Suid-Afrika is geseën met honderde wye uitsigte oor vlaktes, berge, riviere en die see. Hier is ses plekke waar selfs die Duracell-hasie rustig sal raak – en wat op jou móétsien-lysie hoort.


1. Amfiteater, Drakensberg


Ja, die Amfiteater pryk op honderde poskaarte en koffietafelboeke, maar die eintlike eerste prys is om self bo-op dié platorand te staan en af te kyk.

Kan ’n gewone ou doer bo uitkom, wonder jy seker. Ja, daar is ’n netjiese paadjie van die parkeerterrein aan die voet van die Sentinelberg af – selfs ’n hupse ouma kan dit doen. Daar is wel een uitdaging: Aan die einde klim jy met twee kettinglere (onderskeidelik 20 m en 40 m lank) tot bo. Maar dis makliker as wat dit klink – mits jy nie afkyk nie.

As jy bo kom, stap jy nog omtrent 2 km tot by die rand van een van die mees angswekkende afgronde in die land! 

Amfiteater, Drakensberg. Foto: Shaen Adey



2. Vallei van Verlatenheid, Kamdeboo


Die Kamdeboo- nasionale park buite Graaff-Reinet het ’n fantastiese uitkykpunt wat jaarliks tienduisende mense lok. Tog word die Vallei van Verlatenheid onderspeel – dit kry nie naastenby soveel lugtyd as Tafelberg of die Amfiteater nie.


Ek het een oggend, eintlik op pad na ’n ander dorp, half terloops ingedraai by die park, die 9 km-teerpad na die parkeerterrein gery en toe die sowat 300 m tot by die uitkykpunt gestap. Met geen ander mens in sig nie, het dié vallei sy naam ten volle gestand gedoen.


Vallei van Verlatenheid. Foto: Louis Botha



3. Crook’s corner, Krugerwildtuin 


As jy by Crook’s Corner beland, het jy tot in een van Suid-Afrika se verste uithoeke gery. Welgedaan. Dis dalk nie die mooiste uitsig ooit nie, maar ongewoon is dit beslis. 


Hierdie hoekie waar die landsgrense van Suid-Afrika, Zimbabwe en Mosambiek bymekaar kom, kry sy naam van al die skelms wat al hier kom skuil het – dit was byvoorbeeld maklik om gou Mosambiek toe te glip as dinge te warm raak in Suid-Afrika. Wildstropers, wapensmokkelaars en selfs legendariese olifantjagters soos Cecil “Bvekenya” Barnard (rondom 1920) het al in dié geweste kom wegkruip.


Crook's Corner. Foto: Toasat Coetzer
Crook's Corner. Foto: Toast Coetzer



4. Drie Rondawels, Graskop


Het jy al ooit by God’s Window gestaan en wonder hoekom al die toerbusse hier stop? Kom kyk dié massas mense na die dynserigheid of na die bosbouplantasies doer ver, mikroskopies klein, doer onder in die Laeveld?


Die Panoramaroete noord van Graskop is geseën met ’n hand vol uitsonderlike uitkykpunte: oor die Pinnacle, by Wonder View, Bourke’s Luck se kolkgate, Lisbon- en Berlynwaterval. Maar die een wat nooit teleurstel nie, is Drie Rondawels – God’s Window kan maar gaan slaap!


Drie Rondawels. Foto: Mark Dumbleton



5. Kosibaai, Maputaland



Vir die deursnee-toeris is Kosibaai nogal ’n uitdagende bestemming,want die mooiste dele hier is óf vir ouens met ’n 4x4 wat weet waar om te ry óf ouens met ’n dik rol note wat net die vinger hoef te klap en dinge gebeur. Maar gelukkig is die uitsig oor die Kosimere – en veral die strandmeer die naaste aan die see waar baie van die visfuike gebou is – binne min of meer almal se bereik.


Die pad na die parkingang (dis deesdae deel van die iSimangalisovleilandpark) is rybaar vir enige voertuig wat hoog bo die grond staan. Verby die hek is dit egter dik vassitsand, maar as jy nie ’n 4x4 het nie, saal gerus af by die Amangwane-kamp, net duskant die parkhek. Van Amangwane af kan jy sommer stap – dis minder as 1 km na die uitkykpunt toe. Sorg dat jy daar is teen sonopkoms, want dis die eerste strale wat die Republiek tref!


Kosibaai. Foto: Toast Coetzer




6. Knersvlakte, Noord-Kaap 


Steek ’n grens oor Die Vanrhynspas begin onder op die uitgestrekte Knersvlakte in die Wes-Kaap en eindig een hengse haarnaalddraai later bo-op die Bokkeveldplato – in die Noord-Kaap.

Terwyl jy opry, trek die wye roesbruin vlakte doer onder kort-kort jou aandag af. Daar is verskeie teorieë oor waar die Knersvlakte se naam vandaan kom. Sommige sê dis oor die geluid wat die ossewaens destyds oor die kwartsklippers gemaak het; ander beweer dis oor die reisigers so op hulle tande gekners het van die dors.

’n Derde – waarskynlik meer geloofwaardige – verduideliking is dat ’n Griekwa-leier met die naam “Die Kneg van God” gereeld hier gereis het, en daarom word dit “Die Knegsvlakte” genoem. 

Hoe ook al, as dié horingdroë landskap agter of voor jou uitgestrek lê, weet jy jou vakansie het pas begin.


Knersvlakte. Foto: Ruvan Boshoff



Dié artikel het oorspronklik in Weg se Junie 2012-uitgawe verskyn.