1. DLINZAWOUD, Eshowe

Gaboen? Nee, dis Zoeloeland

Dlinzawoud, Eshowe. Foto: Jon Minster

Nes daai Wonki Ware-bak op jou ma se eetkamertafel, is die Dlinzawoud die trots van Eshowe. Dié woud van 250 ha gooi sy skaduwee oor die woonbuurte van dié Zoeloelandse suikerdorp – trouens, in Natural Arch-straat ry jy deur die woud.

Dlinza is ’n instelling op die Zoeloelandse reisplan van elke ernstige voëlkyker, maar selfs al ken jy nie die verskil tussen ’n koekoek en ’n kuifkopvisvanger nie, is dit ’n besoek werd. 

Hoekom moet ek gaan? Vryf oor die growwe stam van eeue oue bome, kyk na die ligspel op die woudvloer, ruik die grond en luister na die getjirp van voëls en insekte – Dlinza beteken immers in Zoeloe “plek van meditasie”. 

Hier is al meer as 65 voëlspesies geïdentifiseer, waaronder die withalsbosduif en bloukuifloerie, en geduldige voëlkykers kan ook die Natallyster afmerk.

Of kry ’n aap se perspektief van die woud deur op die 150 m lange plankiespad te gaan stap. Aan die einde klim jy met ’n stel trappe tot by ’n 20 m hoë dek wat bo die blaredak uitkyk. Dalk sien jy ’n kroonarend wat hoog in die lug sweef.

Wat kan ek nog doen? Kyk mooi en jy sien dalk ook skoenlappers, paddas, verkleurmannetjies en die spore van duikers, bosbokke en rooikatte.

Stap die maklike Impumzi- of Unkonka-roete (sowat ’n halfuur elk) onderdeur groot ou melkhoute en wildepruime. Jy kan by elk van die roetes afdraai na Bishop’s Seat, ’n natuurlike oopte wat glo rondom 1890 die gunsteling-uitspanplek van die dorp se Anglikaanse biskop was – net die plekkie om jou kraakbeskuitjies en smeerkase uit te pak. 

Hoe kom ek daar? Eshowe is sowat 150 km noord van Durban (van die N2 af draai af op die R66). In Kangelastraat in Eshowe beduie ’n bordjie jou na die Dlinza-besoekersentrum toe. 

Kontak Dlinzawoud-besoekerssentrum 035 474 4029; webtuiste http://www.zulu.org.za/places-to-go.

Jon Minster

2. PLATBOS, Naby Gansbaai

Ver, ver suid was daar ’n woud...

Platbos, naby Gansbaai. Foto: Jon Minster

Platbos bekruip ’n mens omtrent. Die grondpad van Gansbaai na Baardskeerdersbos kronkel nog ewe rustig verby plate fynbos en plase, en dan, skielik, staan jy voor ’n massiewe ou witstinkhoutboom.

Dié inheemse woud in die Overberg laat plantkundiges behoorlik kopkrap, want dis ’n raaisel hoe 40 ha kuswoud meer as ’n duisend jaar oorleef het in ’n onbeskutte gebied met ’n betreklik lae reënval (sekere slim ouens reken dit het iets te doen met die mis wat in die somer vroegoggend die woud omvou). 

Die meeste groot bome in dié deel van die land is langs riviere of diep in klowe; dus is dit voorwaar besonders om só ’n span hier op die vlaktes van die Overberg te sien. 

Hoekom moet ek gaan? Platbos roem hom daarop dat hy Afrika se mees suidelike woud is. Stap die Forest-roete, ’n gemaklike sirkelroete van sowat ’n uur en ’n half  (as jy jou ouma saamvat). Stop by die Ou Melkhout, ’n knoetserige boom wat lyk asof dit in Lord of the Rings hoort, of vind innerlike vrede en harmonie in die Forest-doolhof.

Wat kan ek nog doen? As jy regtig suutjies loop, gewaar jy dalk ’n ystervark, rooikat, Kaapse grysbok of bosbokkie. Voëlkykers kan hulle ore spits vir die krrrek-krrrek-krrrek van die kardinaalspeg, en soms die whak-whak-whak van die Kaapse ooruil. 

Die meeste van die bome in die woud, soos witmelkhout en klipels, is by die kwekery te koop.

Hoe kom ek daar? Dis sowat 17 km van Stanford of 13 km van Gansbaai af. Jy draai af van die grondpad na die Grootbos- private natuurreservaat toe. Hulle gee deeglike aanwysings wanneer jy bespreek.

Kontak 082 411 0448; www.platbos.co.za

Jon Minster

3. MOUNT SHEBA-WOUD, Pelgrimsrus

Samango-ape in die mis

Mount Sheba-woud, Pelgrimsrus. Foto: Bruce Whittaker.

Hoekom moet ek gaan? Dit is een van die min plekke in die land waar jy die skaars samango-aap (Cercopithecus mitis labiatus) kan sien. Hulle natuurlike habitat van immergroen inheemse bergwoude beslaan minder as 1% van die landoppervlak. 

Wat kan ek nog doen? ’n Voëlkyker sal hier die ritteltits kry oor spesies soos die Knysnaloerie, kleinrooibandsuikerbekkie, bloukuifvlieëvanger, koekoekvalk en die skugter bosloerie en kaneelduifie. Oribi’s is hier ook, hoewel hulle meer hou op die grasvlakte voordat jy die woud self binnegaan. 

’n Paar wandelpaadjies – van maklik tot dié waarvoor jy ’n langer asem nodig het – deurkruis die woud. Daar is ’n paar watervalle langs sommige van die paadjies, hoewel dit hier hoog in die berge selde warm genoeg is om in te duik.

Hoe kom ek daar? Vat die R36 noord uit Lydenburg en draai sowat 30 km later regs op die R533, wat jou oor die Rowerspas na Pelgrimsrus sal neem. Die afdraai na Forever Resorts Mount Sheba is sowat 14 km verder, naby die bopunt van die pas. 

Kontak Forever Resorts Mount Sheba 013 768 1241; www.mount-sheba.co.za

Annemarie van der Walt

4. KOKERBOOMWOUD, Nieuwoudtville

Droog maar woud

Kokerboomwoud, Nieuwoudtville. Foto: Richard Adcock.

’n Mens kan nie eintlik wegraak in dié woud nie, en tegnies is ’n kokerboom ’n vetplant en nie ’n boom nie. Maar dit maak nie saak nie, want om honderde van dié bome – met hulle blinkvet stamme en takke wat probeer wolke vang – op ’n koppie

Hoekom moet ek gaan? Daar is min plekke in Suid-Afrika, trouens in die wêreld, waar jy só ’n klomp kokerbome bymekaar sal sien (soos Mr Bean is hulle meestal enkellopend), en dié woud roem hom daarop dat dit die grootste een in die Suidelike Halfrond is. Kom vroegoggend of laatmiddag en neem honderde foto’s van interessante silhoeëtte tussen die bome. Onthou, hulle blom tussen Mei en Julie.

Wat kan ek nog doen? Die woud is op die plaas Gannabos op die Rondekop-blomroete net buite Nieuwoudtville (in die rigting van Loeriesfontein) – in blomtyd is dit ’n gewilde sirkelroete van sowat 80 km. Gaan maak ook ’n draai by die Nieuwoudtville-waterval. 

Kontak Gannabos 027 218 1249; www.gannabos.co.za; www.nieuwoudtville.co.za.

Esma Marnewick

5. TSITSIKAMMAWOUD, Stormsriviermond

Woud van water

Tsitsikammawoud, Stormsriviermond. Foto: Dawie Verwey

Dis vroegdag en jy stap deur ’n kuswoud. Oranje swamme maak trappe op ’n dooie stomp. ’n Bosbok skrik uit haar lêplek op. Die rankplante rondom jou is speelplek van die blouape. Dan sien jy iets roois tussen die digte blare – ’n Knysnaloerie se vlamrooi ondervlerk! 

Net ’n entjie verder word jy begroet deur branders, dolfyne, walvisse (in die winter) en rotspoele met seesterre so groot soos ’n man se hand. Hoeveel plekke is daar waar inheemse woud, berg en see mekaar op só ’n dramatiese manier ontmoet?

Hoekom moet ek gaan? Die Tsitsikamma- nasionale park (wat sedert 2009 deel is van die groter Tuinroete- nasionale park) is die oudste mariene park in die land, maar hier kan jy ook vat aan die skilferbas van kalanders wat 1 200 jaar oud is. Of vóél die bostaaibos se vratjiestam en die knoesterige melkhout; hóór die reën in die Strandloperwoord “Tsitsikamma”... 

Wat kan ek nog doen? Snorkelduik by Stormsriviermond, gly soos ’n wafferse Tarzan tussen die bosreuse op ’n Tsitsikamma-boomtoptoer, bons in ’n tjoep af in die Stormsrivier, of rits met ’n 4x4 op die ou Stormsrivierpas – dit was toeka se tyd die migrasiepad van olifante. 

Hoe kom ek daar? Die afdraai na die park is sowat 68 km oos van Plettenbergbaai op die N2.

Kontak 042 281 1607; www.sanparks.org/parks/garden_route/ 

Carina Stander

6. HOGSBACK-WOUDE, Hogsback

’n Bos vol stories

Hogsback-woud, Hogsback. Foto: Dawie Verwey.

Oor die hele Hogsback troon hoë bome oor eetplekkies en weggesteekte kothuisies. Die erwe is gróót en dis dikwels moeilik om tussen dorp en woud te onderskei. Dis juis dié woude rondom Hogsback wat J.R.R. Tolkien glo geïnspireer het om The Hobbit en Lord of the Rings te skryf.

Hoekom moet ek gaan? Jy kan net deur die dorpie wandel en piekniek hou in die boomtuin onder Kaliforniese rooihoute wat meer 100 jaar oud is, maar daar is oral wandelpaadjies (hulle is met rooi bosvarkies gemerk) wat jou diep die bos in neem.

Roetes wissel van ’n paar kilometer lank tot ’n stewige dagstap.

Die Big Tree is een van die gewildste roetes. Ná 1,7 km sien jy Die Boom, ’n statige ou geelhout van 38 m wat sowat 800 jaar oud is, maar volg ook die varke  verder oor die klippers en ’n plankpaadjie tot by die bekende Madonna-en-kind-waterval. 

Wat kan ek nog doen? Superstappers kan die ses dag lange Amatolastaproete takel. Dié meneer van ’n roete (100 km!) begin naby King Williamstown en eindig ses dae later op Hogsback. Die landskap is groen en sag, en die uitsigte hoog en wyd.

En as jy hom klaargemaak het, kan jy maar jou bors lekker ver uitstoot.

Kontak www.hogsbackinfo.co.zawww.amatolatrails.co.za

Esma Marnewick

Waar is jou gunsteling-woud in Suid-Afrika? Deel dit op ons Facebook-blad of stuur 'n epos na digitaal@weg.co.za