Die Caprivistrook was eens ’n plek wat Suid-Afrikaners geken het omdat dit ’n oorlogsone was. Nou, dekades later, kan jy in dieselfde deel van Namibië – nou genoem die Zambesistreek – luilekker langs riviere kamp en vakansie hou. Boonop is hier ’n hand vol waarde-vir-geld reservate en doendinge – hier’s ons gids.



DEUR TOAST COETZER


1.  MAHANGO (4x2)


Die Mahango-wildreservaat lê aan die westelike oewer van die Okavangorivier net suid van Divundu. Hier is net twee wildkykpaaie in die park, maar dis veral die pad wat naby die rivier loop, waar jy baie wild sal sien. Leeus is skaars, maar olifante, buffels, kameelperde en vlaktewild nie. Skaars boksoorte soos swartwitpens en bastergemsbok word gereeld gesien, asook voëls soos lelkraanvoëls en bromvoëls.

Mahango se aantrekking is sy toeganklikheid – die rivierpad kan met enige kar gery word (behalwe in tye wanneer die Okavangorivier in vloed is). Die pad is kort, dus kan jy rustig ry, gereeld stop en jy het geen rede om te haas nie.

Hier’s ’n piekniekplek vir bene rek en jy mag ook by die Groot Kremetart uitklim (wees versigtig).

Hoewel die park nie enige kampe van sy eie het nie, is hier ’n rits puik blyplekke binne 20 minute se ry van die hek.


PLEKKE VAN BELANG:

Groot Kremetart GPS S18.20733 E21.74506

Kwetche-piekniekplek GPS S18.22260 E21.75318

Thingwerengwere-watergat (slegs 4x4) GPS S18.21392 E21.60713



2.  BUFFALO-SEKTOR (4x4)


Die BwaBwata- nasionale park is ’n enorme reservaat wat strek van die Okavango- tot die Kwandorivier. Die Buffalo-sektor is die deel van die park wat teen die oostelike oewer van die Okavangorivier grens. Dit kry sy naam van die ou militêre basis van 32 Bataljon, Buffalo.

Veral vir diegene wat belang stel in Suid-Afrika se militêre geskiedenis sal ’n besoek aan dié ou basis interessant wees, asook die oorgroeide begraafplaas. Jy mag hier uitklim en rondstap, maar dis op eie risiko. Onthou, hier loop leeus en olifante rond! Moet nooit ver van jou kar beweeg nie, en kyk altyd eers goed rond voordat jy uitklim.

Dis ’n sandpad en dik op plekke, maar volg die wildkykpad verder suid van die militêre basis, al teen die rivier af. Groot troppe olifant word gereeld gesien, asook swartwitpense en – as jy werklik gelukkig is – dalk selfs ’n luiperd.


PLEKKE VAN BELANG:

32 Bataljon GPS S18.10946 E21.67086

Begraafplaas GPS S18.16059 E21.73043

Miershoop-uitkykpunt GPS 18.17673 E21.73961


Evan Naudé


3.  HORSESHOE BEND (4x4)


Die sandpad wat rofweg die westelike oewer van die Kwandorivier volg, is slegs vir 4x4-entoesiaste. Hierdie deel van die BwaBwata- nasionale park word selde besoek, hoewel van die lodges aan die ander kant van die rivier soms wildkykritte aanbied.

Die mooiste plek om te sien hier is Horseshoe Bend, ’n groot hoefysterdraai in die rivier. As dit jou dag is, kom 50 olifante water drink terwyl jy in die skaduwee van ’n boom sit en toebroodjies eet!

PLEKKE VAN BELANG:

Fort Doppies (ou reccebasis) GPS S17.81989 E23.31537

Horseshoe Bend GPS S17.90088 E23.28806



4.  Koop in KONGOLA (4x2)


Kongola is ’n piepklein dorpie waar jy darem gewoonlik kan brandstof ingooi, ’n koue koeldrank koop en dalk gebraaide hoender kan eet. Maar hier is ook twee aandenkingswinkels wat die moeite werd is om by te stop. Kongola Craft Centre is in privaatbesit en die nuwer Mashi Crafts Trading Post is ’n gemeenskapsprojek.

Hulle is reg langs mekaar – vat jou tyd en stap rustig deur, en vergelyk prys en vakmanskap (elke kunstenaar se werk lyk anders). Soek iets spesiaals uit – hier is meestal houtbeeldjies van diere, asook tipies Caprivi-aandenkings soos mini-mokoro’tjies.

Pryse hier is in die algemeen laer as wat jy gaan teëkom by groter toeristebestemmings elders op jou roete: koop slim, koop nou!

WAAR? Draai af van die B8 op die C49 suid – dis onmiddellik op linkerhand.


Evan Naudé


5.  MUDUMU EN NKASA RUPARA (4x4)


Hierdie twee klein parke is wild, met min tot geen infrastruktuur: sandpaaie, ’n paar ruwe kampe en ’n ontvangskantoortjie. Mudumu is die maklikste om by uit te kom as jy iewers langs die Kwandorivier bly (sien bl. xx). Sommige lodges bied ook wildkykritte aan indien jy nie jou eie 4x4 het nie.

Nkasa Rupara (voorheen bekend as Mamili) se toegangspad is onlangs verbeter – met ander woorde, iemand het die brug reggemaak. Dieper die park in sal jy self nog deur die water moet ry (nes in Moremi) – die park grens aan die Linyanti-moerasgebied. Dis hier waar die Kwandorivier vervaag en die Linyanti word, wat op sy beurt verder na die ooste die Choberivier word.

Dit is die afgesonderdheid wat hierdie twee parke vir die wildernisliefhebber aanloklik sal maak.

PLEK VAN BELANG

Seekoeipoel (Mudumu) GPS S18.18058 E23.45247



6.  ZAMBESIRIVIER (4x2)


Ja, die Zambesirivier grens aan Namibië! Dit beteken jy het van Katima Mulilo direkte toegang tot een van Afrika se grootste riviere. Die lodges teen die rivier bied almal visvang (tiervis!) en bootvaarte (verbeel jou jy’s op die Chobe), en voëlkykers se lysies gaan wip van die regmerkies.

Indien jy haastig is, gaan drink ten minste ’n koppie koffie by die Protea-hotel (aan die buitewyke van Katima Mulilo) se stoeprestaurant waar jy ’n uitsig oor die rivier het.

PLEK VAN BELANG

Protea Hotel Zambezi River Lodge GPS S17.48657 E24.28623



7.  SCHUCKMANNSBURG (4x2)


Schuckmanns-wáár? Om eerlik te wees gebeur daar bittermin op Schuckmannsburg om oor opgewonde te raak. Maar dis daar, op die kaart – en daarom moet jy gaan kyk wat daar aangaan. Koop ’n koeldrank en gaan sit onder die boom. Dink ’n bietjie oor die lewe, en ry dan weer weg.

Toe die Duitsers destyds die Caprivistrook by hulle kolonie gevoeg het, was die plan om die Zambesirivier vir skeepsvaart te gebruik. Schuckmannsburg sou hulle hawe gewees het. Wel, dit was nie ’n baie goeie plan nie – want hoe kry jy nou ’n boot verby die Victoriawaterval?

Daarom is Schuckmannsburg nou vergete. Dinge is egter besig om te verander. Hoewel jy soms net met ’n 4x4 hier kan uitkom (wanneer die vloedvlakte van die Zambesi oorstroom), is hulle besig om ’n teerpad na Schuckmannsburg te bou. Wie weet hoekom – dalk het iemand weer planne...

WAAR? Daar is afdraaibordjies van die B8 tussen Katima Mulilo en Ngoma-grenspos, maar volg eerder die stemmetjie: GPS S17.55047 E24.81468


Evan Naudé


Hierdie artikel het oorspronklik in ons Botswana-kaartgids verskyn. Klik hier en koop die digitale uitgawe.