Kaart
Kaart

Kyk, dit ís vet pret om vroegoggend die koelboks, sambrele, handdoeke, emmers-en-grafies, beach bats en gazebo in die kattebak te laai en strand toe te mik vir die dag. Jy kies ’n lekker kol, plant jou sambreel en slaan jou leesboek oop. Die kinders jol op die sand of in die branders en kom pla jou net as hulle honger is. (Of die roomysverkoper gewaar het. – Red.)

Die enigste haakplek is, dis wat álmal wil doen, en daarom raak die gewilde strande propvol oor die feestyd. Op só ’n vreeslik oorvol strand kan dit soms voel asof ’n mens deur die mall probeer beur!

Ons het ’n paar strande gaan soek waar jy en jou sambreel alleen kan wees. Ja, daar is strande wat selfs in Desember stil is.

Ons het ’n paar strande gaan soek waar jy en jou sambreel alleen kan wees.

Hierdie strande is gewoonlik in ’n natuurreservaat, moeilik om by uit te kom, nie swem- vriendelik nie of bloot minder bekend. Hoe dit ook al sy, dis die soort strand waar daar meer meeue as mense is.

Scottburgh

Greenpoint

Jy gaan sukkel om in seisoentyd ’n stil strand langs KwaZulu-Natal se Suidkus op te spoor. Wel, Greenpoint is aan die stillerige kant...

Dié strook sand lê rofweg tussen die dorpie Clansthal, met net ’n hand vol huise, en die kusdorp Scottburgh.

Kom span hier uit en vermy Scottburgh en Umkomaas se skares. As die kinders meer aksie soek, vat hulle vir die dag Crocworld (crocworld.co.za) toe of huur ’n stand-up paddle en roei af met die Mahlongwarivier wat net noord van Scottburgh uitmond.

Waar? Ry van Scottburgh af noord op die R102 en draai af op Greenpointrylaan; ná sowat 600 m is ’n klein parkeerterrein links.

– Luke Patterson 

Dwarskersbos

Rocherpan-natuurreservaat

Dié strand is nie die soort plek waar jou kinders in die vlak watertjies baai en krappe in rotspoele soek nie. Dis ’n wildwoeste strand met trekstrome en meeue wat eensaam krys.

Jy deel die strand met ’n paar hengelaars – dis meestal plaaslike mense wat elf, leervis en kabeljou uittrek. Hier is ook ’n yslike kolonie duikers, wat altyd ’n ordentlike afstand handhaaf.

Dis mooi om te sien hoe die voëls soos ’n eskader vegvliegtuie opstyg en oor die branders vlieg elke keer wanneer jy te na aan hulle kom – dit sorg vir ure se vermaak vir die kinders.

Waar? Dié natuurreservaat is sowat 25 km noord van Velddrif op die R27. 

Kontak: 079 203 1092; capenature.co.za

Sedgefield

GOUKAMMA- NATUURRESERVAAT

Hoë duine begroei met kuswoud en -fynbos is jou agtergrond op dié strand wat deel vorm van ’n mariene beskermde én ’n Wêrelderfenisgebied. Bedags skarrel swarttobies oor die rotse en snags fynkam ystervarke en ratels die strand op soek na kos. Plek-plek lê skulphope, volstruiseierdoppe en potskerwe, wat bewys die Khoisan het lank gelede hier gelewe.

Stompneus- en bultrugdolfyne baljaar heeljaar in die branders, en in die wintermaande kruie bultrug- en suidelike noorkapperwalvisse verby. Stap 12 km langs die strand, hengel, of swem in die see of in die Groenvlei of Goukammarivier.

Stompneus- en bultrugdolfyne baljaar heeljaar in die branders, en in die wintermaande kruie bultrug- en suidelike noorkapperwalvisse verby.

Waar? Dié reservaat lê tussen Sedgefield en Buffelsbaai. Daar is twee toegangspaaie van die N2 af. 

Kontak: 021 483 0190; capenature.co.za

– Peter Chadwick

Plettenbergbaai

ROBBERG- NATUURRESERVAAT

Van die Robbergskiereiland af kan jy van hoë kranse af kyk hoe robbe in die turkoois seewater baljaar, soek na rooiborsruigtesangers in die fynbos, en grotte verken waar ons voorsate in die Steentydperk gewoon het! Én jy kan sonbaai soos Robinson Crusoe!

Hier’s ’n paar staproetes, maar jy wil eintlik beach! Stap tot by The Gap (die deel waar Robberg op sy smalste is) en kies kortpad na Die Eiland, waar daar ’n mooi wit strand aan die voet van die Witsandduin lê. Dis ’n bietjie meer as ’n uur en ’n half se stap tot hier. Sprei jou strandhanddoek hier oop, plant jou sambreel en wag vir iemand om jou te kom soek.

Waar? Dié reservaat lê sowat 8 km suid van Plettenbergbaai se middedorp. Volg Robbergweg tot hier.

Kontak: 044 533 2125; capenature.co.za

– Pierre Steyn 

Addo-olifant- nasionale park

WOODY CAPE

Teen 57 km is die strand in die Woody Cape-deel van die park een van die langste strande ter wêreld. En dit loop al langs een van die grootste duinevelde in die Suidelike Halfrond!

Dolfyne, walvisse, withaaie, Kaapse pelsrobbe en brilpikkewyne baljaar in die see. Swarttobies en damarasterretjies hou op die strand. En die kuswoud vol geelhoutbome neurie die deuntjie van bos- en Knysnaloeries. Glo dit of nie, jy gaan waarskynlik die enigste mens in die see van duine wees.

Waar? Ry van Colchester af op die R72 in die rigting van Alexandria, draai regs by die Woody Cape-bordjie en ry tot by ontvangs.

Kontak: 046 653 0601 (Woody Cape); 042 233 8600 (Addo); sanparks.org

– Scott Ramsay

Morganbaai

DWESA-CWEBE- NATUURRESERVAAT

Vroegoggend gooi die son se strale liggeel strepe op die reuserotsplate wat net sigbaar is met laagwater. In die kuswoud teen die strand bars die oggendorkes van janfrederikke, gewone boskraaie en Natallysters los.

Ligpienk spookkrappe skarrel in hulle gate in en as jy gelukkig is, sien jy ’n Kaapse otter net voordat hy die water induik. Ja-nee, dis sekerlik hoe Adam gevoel het daai eerste paar dae...

Waar? Dwesa is langs die Wildekus sowat 60 km noord van Morganbaai.

Kontak: 043 492 0883; visiteasterncape.co.za

– Peter Chadwick

Port Edward

MKAMBATI-RESERVAAT

Hierdie reservaat is doer bo in die noorde van die Wildekus – dis wyd se ry. Trouens, dis so wyd, hier kom nie sommer ’n dagbesoeker nie.

Hier kry jy riviere, watervalle, klowe, grasvelde, woude en afgeleë baaitjies. Dis ook een van die min plekke op aarde waar ’n waterval direk in die see tuimel.

Te voet is die beste manier om die reservaat te verken. Pak dus versnaperinge in ’n dagrugsak en stap tot waar jy dink dit die mooiste is.

Waar? Soos die kraai vlieg, is die reservaat sowat 25 km suid van Port Edward, en padlangs 185 km.

Kontak: Mkambati: 087 285 7752; 082 452 5078; visiteasterncape.co.za; Mtentu: 083 805 3356; mtentulodge.co.za

– Scott Ramsay