Suider-Afrika het geen tekort aan tamaai duine nie. Klim tot bo en kyk rustig hoe die son sak of ry met ’n sandplank tot onder by dié ses duine.


1. Sossusvlei, Sesriem, Namibië


Foto: François Haasbroek


Sossusvlei is bekend vir sy donkeroranje duine en die Big Daddy (325 m) op die Dooievleipan in die Namib-Naukluft- nasionale park is slegs 50 m laer as Duin 7 naby Walvisbaai, die hoogste duin in die wêreld. 
As jou milt saamspeel, kan jy dié duin uitklim, maar Duin 45 is ’n veel makliker opsie. Dis net 80 m hoog en slegs 45 km van Sesriem af. Die Sossusvlei-hek in die park se Sesriemkamp maak ’n uur voor sonop oop. As jy hier kamp en vroeg wikkel, kan jy op Duin 45 se kruin sit en die son sien opkom oor die Namibwoestyn.

Koste Toegangstarief: sowat R60 p.p. (SAOG-burgers), R10 per voertuig. Kamp in die Sesriemkamp kos sowat R180 p.p. (maksimum 8 mense).
Hoe kom ek daar? Dooievlei is 66 km van Sesriem af; buiten vir die laaste 4 km is die pad geteer. Vir dié stukkie het jy ’n 4x4 nodig of jy kan in een van die park se Land Cruisers klim – dit kos sowat R100 p.p. retoer. Jy het nie ’n 4x4 nodig om by Duin 45 uit te kom nie.
Kontak 021 422 3761; nwr.com.na

François Haasbroek



2. Witsand-natuurreservaat, Noord-Kaap


Foto: Sam Reinders



’n Paar kilometer wes van Upington is ’n kol spierwit duine in die andersins rooi Kalahari-landskap. In die droër maande tussen September en April kan jy op ’n warm dag kom luister hoe die duine brul. Volgens die slim mense het dit iets te make met wrywing en die lug tussen die korrels wat ontsnap...
Die duine is joune om te verken te voet of met ’n sandplank of ’n fiets. 

Koste Dagbesoekers: R50 p.p. Sandplank: R120 p.d. Fiets: R100 p.d. 
Hoe kom ek daar? Dis sowat 200 km wes van Upington via die N14 (Olifantshoek) of die N10 (Groblershoop).
Kontak 083 234 7573; witsandkalahari.co.za

Jon Minster



3. Blesbergduin, Bettysbaai, Wes-Kaap


Foto: Annemie Lombard


Blesbergduin (220 m) lê teen die berg nes jy Bettysbaai inry en dis net die plek om jou sandplankvaardighede op die proef te stel. Huur ’n sandplank (sowat R100 p.d.) by The Couch Potato-DVD-winkel (dis by die eerste petrolstasie op regterkant as jy van die Kaap af kom). Hier kry jy ’n nommer om vir toestemming te bel as jy op die private eiendom aangrensend tot die duin wil parkeer (sowat R10 p.p. en R40 per voertuig). Vryf jou plank blink met die politoer (dis ingesluit), kies of jy wil sit of staan en laat waai! 

Hoe kom ek daar? Draai van die R44 af see se kant toe in Porterstraat en regs in Delportstraat. Parkeer aan die voet van die duin – hier’s ’n voetpaadjie na die duin toe. GPS S34.36864 E18.86225.
Kontak 028 272 9048 (The Couch Potato-DVD-winkel)

Annemie Lombard



4. Sedgefield, Tuinroete, Suid-Kaap


Foto: JAc Kritzinger


Kenners glo die versteende duine by Sedgefield – wat tot 204 m hoog is – is meer as twee miljoen jaar oud! As die wind die duine reg tref, maak die duine ’n spookagtige brulgeluid wat al menige niksvermoedende stapper se bloed laat stol het.
Die okerkleure van die duine sorg vir mooi foto’s. Kom vroegoggend, want in die middae is die duine meestal in die skaduwee. Maak net seker van die gety, anders slaap jy dalk vannag onder ’n duin. 

Hoe kom ek daar? Hier’s twee plekke waar jy na die duine kan kyk, by Myoli-strand (dis die hoofstrand aan die einde van Galjoenweg) of by Gericke se Punt, wes van die dorp – draai van die N2 af by die Swartvlei Beach-bordjie.
Kontak Toerismekantoor 044 343 2658


Athane Scholtz



5. Alexandria-duineveld, Woody Cape, Oos-Kaap


Foto: Carlie Noval


Daar is meer as 1 800 duine in die Alexandria-duineveld in die Addo-olifant- nasionale park en dis een van die grootste bewegende duinevelde op aarde. Jy kan dié “woestyn” op twee maniere beleef: Stap van die Woody Cape Backpackers af (dis net sowat 500 m) of doen die twee dae lange Alexandria-staproete (32 km) waar jy op dag 2 vir 4 km deur die duine stap.

Koste Dagbesoekers by die Woody Cape Backpackers: R30 (halfprys vir kinders). Die Alexandria-staproete: R150 p.p.p.n.
Hoe kom ek daar? Die Woody Cape Backpackers is sowat 14 km suid van Alexandria. Dis die naaste wat jy met ’n voertuig aan die duineveld kan kom.
Kontak Woody Cape Backpackers: 086 111 4646; woodycape.co.za; Addo-olifant- nasionale park: 041 468 0916; sanparks.org.za

Erns Grundling



6. iSimangaliso-vleilandpark, St. Lucia, KwaZulu-Natal


Foto: Andrew King


Groot dele van die iSimangaliso-vleilandpark se kuslyn van sowat 220 km bestaan uit ’n duinemuur. Dié duine is meestal oortrek met tropiese plantegroei. Trouens, dis van die hoogste kusduine met plante op die planeet, met ’n gemiddelde hoogte van 170 m! Hier is verskeie kolle waar jy jou kan vergaap aan die duine, soos by Kaap Vidal- en Maphelane-strand. Die hoogste duin is reg agter die Maphelane-ruskamp (183 m).

Koste Dagbesoekers betaal tussen R24 en R43 p.p., afhangende watter deel julle besoek.
Hoe kom ek daar? Die Maphelane-ruskamp is aan die suidelike oewer van die Umfoloziriviermond en Kaap Vidal sowat 30 km noord van St. Lucia.
Kontak 035 590 1633; isimangaliso.com

Esma Marnewick