1. Sparksbaai-dagkamp, Kogelbaai

Kogelbaai. Foto: Sam Reinders

Clarence-rylaan, die pad tussen Gordonsbaai en Rooi-Els, is een van die mooiste paaie in Suid-Afrika en Kogelbaai is een van die beste strande langs die pad. As jy by Kogelbaai wil braai, moet jy ongelukkig in die oord kamp. 

Maar hier’s Plan B: Dagbesoekers kan gratis op die buurstrande – Sparksbaai en Klippiesbaai – langs die kampterrein vuurmaak. Die toiletgeriewe is skaflik en drankgebruik is streng verbode. Hoewel die blougroen see aanloklik lyk, moet jy liefs net gaan swem as die menseredders aan diens is. Die seestrome is sterk en dit word vinnig diep. Swem eerder in die groot getypoel met sy klipvissies.

Hoekom juis dié braaiplek? Moenie ry die oomblik as almal versadig en die piekniekgoed terug in die motor gelaai is nie; span eers uit op die gras en kyk hoe die son in die see wegsak. 

Prys: Gratis by Sparksbaai en Klippiesbaai. 

Hoe kom ek daar? Dis sowat 15 km suid van Gordonsbaai aan Clarens-rylaan.

GPS S34.25045 E18.85602

Kontak: 084 413 4093 ; www.capetown.gov.za

Cyril Klopper

2. Oudekraal, Tafelberg- nasionale park

Oudekraal. Foto: Sam Reinders

By die Twaalf Apostels-hotel op die kuspad anderkant Kampsbaai betaal ouens honderde rande vir ’n uitsig oor die Atlantiese Oseaan terwyl hulle aan ’n piepklein stukkie steak met een of ander ontwerpersousie knibbel. By Oudekraal, skaars ’n kilometer verder, kry jy presiese dieselfde uitsig – vir net R50.

Hoekom juis dié braaiplek? Die strandjie lyk nes Clifton, maar sonder die ouens in die goue Speedo’s, bostuklose toeriste en ’n ooraanbod van modelle (’n mens wil mos nie heeldag selfbewus voel oor jou boepie nie).

Die braaiplekke is naby die water met ’n mooi uitsig reg rondom jou. Agter troon die Gewelberg uit, voor jou blink die Atlantiese Oseaan, en in jou hand is ’n perfek gebraaide hoenderboudjie. Salig. Dinge raak bedrywig oor naweke en vakansiedae; kom dus vroeg vir ’n goeie kol – en hou liewer verby as jy ’n romantiese braai vir twee beplan. 

Let wel: Dié braaiplek is nie rolstoel-vriendelik nie.

Koste: R50 p.p. (R25 vir kinders jonger as 12). Gratis met ’n Wild Card. 

Hoe kom ek daar? Dis min of meer halfpad tussen Llandudno en Kampsbaai, op die Victoria-kuspad (die M6).

GPS S33.98804 E18.34998

Kontak:  www.sanparks.org/parks/table_mountain

3. Krismiskamp, Paarlberg

Krismiskamp. Foto: Francois Haasbroek

Hierdie braaiplek is in die Paarlberg-natuurreservaat tussen fynbos, groot ou olienhoutbome en ronde granietrotse. Die energiekes kan gaan stap, maar as jy eers jou sit gekry het in die skadu van ’n olien, sal jy waarskynlik nie wil opstaan nie.

Op een van die groot rotse is ’n Kersklok en ’n ry name geverf, ’n aandenking van ’n paar families wat in die vroeë 20ste eeu hulle Kersvakansies hier deurgebring het.

Hoekom juis dié braaiplek? Dis afgesonderd – hier is net vyf braaiplekke – dit alles sorg dat dit redelik privaat bly. Die kanse dat iemand ’n kattebakpartytjie langs jou gaan hou, is feitlik nul (musiek word glad nie toegelaat in die natuurreservaat nie). As die son nog skyn nadat die kole geblus is, moenie met dieselfde pad terugry Paarl toe nie. Krismiskamp is op ’n sirkelroete – hou aan met die pad en ry verby mooi uitsigte oor die Boland, Skiereiland en Swartland.

Daar is slegs een eko-toilet by dié braaiplek. Indien julle ’n groter groep is, maak dan gebruik van die ander twee dagkampe, naamlik Meulwater of Pienaarskamp, waar daar geboude toilet geriewe is.  

Koste Naweke en openbare vakansiedae: R17 p.p. en R52 per motor; weeksdae gratis. 

Oop: Somer: 7 nm.-7 nm. (1 Oktober-31 Maart); Winter: 7 nm.-6 nm.  (1 April-30 September). 

Kontak: 021 807 4500 / 6231 (Drakenstein-munisipaliteit), stuur ’n epos na louiser@drakenstein.gov.za of besoek die webwerf by www.drakenstein.gov.za vir meer inligting

Hoe om daar te kom: Draai uit die Paarl se Hoofstraat berg-op in Jan Phillips-bergpad.

GPS S33.74864 E18.92930

Kay-Ann van Rooyen

4. Eerste Steen, Melkbosstrand

Eerste Steen. Foto: Sam Reinders
Die stuk kuslyn van die Milnerton-vuurtoring af verby die Seli-1- skeepswrak tot by Melkbosstrand is die arm man se Kampsbaai. Hier kan jy kaalvoet winkels toe gaan en jou lyf bietjie son gee sonder om skaam te kry. En by Eerste Steen kan jy téén die see braai.

Hoekom juis dié braaiplek? Jy kry jou eerste voorsmaak van die Weskus. Eerste Steen is allermins fênsie, maar wat is nou lekkerder as om op ’n lappie gras ’n stukkie wors met die hand te eet terwyl jy kyk hoe branders voor jou klots en seemeeue in die wind hang – al moet ’n mens heeltyd met een hand vir Ta wegja. 
Hier is speelplek vir die kinders en ’n ablusieblok as die nood druk. Geen alkohol of troeteldiere word toegelaat nie.

Koste: R15 p.p. vir volwassenes (kinders, student en pensioentrekkers betaal slegs R8) en R23 per voertuig.

Hoe kom ek daar? Dis op die M14 tussen Bloubergstrand en Melkbosstrand.

GPS S33.77748 E18.44933 

Kontak: 021 444 0454; www.bca.org.za

Sven Hugo

5. Preekstoel, Weskus- nasionale park

Preekstoel. Foto: Sam Reinders

Wees gewaarsku: Jy gaan sukkel om jou braaibroodjie op te eet, want jou mond gaan die heeltyd oophang. Net soos al die uitkykpunte in dié deel van die park is die braaiplek by die Preekstoel iets besonders. Voor jou dobber huisbote en seiljagte in Kraalbaai – jy kan net sowel in die Seychelles wees.

Bring jou eie hout en braairooster saam! 

Nog ’n waarskuwing: Hou maar ’n ogie oor jou tjops, want ’n Kaapse tiptol, ’n inwonende bergpatrys en ’n oproerige bende seemeeue sal daarop toesak die oomblik as jy jou rug draai!

Hoekom juis dié braaiplek? As daar ’n mooier braaiplek in die Suidelike Halfrond is, dan wil ek my naam nie hê nie. Hier’s ook ’n klompie doendinge naby. Stap na die Preekstoelrots, laat die kinders Marco Polo speel in die kalm strandmeer, of ry seilplank totdat jou boarms begin pyn. Daarna stap jy weer op, kry die Blitz en siedaar!

Koste: R54 p.p. (R27 vir kinders jonger as 12). Dis duurder in die blommeseisoen (Augustus-September). Gratis met ’n Wild Card. 

Hoe kom ek daar? Die Weskus- nasionale park is ongeveer 100 km noord van Kaapstad. Die braaiplekke is bo Kraalbaai by die Preekstoel.

GPS: S33.148376 E18.031214

Kontak: 022 772 2144; www.sanparks.org


Sam Reinders