Die reën het my en Chris soos ’n jaloerse minnaar agtervolg, nege maande lank. Van Grabouw tot by Graskop is ’n sluier oor die landskap getrek, wat ons gedwing het om binnenshuis skuiling te soek terwyl ons eerder buite wou wees.


Wat het ons besiel om in Junie te vertrek? Nee, nugter weet. Boonop is ons reis met ’n week  vertraag omdat dit langer gevat het om ons twee ou LML-poegies – dis “nagemaakte” Vespas wat in Indië vervaardig word – vir die langpad toe te rus.

Ons plan was eenvoudig: Om Suider-Afrika te deurkruis en oral langs die pad vrywilligerswerk by omgewings- en gemeenskapsprojekte te doen. Ons sou sover moontlik kamp of in backpackers oornag.

Die dag van ons vertrek het uiteindelik aangebreek: Sterk wind het die see waansinnig omgeklits en die reën het neergegiet. Met al die beplanning wat al gedoen is, was ons by omdraai verby.

Die rit deur die Koninklike Jozini- private natuurreservaat in Swaziland was omtrent opwindend – veral omdat ’n sebra of olifant enige oomblik in die pad kan verskyn!


Ons hét mos avontuur gesoek!

Die langpad het ons naam op, en geen weer kan ons keer nie. Vir ons bekommerde ouers moet dit nogal ’n prentjie wees om te sien hoe ek en Chris – albei groentjie-motorfietsryers! – in ons geel reënpakke en met kamptoerusting oral aan die bromponies vasgebind, by die huis wegry.

Op die eerste dag moet ons oor Sir Lowryspas, en my ysige vingers is baie gou ’n bewys dat my handskoene nie waterdig is nie.

Deurweek maar darem nog nie wanhopig nie, kom ons by die Grootbos- private natuurreservaat naby Gansbaai aan. Dis ’n pragtige plek met plate fynbos. Die reservaat bestuur ’n uitstekende projek, Future Trees, waarmee 1 500 melkhoutboompies al aangeplant is.

Ons loer ook in op die nabygeleë Farm 215 by die Koudeberg Centre for Appropriate Rural Technology (CART) – ’n laboratorium vir omgewingsvriendelike landboupraktyke  en ’n volhoubare lewenswyse. Die een aand teen skemer gaan ry ons deur Platbos daar  naby. Van die bome wat in dié gevestigde kuswoud groei, is ouer as ’n duisend jaar. 

Met agterpaaie langs ry ons tot in ’n winderige Kaap Agulhas (’n foto by die mees suidelike punt van Afrika is mos verpligtend!). By Swellendam maak ons ’n draai by ’n permakultuurplaas, waarna ons die poegies oor die berge stuur tot in ’n bibberkoue Klein-Karoo. Langs Roete 62 moet ek drie lae termiese onderklere oor mekaar dra! 

By Oudtshoorn draai ons terug kus toe, en op pad Mosselbaai toe sak die reën weer uit. ’n Paar aande in die Tuinroete kan ons darem die kampgoed op die fietse los – die permanente tente in die boomtoppe by Teniqua Treetops (naby Sedgefield) en die Wild Spirit Backpackers op Plettenbergbaai is ’n welkome afwisseling. Daarna moet ons in die Baviaanskloof maar weer tent opslaan terwyl die wind te kere gaan soos ’n klein kindjie wat ’n vloermoer gooi.

Ander elemente laat ons ook les opsê: ’n Sandpad buite Steytlerville maak dat ons skemeraand sonder brandstof gaan staan, maar gelukkig kom ons gasheer by die Noorspoort-gasteplaas tot ons redding met ’n kan petrol.

Maar ons mag nie kla nie – ons wóú mos ’n avontuur hê!

Melissa koop ’n stukkie (modderige!) grond. ’n Bromponie mag dalk houding hê, maar hy is nog lank nie ’n veldfiets nie.

Daar is iets goeds in alles

Ons volg nie ’n logiese roete nie, maar ry heen en weer soos wat ons langs die pad van projekte hoor wat interessant klink. Dié benadering laat ons soms op baie slegte modderpaaie beland, maar ons druk deur – soms met ’n paar valle en soms met swierige op-die-nippertjie esse soos James Bond.

En oral kom ons mense teë wat ’n verskil probeer maak: Skoolhoofde wat hulle skoolterrein in selfonderhoudende plasies omskep het; skole in dorre gebiede wat elke druppeltjie water herwin; kinders wat só geïnspireer word deur hulle skool se groentetuin dat hulle selfs oor naweke kom skoffel en onkruid uittrek. Om nie te praat van die ongelooflike tegnologie nie: ’n Boorgatpomp wat aangedryf word deur ’n rondomtalie, en nog ’n ander pomp wat die energie van ’n waterval gebruik om daagliks 18 000 liter water na afgeleë dorpies te herlei.

Ons ry deur townships, met sinkplaatpaaie langs na dorpies wat nie eens op die kaart is nie, en sukkel selfs deur vleie en dik sand. Nadat ek soveel dae permanent deurnat was, doen ek in die Sederberg sonsteek op – en val telkemale weens duiseligheid van my bromponie af. 

In die ou Transkei volg ons roetes waar die meeste 4x4’s dit nie eens sal waag nie, met diep slote op die rand van die pad wat ’n poegie se einde sal beteken as jy oor die rand sou jaag. O, en in die Timbavati-reservaat slaap ons in ’n skuiling wat niks meer as ’n platform in ’n boom is nie – en daar is leeus in Timbavati!

Teen die tyd dat ons by die Golden Gate- nasionale park aangekom het, kon ons die tentjie al toe-oë opslaan.

Dit is nie net landbouprojekte wat ons beïndruk nie. Ons ontmoet ook mense wat betrokke is by natuurbewaring. Een spesifieke toneel in die Welgevonden-reservaat in die Waterberg sal ek nooit vergeet nie: Jennifer Marlton, ’n gids, gaan wys ons twee renosters wat probeer paar. Die poging is reg van die begin af ’n mislukking: Die bul is doodgewoon te groot en die koei toon geen belangstelling nie. So komieklik as wat hierdie toneel is, soveel onstem dit my as ’n mens dink in watter benarde situasie ons renosterbevolking is.

Die landskappe waardeur ons toer, lyk byna daagliks anders – van die Natalse Middelland tot Johannesburg. En saam met ons bewondering vir hierdie mooi land neem ons ontsag net toe vir wat mense alles in hulle plaaslike gemeenskappe vermag: Die 188 kostuine op die dorpie Khula by St. Lucia is maar net een voorbeeld hiervan.

In die nege maande wat ons op die pad was, het ek en Chris wýd gaan draai: Ons was in Swaziland en Mosambiek, voordat die twee poegies weer suid gemik het Mpumalanga en Limpopo toe. Daarna het Noordwes gevolg, die Kalahari, Upington, Namakwaland, die Sederberg... en toe kom ons uiteindelik, ná  15 000 km, weer op Somerset-Wes aan.

In die Natalse Middelland het Melissa en Chris drie dae aaneen in die reën gery.
 * Die grootste deel van die reis was ter ondersteuning van die NRO Food & Trees for Africa, wat kostuine by skole in lae-inkomstegemeenskappe vestig. Besoek trees.co.za 



Hierdie artikel het oorspronklik in Weg (Augustus 2013) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien. 

Lus vir vakansie?
Gebruik die Afrikaanse soekenjin www.wegreis.co.za om vliegkaartjiepryse vir binne- en buitelandse vlugte te vergelyk. Teken in vir die nuusbrief om koeponkodes te ontvang vir afslag op enige binnelandse- of buitelandse bespreking (geldig tot 31 Maart 2020)!