Paramedici praat van die “goue uur”, die 60 minute net ná ’n ongeluk waarin ’n lewe óf gered óf verloor word. Maar wat as dinge ver van die naaste dorp skeefloop en die nooddienste ver weg is?

As jy ver is van die beskawing en mediese hulp, is die eerste mense wat by ’n ongelukstoneel opdaag, of diegene wat betrokke was maar nie beseer is nie, dikwels diegene wat beseerdes moet stabiliseer terwyl hulle vir mediese hulp wag. Jy’s dalk selfs die een wat hulle by ’n hospitaal moet kry. Maar wat moet ’n mens doen as jy eerste op die toneel is? En net so belangrik, wat moet jy nié doen nie? 

Ons het by twee traumakenners om raad gaan aanklop. Chris Viljoen is ’n Potchefstromer met meer as 12 jaar se ondervinding in ambulans- en nooddienswerk en dr. Jacques Malan is ’n traumaspesialis en Weg Ry & Sleep se Bosdokter. Hulle het 9 stappe:

1. Jou eie veiligheid eerste.

“Ek het al soveel keer gesien dat ’n barmhartige Samaritaan by ’n ongelukstoneel doodgery word omdat hy nie veilig geparkeer het nie,” sê Jacques, en Chris stem saam. “As jy op ’n ongeluk afkom, ry verby die toneel en parkeer ’n entjie verder lángs die pad,” sê Chris. “Motoriste vergaap hulle mos aan ongelukke.” As jy op ’n onveilige plek, soos reg agter die ongeluk, stilhou, tref ’n ander voertuig joune en word jy of jou gesin dalk deur julle eie voertuig doodgemaak.

“As jy in die pad móét parkeer, parkeer jou voertuig teen ’n 30 grade-hoek,” sê Jacques. “Dit dien eerstens as ’n buffer, en as ’n ander voertuig wel daarin vasry, sal dit nie al die impak absorbeer nie.”

As jy ’n glimbaadjie of ligte hemp of baadjie het, trek dit aan, en sit jou voertuig se flikkers en ligte aan, sê Chris.

2. Vind uit wie kan help.

“Ek vra altyd op die toneel wie het mediese kennis. Daar is dalk net iemand met noodhulpervaring,” sê Chris. As jy in ’n konvooi ry, sê Jacques, moet jy aan die begin van ’n reis reeds vasstel watse noodhulpvaardighede in die groep bestaan.

“Piet het dalk ’n noodhulpkursus gedoen en Johan se vrou was ’n suster. Maak seker iemand, verkieslik die konvooileier, is bewus hiervan. Voorbrand is altyd die beste.” 

3. Bekyk die beserings.

Verdeel die beserings in drie groepe – P1, P2 en P3, sê Chris (nooddienswerkers praat van triage). P1 is die ernstigste beserings, diegene met erge bloeding wat die gouste kan sterf. P2 is mense met asemhalingsprobleme. P3 is beserings soos beenbreuke, wat ernstig is maar nie dodelik nie.

“Mense wat skree, het gewoonlik minder ernstige beserings. Daai ou wat doodstil in ’n plas bloed lê, dáár is fout,” sê Chris.

4. Kontak die nooddienste.

Laat die persoon met die kaartjie die beserings en voorval sistematies (volgens die Methane-metode) oor die radio of foon kommunikeer.

5. Stop die bloeding.

Kry ’n breë verband op skeurwonde, sê Jacques, en pas aanhoudende druk toe. Lang, diep snywonde kan met die hande toegeknyp word. “Mense gee dikwels te gou moed op. Jy kán bloeding uit dié soort wonde met drukking stop as jy dit lank genoeg toepas.”

6. Kry die lugweë oop.

P2-pasiënte kon hulle eie tonge ingesluk of afgebyt het van die skrik, of los tande in hulle lugweë hê. Sit jou duim op die persoon se ken en jou voorvinger onder die neus. Beweeg die vingers dan weg van mekaar. Sodra jy die mond oop het, kan jy kyk of daar enige obstruksie in die mond of lugweg is. Jy kan dit probeer uitvis, maar moet nooit in iemand se mond krap as jy nie kan sien wat daar aangaan nie, waarsku Chris.

“Jy kan per ongeluk iets verder in sy lugweg afstamp.”

As jy sien die persoon het ophou asemhaal, probeer KPR toepas.

7. Behandel die breuke.

In baie gevalle kan ’n P3-pasiënt wag vir hospitaalsorg. “Maar as jy nou regtig niks anders het nie, kan jy ’n gebreekte been met ’n opgerolde vloermat en ’n gordel spalk,” sê Chris. “’n Wielsleutel is ook ’n stewige spalk en ’n ruitveër sal ’n arm reguit hou.” 

As ’n persoon kla oor nekpyn of ander moontlike breuke wat jy nie kan sien nie, soos ’n pelvisbreuk, moet jy hulle slegs beweeg as dit noodsaaklik is, soos wanneer die voertuig brandstof lek of in diep water is. Maak hulle eerder gemaklik in die sitplek terwyl jy vir die nooddienste wag.

“As dit ’n voorste passasier is, sit agter die persoon, hou hulle kop teen die kopstuk en verstel die stoel stadig agteroor. Ek het al een van daai blink sonskerms, wat soos ’n konsertina opvou, suksesvol gebruik om so ’n persoon se nek te stut. Jy draai die opgevoude sonskerm liggies om die nek en bind dit agter met iets vas.”

Jacques het ook ’n blink noodoplossing: “Ek rol ’n ou kombers met die punte na mekaar tot hy so 30 cm breed is. Dan gly ek dit onder die beseerde se nek in en bind dit met kleefband vas.”

As die persoon geskuif moet word, kan ’n branderplank of tafelblad ’n stabiele draagbaar word. Jy kan die persoon ook stewig saam met die blad in ’n kombers toedraai. Só skuif en skud hulle minder rond agter in die bakkie as jy hulle hospitaal toe moet jaag, sê hy.

8. Help enigiemand in skok.

Kyk vir simptome soos bewerasies, ’n klam vel, borspyn, lighoofdigheid en naarheid. Kry dié mense se bene effens in die lug, sê Jacques. Dit help met bloedsirkulasie. 

Volgens Chris toon die jongste navorsing dis nie ’n goeie idee om mense in skok so warm as moontlik te probeer hou nie. “Dit klink dalk vreemd, maar onthou dat hoe kouer ’n beseerde persoon kry, hoe langer hy of sy sal oorleef, omdat hulle metabolisme as’t ware ook ‘afgekoel’ word.”

9. Maak seker die beseerdes is gemaklik.

As jy die ergste krisisse onder beheer het, kan jy seker maak dat al die beseerdes gemaklik is. Kry hulle uit die son of reën en maak seker hulle sit of lê gemaklik. ’n Opblaasmatras werk goed op die toneel as jy mense moet vervoer, sê Jacques. 

TOPWENK:
“As die ander bestuurder jou op die toneel vra of jy seergekry het, sê jy weet nie en dat jy eerder sal wag vir ’n mediese ondersoek. Jy kom dit dalk eers later agter as die adrenalien uitgewerk het.”