Om buite te wees het soveel voordele: skoon lug, mooi berge, welige woude, koel stroompies, plus ’n tyd sonder tegnologie (en jou kollega…). Maar nie alle kampterreine het kombuise of winkels op die perseel nie. Moenie dat dit jou afsit nie. 

1. Sommige kampplekke het ’n winkel wat ’n paar basiese bestanddele aanhou, maar vars groente en suiwel is dalk skaars. Koop jou droë bestanddele by die huis en vars produkte op die naaste dorp.

2. Beplan jou etes vooraf en sorg dat jy met een keer se kosmaak ook genoeg het vir die volgende middag se ete. 

3. Meet jou brood, speserye en droë bestanddele vooraf af en bêre dit in Ziploc-sakkies waarop jy met ’n koki-pen die res van die resep skryf.

4. Groente en vrugte wat normaalweg goed buite die yskas in papiersakke hou, is avokado’s, appels, suurlemoene, tamaties, kool, pampoen, soetpatat, aartappels en uie. Voer ’n piekniekmandjie uit met bruinpapier en vervoer dit daarin. 

5. In die yskas sal wortels, soetrissies, heel Iceberg-blaarslaai, eiervrug, komkommer (ongesny), beet en blomkool die langste hou. Draai alles in waspapier en dan in kleefplastiek toe om dit droog te hou. Dit sal langer hou.

6. Blikkies vis en groentekos met uie en speserye is nuttig, veral as jy iets vergeet het. 

7. Maak só met vars vleis: Laat vakuumverpak die vleis of pak dit in Ziploc-sakkies en druk al die lug uit. Draai toe in 2 lae koerantpapier en vries kliphard. Pak dan ’n laag eierbokse in jou koelboks. Draai die vleis met nog ’n laag koerantpapier toe en pak in die koelhouer. Pak hard gevriesde ysblokke bo-op. Moenie die houer oopmaak nie – dit sal minstens 24 uur lank hard gevries bly.

Foto: Toast Coetzer