Die internet is vol idees. Hier’s 6 puik ervarings – jy kan nóú op ’n (virtuele) reis gaan. 

1. Suid-Afrika

Die Tuinroete, Krugerwildtuin, die Drakensberg – besoek dit sonder om ’n tree uit die huis te neem!

Drive South Africa het dié mooi webblad geskep waar jy ’n virtuele toer kan doen van Suid-Afrika se bekendste plekke – en ook minder bekende kolle. Dit kombineer Google Street Views-beeldmateriaal met foto’s, video’s en stories sodat jy voel asof jy self daar is.   

www.discoverafrica.com/southafrica360/

Soek ook hier deur hulle databasis van staproetes: Jy kan agter jou rekenaar sit en Tafelberg “klim”, of die Otterroete “stap”!

2. Tik jou bestemming in!

Valskermsweef in Rusland, duik met haaie, besoek die antieke stad Petra in Jordanië, kyk tulpe in Nederland… tik ’n bestemming in op www.airpano.com, en die kans is goed daar’s ’n 360°-video en foto’s daarvan! Probeer self – druk die pyltjies in die boonste linkerkant van dié videos om rond te kyk soos die video speel:

Wees gewaarsku, daar is báie bestemmings op die webwerf: Sit ’n paar ure opsy vir jou reis! 

3. Machu Picchu, Peru

Machu Picchu
Machu Picchu. Foto: Gerda Engelbrecht

Weg se Gerda Engelbrecht het reeds geskryf oor haar ervaring op die beroemde Inka-roete na Machu Picchu in Peru. Lees die reeks hier: Dag 1, Dag 2, Dag 3, Dag 4

Dit is op menige se moetdoenlysie. Jy hoef egter nie self die tawwe staproete aan te pak om die eeue-oue ruïnes te sien nie. Kyk net hier!

www.youvisit.com/tour/machupicchu

4. Besoek die Amasone

Hier’s iets wat jy dalk nooit self gaan doen nie: Kuier in die Amasone! Dié virtuele toer van die Amasone deur Conservation International neem jou diep binne die reënwoud. Die gids Kamanja Panashekung en die akteur Lee Pace praat oor hoe belangrik dit is om die reënwoud te beskerm – jy kan weer eens die pyltjies in die boonste linkerhoek van die video beweeg om rond te kyk. 

5. Bekyk Amerika se nasionale parke

Parke toe... in Amerika! Dié webtuiste neem jou op ’n gratis virtuele toer van vyf Amerikaanse nasionale parke: Kenai Fjords- nasionale park in Alaska, Carlsbad Caverns-nasionale park in Nieu- Mexico, Hawaii Volcanoes- nasionale park, Bryce Canyon-nasionale park in Utah and Dry Tortugas- nasionale park in Florida. 

Elke toer word deur ’n gids gelei: artsandculture.withgoogle.com/en-us/national-parks-service/parks 

6. Kyk ’n bietjie kuns

Jy kan virtueel kuns kyk in die Nasionale Kunsgalery in Londen – dubbelklik op die vloer in die 360°-beeld om rond te ‘stap’. Verdiep jou in Renaissance-meesterwerke uit onder meer Italië, Nederland en Duitsland. 

Kyk ook hier na kuns uit die Van Gogh-museum in Amsterdam.

’n Paar uitstallings in die Louvre, Frankryk, is ook in virtuele formaat beskikbaar. Jy benodig Adobe Flash Player om dié toere te kyk.