Goed, jy’t reeds die Otter en Magoebaskloof agter die blad. Nou is dit tyd vir die ware Jakob – ’n wildernis-staproete. Geen hutte, geen toilette, geen gidse – net jy, die goed op jou rug en Moeder Natuur. Hier is ses van beste hardebaardroetes in Suider-Afrika!


Klik op ’n roete se naam om die volle artikel op ons webtuiste te lees.


1. Drakensbergse platorand, Vrystaat en KwaZulu-Natal


Die Drakensbergse platorand. Foto: Dawie Verwey


Op die Vis stap jy die eerste paar dae in ’n diep keep in die aarde; op dié roete stap jy hoog bo in die wolke!

Die enigste rigtingwysers wat stappers hierbo het, is die rand van die platorand en bekende rotsformasies soos die Ifidi-bergkaap, Inner Mweni-naald en Oostelike bergkaap. Verder moet ’n mens maar staatmaak op die Geomap-kaarte wat jy by KZN Wildlife se kantoor doer onder gekoop het. 

Hier is grotte waarin ’n mens kan oornag, maar diegene wat eerste opdaag, mag slaap. Dus moet jy maar soos ’n skilpad jou huisie op jou rug dra.

Ná ’n paar dae van vroeg opstaan, tent afslaan, uit strome drink, en wye, wye grasvlaktes voel ’n mens lus om net aan te hou stap – sommer al die pad tot in Lesotho.

– Esma Marnewick   (Klik hier om verder te lees)



2. Namib-Naukluft, Namibië


Namib-Naukluft. Foto: Dawie Verwey


Op die Naukluftroete stap jy oor omtrent elke liewe berg in die gelyknamige bergreeks (in die Namib-Naukluft- nasionale park). Dis woes, maar tussen die klim het jy myle lange uitsigte oor die droë woestynlandskap.

Nou en dan beland jy in ’n kloof met skaduwee, en, as jy gelukkig is, ’n stroompie water. Van die klowe is só steil dat jy jou met kettings moet optrek. Jou bene is lam en jou kop duisel, maar dis opwindend!

Saans slaap jy in ’n skuiling (dis net ’n dak met heuphoogte mure) met ’n vuurmaakplek, long drop en water (wat jy meestal moet pomp).

As jy die roete klaar gestap het, sien jy kans vir enigiets – behalwe om wéér die Naukluft te stap.

Sonja Hofmann   (Klik hier om verder te lees)



3. Sederberg, Wes-Kaap


Die Wolfbergboog is sowat agt uur se stap van die Sanddrif-gasteplaas af. Foto: Shaen Adey


Die Sederberg is besaai met rotsformasies en voetpaadjies, en jy kan maklik ’n roete uitwerk wat al die bekendes insluit.

Die hardebaard-ouens kan elke aand in die veld slaap, maar as jy nie daarvoor kans sien nie, maar ook nie lus is om jou tent saam te sleep nie, kan jy jou roete só beplan dat jy in ’n grot of ’n skuiling oornag – dis basies ’n kamertjie (en dis al; geen elektrisiteit of ablusies nie). Dis darem gewoonlik langs ’n stroompie.

Ons het oor vyf dae ’n sirkelroete gestap wat begin op die plaas Driehoek, sowat 20 km van die Algeria-kampplek af. Die eerste aand het ons tente opgeslaan in ’n woudjie aan die onderpunt van die Gabrielspas. Hiervandaan het ons dagstappe gedoen na die Wolfbergboog en Wolfbergskeure. Ons volgende slaapplek was die Welbedachtgrot. Die plat Tafelberg (1 968 m) is net om die draai, en hier kry jy ongelooflike uitsigte. Op die derde dag het ons gestap na die Sneeuberghut, en van daar af die Maltese Kruis verken en die Sneeubergpiek (2 026 m) uitgeklim.

Sonja Hofmann   (Klik hier om verder te lees)



4. Wolkberg-wildernisgebied, Limpopo


Wolkberg-wildernisgebied. Foto: Ewald Graefe


Die Wolkberg is die wilde broer van Magoebaskloof. Jy weet, die een wat nooit skool klaargemaak het nie... Hier’s enkele tweespoorpaadjies in die reservaat, maar die beste manier om die berge, klowe en watervalle te ontdek, bly maar met dapper en stapper.

Die paadjies word nie juis in stand gehou nie en jy soek-soek maar na ander stappers se kliphopies. Maar sjoe, die uitsigte, swempoele en riviere maak elke amperse verdwaal die moeite werd.

’n Goeie kaart is onontbeerlik, maar hulle is ongelukkig so skaars soos hoendertande. Ons het ’n kaart (1:50 000) van die omgewing by die Staatsdrukkery (2430AA Serala) gekry – dit dui die kontoere en tweespoorpaaie aan. ’n Mens kry wel ’n klein, handgetekende kaart by kantoor wat die “paadjies” aandui, verder maak jy maar staat op die Voortrekker in jou groep.

Jy stap onder meer tot by die Klipdraairivier en langs die Mohlapitse- en Shobwerivier. Jy kan enige plek slaap, maar in die ruie bosse is dit die maklikste om by die plekke te slaap waar ander stappers voorheen nes geskop het.

Hier is ook ’n klein kampterrein by die ingang met spoeltoilette en ’n donkie vir warm water – dis nou as jy eerder net dagstappe wil doen.

Sonja Hofman   (Klik hier om verder te lees)



5. Malolotja-natuurreservaat, Swaziland


Malolotja-natuurreservaat. Foto: Toast Coetzer


Kyk, ek het al in ’n paar bergpoele geswem, en kan met vrymoedigheid sê die heel beste een in die Suidelike Halfrond is in die Malolotja-natuurreservaat.

Dié Lower Potholes-poel by die Lower Mahulungwa-kampkol is omtrent 50 m in deursnee, en as jy langs die waterval opklim, is daar nóg ’n mooi poel. Dit lyk kompleet nes ’n plek waar seerowers ’n skat sou kom wegsteek.

Die Lower Mahulunga-kampkol is een van 17 in die reservaat – die meeste van hulle is langs ’n stroompie. Dis eintlik net ’n ooptetjie met genoeg plek vir agt stappers. (’n Ander lekker poel is by die Maphandakazi-kampkol.)

Hier’s ’n netwerk van paadjies, en stappers kan self besluit hoe ver en wyd hulle wil stap. Die paadjies kronkel tussen en oor die berge, maar elke geswoeg na bo word beloon met ’n mooi uitsig en ’n gevoel van genoegdoening.

Sonja Hofmann   (Klik hier om verder te lees)



6. Visriviercanyon, Namibië 


Visriviercanyon. Foto: Dawie Verwey


As jy voete het, móét jy eenvoudig “die Vis” aanpak. Die goeie nuus is dis meestal plat en hier is oorgenoeg water.

Die grootste uitdaging is om tot onder in die canyon te kom. Dis ’n hengse afdraande, en op die eerste dag stap jy oor groot ronde rotse wat jou enkels kan laat les opsê – en dis vrekwarm. Maar dae aaneen sien jy hoe die son die hoë kranse van die canyon in verskillende kleure verf, en jy is heeldag omring deur klip en water en sand.

Dié eenvoud maak jou kop oop, en jy skrik skoon vir die haardroërs en gelaaide 4x4’s as jy ná ses dae in die wildernis by Ai-Ais aankom. G’n wonder daar is mense wat dit al tien keer gestap het nie!

Esma Marnewick   (Klik hier om verder te lees)



Wenke vir die wildernis:


1. Moenie een van dié roetes – of enige ander wildernisroete – aanpak sonder dat iemand in julle groep al daar gestap het of goed vertroud is met wildernisroetes nie.

2. Neem ’n volledige noodhulptassie saam.

3. Sorg dat julle al die nodige kaarte en noodnommers het.

4. Sorg dat die reservaatbestuur weet hoe lank julle stap en wanneer julle terugkom sodat hulle weet as hulle na julle moet kom soek.