, Boesmanskop, Beeskraal... en oral is gerestoureerde plaashuisies wat as blyplek verhuur word, met hier en daar ’n baie mooi bouval.

Langs die Oude Poskantoor (op Saterdae van 10 vm.- 5 nm. Sondae van 10 vm. - 3 nm. oop vir koffie, koek en toebroodjies) draai jy regs na Peter Bayly Wines. Peter maak ’n uitmuntende reeks portwyne. (Kontak hulle by www.peterbayly.co.za)

Ná die Baylys se plek ry jy verby die Kraaldoring-opstal. Van Kraaldoring af het jy nog sowat 10 km se lekker slingerpad deur die mooi Groenfonteinvallei oor, verby die Nelsdam tot waar die pad by Calitzdorp se hoofstraat aansluit. Daarsy, tyd vir bene rek. Gelukkig is die Red Coffee Pot met sy lekker kookkos sommer net hier op die hoek!

Beste tyd? Vroegoggend of laatmiddag.

Waar? Volg die R62 wes en draai sowat 34 km buite Oudtshoorn regs op die Kruisrivierpad.


6. Maak keel nat

In die Groenfonteinvallei vertroetel die Karooson die druiwekorrels tot hulle reg is vir port en muskadel.

Noudat jy op Calitzdorp is, kan jy net sowel die “Porthoofstad” se bekende kelders aandoen:

• Boplaas

Waar? Draai uit die hoofstraat suid in Queenstraat en dan regs in Saaymanstraat.

Kontak 044 213 3326; boplaas.co.za 

• De Krans

Waar? Sowat 500 m oos van Calitzdorp – die afdraai na regs word op die R62 aangedui.

Kontak 044 213 3314; dekrans.co.za

• By die Calitzdorp-kelder

Waar? Draai uit die hoofstraat suid in Andries Pretoriusstraat en hou reguitaan – die kelder is aan die regterkant.

Kontak 044 213 3301; calitzdorpwine.co.za


*Hierdie artikel is geneem uit ons argief. Alle inligting is onlangs nagegaan, maar feite en geite kon intussen verander het. Laat weet gerus as jy so iets raaksien - stuur 'n e-pos na digitaal@weg.co.za